Wat’s Nuus?

Ek het al genoem dat ek nie veel ooghare vir Biografieë het nie.  Ek moet egter erken dat ek my tande vir die boek geslyp het vandat ek die eerste keer daarvan gehoor het.  Riaan Cruywagen was immers ‘n bekende op Televisie (en Radio!) lank voordat ek gebore is. 

Agter op die boek is daar ‘n mening van Leon van Nierop dat die boek neerkom op ‘n kaggelvuur kuier met rooi wyn.  (Ek kan nie nou die presiese woorde onthou nie).  Nadat ek die boek gelees het, moet ek hom gelyk gee. 

Cruywagen het nog altyd by my die indruk geskep dat hy puntenerig is, maar tog met ‘n fyn humorsin.  Dit word nogal in die boek geonderstreep.  Dit is ‘n boek van sy lewe – nie hoe hy daardeur gewroeg het nie, maar goed wat hom duidelik na aan die hart lê en die vriende wat hy oor die jare gemaak het.  Om van die Cruywagen familietrots nie te praat nie. 

Dalk kan ‘n mens dit beter beskryf as ‘n samevatting van al sy staaltjies.  Daar was beskrywings wat my laat skreeu het van die lag.  Natuurlik kan daar na 47 jaar in die uitsaaiwese nie net goeie herinneringe wees nie.  Tog is daar nêrens in die boek ‘n moddergooiery nie.  Nie eers nadat die SABC hom en van sy kollegas onder die agterent geskop het nie. 

Dit is duidelik dat daar goed is wat Cruywagen bloot net nie aanstaan nie.  Hy is byvoorbeeld baie driftig oor mense wat nie goeie Standaardafrikaans gebruik in die media nie.  ‘n Irritasie wat ek met hom deel (hoewel ek redelik seker is dat hy nie my Afrikaans sal waardeer nie).  Hy vertel byvoorbeeld hoe iemand gesê het dat goeie taalgebruik dit is wat nuuslesers gebruik.  Van die SAUK kan vandag baie gesê word, maar hulle doen nogtans moeite dat hulle nuuslesers se taal onberispelik is. 

Wat nogal ‘n indruk op my gemaak het, is hoe hard die Cruywagen gesin gewerk het om te kom waar hulle vandag is.  Daar was nie terug gesit en gewag vir almoese nie.  Nee, daar was ingespring en gewerk.  Die storie wat seker in baie Afrikaanse gesinne weerspieël kan word. 

Hierdie was ‘n boek wat ek terdeë geniet het. 

Toevallig het Rapport vandag ook ‘n resensie oor Wat’s Nuus gehad.

Posted in Biografies, Riaan Cruywagen | Lewer kommentaar

Die Staat teen Anna Bruwer

Ek was die eier wat gesweer het dat ek nooit weer ‘n boek van Anchien Troskie gaan koop tensy ek dit eers gelees het nie.  Verlede week vind ek toe uit dat daar ‘n opvolg op “Dis ek, Anna” is en natuurlik is ek toe nuuskierig.  Die heel naweek mik ek om dit te gaan soek, maar staan elke keer sterk.  Sondag dwaal ek toe by Exclusive in en skielik spring dit in my hand.  Ek kon dit nie afkry nie en koop dit toe met ‘n paar dreigemente aan Troskie vir as ek my geld mors. 

Ek besluit toe om net ‘n gevoel van die boek te kry voordat ek gaan slaap.  Net so ‘n paar bladsye net om die te sien watter rigting dit inslaan.  Twee en ‘n half uur later (insluitende ‘n paar kruisverwysings) het ek die laaste bladsy gelees.  Troskie het ‘n gemaklike skryfstyl en lees baie maklik.  Die boek het dit weer bewys. 

Daar was ‘n paar goed wat gepla het.  In die eerste boek kan ‘n mens maklik uitwerk wanneer sy gebore is.  Om een voorbeeld te noem – sy het in 1984 16 jaar oud geword.  Dit beteken sy is in 1968 gebore.  “Die staat teen Anna Bruwer” speel in 2004 af en daar word verskeie kere genoem dat Anna 30 jaar oud is.  Onmoontlik – selfs as ‘n mens 1 of 2 jaar plus/minus.  Verder het ek die woord vergiffenis hinderlik gevind, maar dit is ‘n woord volgens die HAT.  Dit is dus my probleem, nie die skrywer s’n nie. 

Die skrywer herinner mens in die begin en einde van die boek dat dit net fiksie is.  Daar is dus goed wat nie heeltemal ooreenstem met realiteit nie.  In die sin dink ek dalk dat die boek dalk ‘n bietjie oor optimisties geskryf is.  Die staatsaanklaer kon volgens my baie meer vernynig gewees het.  Dit kon ‘n groter gestoei van morele waardes gewees het. 

Ek het egter baie van die boek gehou.  As die wêreld nou maar eenmal so gewerk het, het ons op ‘n beter plek gewoon.  Geregtigheid het geseëvier en boontjie het sy loontjie gekry.  Ek is natuurlik ‘n leek, maar ek dink die verskil was dat Troskie net haar storie vertel het.  Sy het nie probeer diep wees nie en het dus nie daarmee misluk nie.  Daar is wel ‘n paar belangrike lewenslesse verskuil. 

Ek beveel dit aan as ‘n lekkerlees boek.

Posted in Anchien Troskie, Hofdrama | 2 Kommentaar

Daughter of Tremar

“Daughter of Tremar” – Annie Marks

Dis ‘n stokou boek wat reeds in 2000 geskryf is, so ek weet nie hoe beskikbaar dit nog is nie, maar ‘n heerlike lekkerlees storie.

Julia Drake word deur haar pa in ‘n gestig gesit omdat sy buite-egtelik swanger geraak het. Daar verduur sy die ergste mishandeling denkbaar. In 1938, net voor haar moeder sterf, ontbied laasgenoemde haar dokter en beveel hom om te gaan ondersoek instel na die dogter, wie toe reeds 23 jaar in die gestig is. Hy vind ‘n persoon wat 100% by haar positiewe is. Sy word vrygelaat en na haar ma se dood, keer sy terug na hulle huis as enigste erfgenaam van ‘n baie groot erfenis.

In die storie is die getroude dokter, pa van 2 kinders, maar hoogs verlief op Julia. En daar is die man wat verantwoordelik was vir haar “toestand” en ook die mishandeling wat sy gekry het. Annie is ‘n baie arm dogter wat erge mishandeling verduur en op ‘n baie interessante manier met Julie te doen kry. Minnie is ‘n bejaarde vroutjie uit die inrigting wie eintlik haar enigste vriendin was.

En dan is daar Matt, die bestuurder van haar eiendom… :lol:

Posted in Annie Markes | Lewer kommentaar

Fasting

Ek kan nie onthou of die belangrikheid van VAS al ooit in ons kerk genoem is nie. Tog is dit iets wat die laaste tyd aanmekaar aan my kom krap. Hierdie boekie lees vinnig en  beskryf hoekom dit belangrik is om te vas. Hy gee Bybelverwysings van beide die Ou en die Nuwe Testament, en wys daarop dat Jesus ook gevas het.

Alhoewel hy hier en daar iets noem wat baie vreemd voel vir my, en waarmee ek nie noodwendig saamstem nie, is dit tog ‘n goeie boek om te lees.

Posted in Christelike boeke, Derek Prince | Lewer kommentaar

I dared to call Him Father

“I Dared to call Him Father” deur Bilques Sheikh is ‘n ongelooflike verhaal van ‘n Moslemvrou se bewuswording van God, haar bekering, haar totale gehoorsaamheid aan Hom en die veranderinge wat in haar lewe plaasgevind het.

Dis al ‘n ouerige boek, maar as jy dit nog nie gelees het nie, wil ek dit graag aanbeveel.

Posted in Bilques Sheikh, Christelike boeke | Lewer kommentaar

The Case for the Real Jesus

“The Case for the Real Jesus” deur Lee Strobel.

‘n Blogvriend het my verwys na hierdie boek. Lee Strobel, ‘n baie hoog-aangeskrewe joernalis van die Chicago Tribune was voorheen baie skepties oor die Bybel, Jesus en al die gebeure wat opgeteken is in die Bybel. Hy doen ‘n in-diepte ondersoek oor ‘n klomp netelige kwessies. Soos… Wat van die ander geskriftedwat gevind is wat ‘n ander verhaal skets? Kan ons die beeld van Jesus soos in die Bybel beskryf vertrou? Het die Kerk nie daarmee gepeuter nie? Was Jesus se opstanding regtig? Moet mense nie die geleentheid gegee word om self te besluit wat hulle wil glo nie?

Dis werklik ‘n insiggewende boek en ek wil dit graag aanbeveel vir enige iemand wat twyfel of dit wat in die Bybel staan, werklik waar is.

Posted in Christelike boeke, Lee Strobel | Lewer kommentaar

Wie Met Vuur Speel – Deon Meyer

Ek hoor al die afgelope paar jare van die uitmuntende spanningsverhale wat deur Deon Meyer geskryf word, maar vir een of ander rede het ek eers onlangs kennis gemaak met die man se skryfkuns toe my skoonsuster vir Orion in my hand gedruk het.

Nie lank daarna nie gee sy vir my Wie Met Vuur Speel en 13 Uur met die aanmaning om eers Wie Met Vuur Speel te lees, want sommige beskou 13 Uur as Deon Meyer se beste spanningsverhaal tot dusver. ‘n Tipiese los-die-beste-vir-laaste benadering.

So gesê so gemaak.

Wie Met Vuur Speel is Deon Meyer se eerste spanningsverhaal wat reeds in 1994 uitgegee is nadat hy verskeie kortverhale in Afrikaanse tydskrifte publiseer het. Op sy webwerf verwys Deon Meyer na Wie Met Vuur Speel as ‘n broer in die tronk – “jy kan dit nie ontken nie, maar praat ook nie graag daaroor nie”. Een van die resensies oor die herdruk in 2007 bestempel dit as ‘n goeie boek, maar dat dit duidelik is dat Deon Meyer deur die jare die fyner skryfkunsies bemeester het.

Vir my was dit lekker leesgenot. Nie te ingewikkeld geskryf met lang sinne en te veel bevoeglike naamwoorde. Minder kras as Orion. ‘n Kinkel in die kabel alhoewel miskien ’n bietjie voorspelbaar. Genoeg spanning, aksie en humor om jou te laat aanhou lees al is daar ’n paar ander dinge wat gedoen moet word.

Wie Met Vuur Speel is ‘n storie oor Ragel Bergh en Ivan Malan. Sy ‘n boekwinkel eienares wat heelwat geld verloor na ‘n paar swak besluite. Hy die een met die regte agtergrond, talente en kennis om deur alternatiewe kanale haar geld vir haar op te spoor.  

Ragel is naief, nuuskierig en emosioneel, maar het ook ’n wil van haar eie wat gewoonlik bydrae tot die een of ander krisis. Ivan het ‘n verlede, een waarvan hy liefs wil vergeet en deel sy lewe met net 3 ander - Casius die kat, Carla die hond en Zatopek Smit sy regterhand en vertroueling.

Die verhaal van Ivan se verlede en die huidige saak van Ragel word skerpsinnig vermeng en word die leser vinnig ingetrek in die ontvouing van Ragel en Ivan se verhaal, die ontrafeling van misdaad en die uitoorlê van skurke.

Defintief ’n boek wat ek sal aanbeveel.

;)

Posted in Deon Meyer, Misdaad | 1 Kommentaar