Donker Liefde – Anoux Venter

Ek het hierdie boek in ‘n vriendin se huis gesien: Donker Liefde, my verhouding met heroïen – Anoux Venter.

Dit was duidelik dat die boek al deur en deur gelees is.

Ek tel dit op en blaai daardeur en my kop loop ver draaie. Sy kom die vertrek binne en sê: “Jy kan dit kry, vat dit saam en lees dit. Gee dit daarna vir wie jy ookal dink nodig het om dit te moet lees. Ek het dit by L gekry.”

Ek weet L se dogter is dood van ‘n oordosis. Ek wonder wat die boek vir haar vertel het.

Daardie volgende Sondagoggend trek ek die boek nader en begin langtand lees. Ek sit die boek nie weer neer nie, behalwe net om aan te trek. Ek lees selfs terwyl ek eet. Ek lees aaneen, ek lees tot die boek klaar is, al 200 bladsye. Ek dink aan soveel mense vir wie ek graag die boek sou wou gee om te lees. En ek huil omdat ek weet dit kan met enige een van ons se kind gebeur – niemand is te goed opgevoed, te slim, te mooi, te ryk of te wat ook al nie. Dwelms is nie gepla met klas of ras nie.

Anoux Venter skryf oor haar jarelange verslawing aan dwelms en uiteindelik aan heroïen, dodelikste dwelm van almal.

Sy skryf:

“Ek kan aangaan en aangaan oor daardie eerste keer, die emosies en gevoelens was enorm groot. Maar ek moes dit net nooit gedoen het nie, dis die punt. Sommige mense, soos ek, is gemaak om daarvan te hou. Ons persoonlikhede, swakhede, vrese en liggaamselle is eenvoudig gemaak om heroïen te aanbid. En jy sal nooit weet watter mens jy is totdat jy dit probeer het nie, en dan is dit reeds te laat.”

“Waar heroïen die vorige dag nog vir my ‘n aaklige, vieslike ding was, het dit skielik my persoonlikheid versterk, my goed laat voel oor myself. Ek het myself vinnig oortuig dis glad nie so erg as wat die TV en grootmense dit laat klink het nie.

Daardie aand het ek die trickster ontmoet – dis daardie stemmetjie wat jou altyd vertel dat jy okay is, nie verslaaf is nie, dat jy nie werklik steel of lieg of die waarheid vermy nie. Dit laat jou altyd beter voel.”

“Die ontrekkingsimptome het gereelder geword omdat ons geld begin opraak het. Die demoon wat op my siel geteer het, was heeltyd honger, heeltyd op soek.

Ons het Raine se ouers leeggetap. Mooi gevra vir geld, gesmeek, gesteel. Alles gevat wat hulle gehad het. Ek kon soms nie glo wat ek alles gedoen het nie, maar ek het probeer om so min as moontlik daaraan te dink, anders sou ek mal word. Ek het eenvoudig gedoen wat ek moes terwyl ek gesukkel het om dit vir almal weg te steek. As jy siek en seer is en jy het nie ‘n sent op jou naam nie, gee jy nie ‘n hel om van wie jy steel of hoe jy dit doen nie.”

Wanneer Anoux uiteindelik besluit om haar verslawing te verbreek, draai sy naby die dood om voor sy haar lewe weer kan begin opbou.

Elke mens met kinders behoort hierdie boek te lees, en ook dié sonder kinders. Vir die van ons wat al die paadjie gestap het met ‘n kind en dwelms, sny hierdie boek skoon… tot op die been.

Vir die wat nog nie het nie, gaan op jou knieë en sê dankie – elke aand.

Advertisements

‘n Blywende Vreugde – Audrey Blignault

Hierdie boek is al elders ook bespreek, maar ek sal voel asof ek iets onvoltooids laat as ek nie my eie opinie van die boek neerpen nie. Alhoewel ek jare terug heelwat van Audrey se vroeëre bundels gelees het, sal ek moet jok as ek sê ek onthou wanneer laas ek iets van haar gelees het. Ek onthou wel dat ek haar skrywes altyd heluit geniet het, maar dié onthou het eers weer teruggekom toe ek nou hierdie briewebundel van haar begin lees.

Ek het al op ver en vreemde paaie gedwaal met my lesery. Daar is al van my gesê dat ek alles lees waarop ek my hande lê, tot die etikette om blikkieskos! Dis nie te ver van die waarheid nie en omdat ek so alles lees, lees ek soms ook swakker boeke, maar ek het hierdie leesdrif in my wat sal maak dat ek selfs ‘n swak boek probeer klaar lees, eerder as om nie te weet hoe eindig die storie nie.

Toe ek met Audrey se boek in my hand staan in die biblioteek, het ek gewonder of ek regtig lus het om iemand se briewe te lees, maar onverklaarbaar kon ek dit ook nie terugsit op die rak nie. En van die eerste woord af was ek vasgevang en kon ek nie ophou lees nie. Dis vir my eintlik jammer dat die briewe nie kon aanhou tot 2008 nie.

Ek kon nie wag om te lees hoe Audrey die nuwe Suid-Afrika en sy skrywers ervaar het nie en ek is eintlik half teleurgesteld dat daar nie meer van haar briewe is waar sy daaroor skryf nie. Ek het ook lekker gelag toe sy vertel dat sy nie van plan is om ooit ‘n hygroman te lees nie. Dis nogal jammer, ek sou graag haar kommentaar daaroor wou hoor. Toemaar Audrey, ek moet ook nog ‘n hygroman lees!

Haar briewe is vir my ‘n rykdom van aanhalings wat ek neergepen het en altyd wil onthou en van boeke wat sy aanbeveel het, wat ek nou wil gaan soek en lees. Sommiges sal seker al uit druk wees, maar ek is seker dat ek deur haar ‘n hele paar gaan ontdek wat ek ook gaan gate uit geniet om te lees.

Ek wil graag een van haar aanhalings van Rilke hier neerpen. Dis vir my so pragtig verwoord:

“Gedigte is nie, soos mense dink, eenvoudig emosies nie (‘n mens het vroeg genoeg emosies) – gedigte is ervaringe. Ter wille van ‘n enkele gedig moet ‘n mens baie stede, baie mense en baie dinge sien. Jy moet diere begryp, jy moet voel hoe voëls vlieg, en jy moet die gebaar ken waarmee klein blommetjies in die oggend oopgaan. ‘n Mens moet kan terugdink aan paaie in onbekende streke, aan onverwagte ontmoetings en aan ‘n afskeid wat jy lank tevore sien aankom het. Jy moet dae uit jou kindertyd kan herroep, daar waaroor jy nog nie helderheid het nie, aan jou ouers wat jy moes krenk toe hulle jou tog ‘n plesier wou besorg en jy dit nie begryp het nie. Jy moet kan dink aan dae in stil gedempte vertrekke en aan oggende by die see, aan die see veral, aan oseane, aan nagte op reis wat hoog om jou verrys en saam met die sterre verdwyn, en dit is nog nie genoeg wanneer ‘n mens aan al hierdie dinge dink nie.

‘n Mens moet die herinnering hê aan baie liefdesnagte, waarvan nie één soos die ander was nie, aan kermende vroue in barensnood. Maar ook by sterwendes moet ‘n mens gewees het, ‘n mens moet by ‘n dode in ‘n kamer gesit het, in ‘n kamer met ‘n oop raam en die geluide wat in rukkende vlae binnekom.

Dit is ook nie genoeg dat ‘n mens die herinneringe het nie. Eers wanneer die herinneringe bloed word in ons, in die uitdrukking van ons oë, nameloos en nie meer te onderskei van onsself nie – eers dán kan dit gebeur dat in ‘n seer seldsame uur die eerste woord van ‘n vers in ons opstaan en van ons uitgaan.”

Audrey was ‘n mens met ‘n fyn siel, vir my ‘n regte ouwêreldse dame, met ‘n fyn humorsin en ‘n heerlike onnutsigheid aan haar. Die wat haar geken het, is voorwaar bevoorreg.

Vir enigiemand wat die Afrikaanse taal koester en versot is op lees, is Audrey se boeke, en ‘n Blywende Vreugde spesifiek, ‘n absolute noodsaaklikheid om te lees. Ek wil nou weer al haar bundels lees.

Vier briewe vir Jan Ellis – Steve Hofmeyr

Ek het met groot afwagting en verwagting na hierdie boek uitgesien. Ek het nog altyd van Steve se musiek gehou en sy poësie is van die beste. Ek respekteer sy talent as kunstenaar, maar hierdie verskoning van ’n boek was vir my ’n groot teleurstelling.

Ek weet daar is baie wat van my gaan verskil, ek weet daar is selfs diegene wat my sal wil stenig oor my opinie. Hierdie boekie se storie maak weliswaar ‘n impak, maar of dit ‘n boek werd was? Ek glo te min. Dalk ‘n novelle iewers in ‘n literêre tydskrif. Niks meer as dit nie.

Vier briewe vir Jan Ellis is Steve Hofmeyr se prosa debuut. Dis ‘n storietjie oor hoe een gebeurtenis iemand se hele lewensloop drasties kan verander. Ek wil my verstout en waag om te sê dat die storie nooit ’n boekvorm sou gesien het as die skrywer enigiemand anders as Steve Hofmeyr was nie.

Nee wat Steve, ek glo jy kan beter as dit doen. Net soos wat ek nie op die veroordeel-wa geklim het toe jou kaskenades op die lappe gekom het nie, gaan ek beslis nou ook nie op die verheerliking-wa van hierdie askies-tog boekie van jou klim nie.

Skryf vir ons ‘n ordentlike storie, Steve – ek glo jy kan. Of moet ek nie my asem ophou nie?

Chanette Paul – Meetsnoer

Hieronder is ‘n bespreking deur Arien Lubbe. Ek het haar toestemming om dit hier te plaas en hopelik word sy volgende jaar ook ‘n lid van die blog. MC

Net soos die ander Gys-boeke, het Meetsnoer ‘n boeiende begin gehad. Jy wou verder lees. My eerste dagte toe ek wel agterkom waaroor die boek gaan, was dat Chanette baie guts het om so ‘n onderwerp te kies. Ons leef in ‘n wereld waar alles polities korrek moet wees en almal is oorsensitief oor sekere dinge, waarvan geloof een is.

Chanette het dit reggekry om kerk van kult te onderskei. Ek is self ‘n ernstige kerkmens en nooit het ek gevoel Chanette trap op tone nie. Geen geloof is afgekraak nie en daar was niks lasterliks in die boek nie. Inteendeel, dit het juis uitgelig dat God goed is en dat ‘n jy nie jou menslikheid en waardigheid moet prysgee vir geloof nie.

Wat my die meeste getref het van Meetsnoer, is die onmiddellike aantrekkingskrag tussen Raine en Flint. In die vorige boeke was die aantrekkingskrag tussen held en heldin nie so duidelik daar nie. As leser kon jy nie heeltyd vir Flint en sy motiewe vertrou nie, maar jy wou graag. Jy wou he dat Flint en Raine mekaar moet vind en die liefdestoneel tussen hulle het my asem weggeslaan en my tone laat krul.

Die spanwerk tussen Raine en Flint was uitstekend. Flint was heeltyd beskermend teenoor haar, sonder om haar sterk wil in te perk. Mens kan nie help om te dink dat indien die twee sou trou, hulle huwelik ‘n sukses sal wees nie. Wanneer twee mense so saamwerk, het ‘n huwelik nie ‘n keuse as om te werk nie.

Die spanning tussen die helde en die Meetsnoer gemeente was die hele tyd daar. Ek kon nie wag om te sien wat gaan gebeur nie. Met die gevolg dat ek ‘n hele dag by die werk gelees het om net die boek klaar te kry. Ek kon dit nie meer hou nie.

Ek weet nie wat Chanette anders gedoen het in hierdie boek nie, maar dit is haar beste werk sover. (My opinie) Die storielyn is definitief van toepassing op vandag se tye. Kerk, godsdiens en kultus is hier. Die mens was nog van altyd af behep met godsdiens. Meetsnoer bring die skokkende werklikheid dat daar wel mense is wat ander so manipuleer vir eie gewin, baie duidelik tuis.

Die einde van die boek het heelwat verrassings wat jy definitief nie verwag het in die eerste hoofstuk nie. Ek het Meetsnoer geniet en beveel dit ten sterkste aan vir enige een wat lus is vir ‘n spanningsverhaal. Waarskuwing: Nie aan te beveel vir jou manikuur nie. :)

Marion Erskine – Oos

Die Verre-Ooste is die verste wat jy van SA kan wegkom – dit is wat Louis van Jaarsveld ook agterkom toe hy in Taiwan begin skoolhou. Dit is die vreemdste taal en kultuur denkbaar, en daarby is daar ook nog die meisies wat op ‘n baie eienaardige manier betelneute verkoop, die stinkende tofu, hurktoilette, tifone … Met 23 miljoen mense saamgehok op ‘n eilandjie is Louis so ver moontlik van sy gemaksones, maar ook van die spoke van sy verlede. In die vreemde maak Louis besondere vriende, leer die waarde van lojaliteit ken, en vind uiteindelik die groot liefde van sy lewe. Maar hy besef ook dat van die vreemdste plekke in sy eie hart is, en dat hy nie vir ewig daarvan kan weghardloop nie. In die vreemde leer hy hoe om huis toe te kom. Marion Erskine se debuut is ‘n aangrypende uitbeelding van ‘n Suid-Afrikaner se ervaring in Taiwan. Dit is ook ‘n uitbundige viering van die lewe en sy ingewikkeldhede, die liefde en veral vriendskap.

Ek het die boek bloot toevallig raakgevat op die trollie in die biblioteek en dit tamelik langtand aangepak. Dit lees dan aanvanklik ook nie lekker nie en die Oosterse letters en die blokkies wat sy e-posse aandui, het my aan die begin gepla. Die skryfstyl is vir my ook nie gemaklik nie, maar hou tog nou verband met hoe jongmense praat en het na ‘n rukkie nie meer so gepla nie. Op die ou end kon ek die boek nie neersit nie en moes in een sessie deurdruk einde toe. Daar is baie klein dingetjies om te kritiseer, maar eintlik is dit ‘n aangrypende storie wat vir ons almal lig kan werp op die internasionele bestaan wat baie SA jongmense ook vandag voer, van die keuses, die vreugdes en die vriendskappe wat daardie lewe meebring. Die boek was dus vir my ‘n aangename verrassing en leer my weer eens om nie ‘n boek volgens sy voorblad te beoordeel nie.

Verbeelde werklikheid – Eleanor Baker

Almal wat my goed ken, weet ek is mal oor Eleanor Baker se boeke. En dat Weerkaatsings my absolute gunsteling is – een van daardie boeke wat ek elke paar jaar nog ‘n keer herlees. En dit bly steeds onverstaanbaar hoekom so ‘n talentvolle skrywer so vroeg moes sterf. Verbeelde werklikheid is een van haar latere boeke en ‘n boeiende ineenstrengeling van die hoofkarakter (‘n skrywer van liefdesverhale) se eie storie en dié van die hoofkarakters in haar boek. Baker se gewone sober skryfstyl en subtiele humor is daar; haar gewone realisme gemeng met die broodnodige romantiek wat die lewe leefbaar maak. Die liefdesverhaal is roerend mooi, en die sloer van ‘n lankgetroude lewe word met pynlike realisme daarteenoor geteken. En albei vroue kom sterker anderkant uit. Na al die jare bly die voorblad egter vir my verskriklik lelik en ek kry nie die dieper betekenis daarvan raakgesien nie. Ek is seker daar is ‘n storie agter die storie, want die skilder het dieselfde van as die hoofkarakter (en dus haar oorlede man, wat nie ‘n mooi karakter is nie …)
As jy een van die mense is wat graag weer wil Afrikaans lees, maar nie so lekker weet waar om te begin nie – beproef gerus hierdie boek.

Spoor deur Deon Meyer

Hierdie (dikste) boek wat nog deur Deon Meyer geskryf is, is eintlik vier boeke waarvan die karakters en storielyne slim deurmekaar weef soos wat net Meyer kan.

Ons ontmoet vir Milla, wat vir haarself ‘n nuwe lewe probeer maak na die vernedering van haar man se leefstyl en ontrouheid. Haar begeerte om so bietjie dangerous te leef neem haar na situasies waarvan mens net oor die 7-uur nuus hoor.

Daar is die lyfwag Lemmer, wat moeilikheid aantrek soos ‘n magneet ten spyte van Lemmer se Eerste Wet: Moenie betrokke raak nie. ‘n Reddingspoging van die laaste twee lewendige swart renosters in Zim verander in ‘n nag van bedrog wat ‘n wrang smaak in sy mond laat en hy het ‘n score om te settle…

Ons loop ook ‘n ent saam met Mat Joubert, wat na 32 jaar diens in die SAPD die wêreld van privaat speurder betree. Hoe dieper hy grawe op soek na ‘n vermiste persoon, hoe minder maak dinge sin. Sy kliënt se fondse is boonop beperk en die horlosie tik. Gaan hy die saak opgelos kry voor haar geld op is?

En dan is daar die ouens op die Harleys en die gerugte dat Al-Qaeda besig is om wapens in die land in te bring…

My persoonlike mening:

Iemand wat nog nie ‘n Deon Meyer gelees het nie, mag dalk aanvanklik ‘n wenkbrou lig oor sy dialoog, maar ek bly verstom oor sy vermoë om die leser in staat te stel om die gesprekke te “hoor” en hom te vereenselwig met die karakter se gedagtes.

Alhoewel ek die boek geniet het, het ek gevoel daar was detail wat in die lug bly hang het – sommige goed wat ek verbind sou wou sien. Ek kan eerlik sê dat ek meer aangegryp was deur Infanta en 13 Uur.

Sal ek die boek aanbeveel? Ja.