My Sister’s Keeper – Jodi Picoult

Teen die tyd het baie al seker hierdie fliek gesien en heelwaarskynlik die boek ook gelees. Ek het eers die boek gelees en toe die fliek gaan kyk, en ek was spyt. Die fliek eindig nie eers dieselfde as die boek nie. Ek dink die filmmense het die fliek laat eindig soos wat mens logies sou verwag, en ek dink daardeur het hulle die verhaal ‘n onreg aangedoen.

Die verhaal gaan oor Kate, 16 en haar suster Anna, 13. Op twee jaar oud, is Kate gediagnoseer met ‘n seldsame soort terminale leukemie. Nie Kate se ouer broer, Jesse, of enige van haar ouers se genetiese samestelling was geskik vir ‘n bloed- of beenmurgskenking nie en die kanse was skraal om ‘n onbekende skenker te vind. Na hul dokter se terloopse opmerking oor ‘n ander ouerpaar wat nog ‘n kind gehad het, nadat hul een kind gediagnoseer is met leukemie, en toe uitgevind het hierdie kind is n perfekte skenker, besluit Kate se ouers uit desperaatheid om ‘n genetikus te gaan spreek.

Anna word dus geneties gekweek, met die hoofdoel voor oë dat sy ‘n skenker vir Kate sal wees. Aanvanklik sou slegs Anna se naelstring se stamselle gebruik word om Kate se eie onvoldoende bloedselle te voed en die leukemie in remissie te plaas. Dit is dan ook aanvanklik ‘n sukses.

Ongelukkig hou dit nie daar op nie. Kate is vir vyf jaar in remissie voordat die kanker met alle mag terugkeer. Weer moet Anna bloedselle skenk. Soms trek die dokters te min en moet sy teruggaan, tot soveel as drie keer na mekaar. Sy is net vyf jaar oud en die hospitaal en alles wat daarmee saamgaan, is eers vir haar ‘n verskrikking, maar mettertyd begin sy haar lot gedweë aanvaar. Haar ouers, maar veral haar ma, Sara, laat haar dan ook van kleinsaf verstaan dat dit haar lewenstaak is om haar suster te red.

Elke keer red Anna se bloed Kate vir ‘n rukkie, maar elke keer kom die kanker tog maar weer terug. Later jare skenk Anna ook beenmurg, nog ‘n pynlike prosedure. Anna, wat uitblink in yshokkie, word ontneem van die voorreg om weg te gaan op ‘n gesogte hokkie toer, want wat as iets met Kate gebeur en sy het Anna se bloed nodig terwyl Anna weg is? Anna voel naderhand dat sy onsigbaar is en net deur Kate bestaansreg het.

Dan, op sestien, gee Kate se niere in. Kate het reeds alle beperkinge op hoe lank sy sou bly lewe, verkeerd bewys, danksy Anna. Nou verwag haar ouers dat Anna ‘n nier aan Kate moet skenk. En dis hier waar Anna besluit om die streep te trek. Nou, op dertien, gaan sien Anna ‘n prokureur en dagvaar haar ouers vir die regte op haar eie liggaam – vir mediese emansipasie.

Dit is hier waar die boek se verhaal begin. Die leser leer ken vir Jesse, die ouer broer, wat al jare terug besluit het hy is niks werd in sy familie, want sy bloed was nie goed genoeg om sy suster te red nie. Jesse beskou homself reeds as jeugmisdadiger en terwyl Brian, die pa, ‘n brandweerman is, word Jesse ‘n brandstigter, alhoewel net van leë en verlate geboue. Sy ouers is meeste van die tyd nie eers bewus van Jesse se doen en late nie, want Kate se krisisse oorskadu gewoonlik alles.

Net een keer, op tien, toe Sara vir Jesse weereens teleurstel deur nie ‘n belofte aan hom na te kom nie, omdat Kate siek geword het en Sara op hom skree om groot te word en te besef die wêreld draai nie net om hom nie, verloor Jesse dit en skree terug: “Yeah, right, she’s sick. Why don’t you grow up? Why don’t you figure out that the world doesn’t just revolve around her?!”

Agterna dra hy swaarder as ooit aan sy skuldgevoel. Dis dan ook hy wat bitter vir Anna sê, toe hy uitvind dat sy ‘n prokureur wil gaan sien: “Don’t mess with the system, Anna. We’ve all got our scripts down pat. Kate plays the Martyr. I’m the Lost Cause. And you, you’re the Peacekeeper.”

Die hoofstukke van die boek is afwisselend uit die perspektief van een van die karakters geskryf. En soos mens lees van een hoofstuk na die volgende, ry jou emosies en jou vermoë om kant te kies, wipplank. Somtyds wou ek Sara skud en vir haar skree; “Sien tog net jou ander twee kinders ook raak!” En ander kere het ek so ‘n ongelooflike diep simpatie vir haar gehad. Hoe kies ‘n ma regtig tussen haar twee kinders? Hoe kies jy om een te laat sterf, omdat ‘n ander een se lewenskwaliteit nie meer daaronder kan ly nie? Daar is ook geen oomblik wat die leser daaraan kan twyfel dat Sara vir Anna ook onvoorwaardelik liefhet nie, al was Anna “gekweek” ter wille van Kate.

Een oomblik sien mens Sara se kant in, die ander oomblik stem jy honderd persent saam met Anna se optrede. Die pa, Brian, is ook in twee geskeur, nes die leser. Dit veroorsaak dan ook verwydering tussen hom en Sara.

Vir my as leser, was dit asof ek magteloos gestaan en toekyk het hoe ‘n gesin, waar soveel liefde in werklikheid vir mekaar opgesluit lê, teen duiselingwekkende spoed op ‘n afgrond afstuur. Soos Anna tereg op ‘n keer teenoor haar prokureur opmerk, sal daar geen wenners in haar saak wees nie. Selfs nadat die regter die beslissing uitgespreek het, sou alles nog lank nie verby wees nie.

Teen die einde van die hofsaak neem die hele storie egter ‘n totaal onverwagte wending en net sodra die leser glo dat alles ten goede afgeloop het, tree die noodlot in.

Nie in my wildste drome het ek myself die einde van die verhaal so voorgestel nie. Dit slaan die leser soos ‘n vuis tussen die oë. Ek het die hele laaste hoofstuk deur gehuil, om maar net tot die eintlike besef te kom dat ons as mens heeldag kan loop en planne maak, maar dat ons nooit werklik heeltemal in beheer is nie.

Lees die boek gerus self, dis die moeite werd. Maar moenie ‘n gewone “happily ever after” verwag nie. Jy gaan veel meer kry as waarop jy gereken het.

Advertisements

7 gedagtes oor “My Sister’s Keeper – Jodi Picoult”

  1. Ek het na aandleiding van die resensie die fliek gaan kyk. Na die fliek moes ek opsluit die boek ook lees.

    Ek het van die boek gehou, al het ek nie noodwendig van die storie gehou nie. Dit laat ‘n mens dink en vrae stel. Die lewe pas dikwels nie in ‘n swart en wit raamwerk in nie en die boek illustreer dit mooi.

    Ek het die ma regtig ‘n baie interessante karakter gevind.

  2. 😉 O ja, ek was natuurlik baie nuuskierig om die boek se einde uit te vind. Ek het toe in Wikipedia gaan kyk. In die fliek het ek geluister hoe die mense al in die middel rond kliphard snik. Toe dink ek by myself dat hulle seker in rou gaan wees teen die einde. Toe is daar heeltemaal ‘n ander einde – een waaroor die mense ook gehuil het, maar ek dink hulle sou hulle dood gehuil het as die storie aan die boek getrou gebly het.

  3. Selfs in normale gesonde gesinne is dit moeilik om te weet of mens jou aandag en tyd regverdig verdeel. Waar een kind op sekere maniere meer afhanklik as die ander is kan dit gebeur dat die ouer haar eie oordeel altyddeur in twyfel trek. Dis goed vir niemand. Amper beter om op die gekose pad te bly (in hierdie geval dat Anna daar is om Kate te help) … Om in die eerste plek in ‘n rigting te beweeg waar jy ‘n besluit neem om een kind in die lewe te bring ter wille van ‘n ander se gesondheid is eintlik om op ‘n pad te gaan waarvan jy nie kan afdraai nie. Dit was vir my ‘n swaar boek om te lees. Goeie resensie, dankie Son!

  4. Dankie vir die resensie Sonnetjie. My Sister’s Keeper was een van my heel eerste Jodi Picoult boeke en hoewel ek meeste van haar boeke reeds gelees het, bly hierdie my gunsteling. Sy het ‘n manier om omstrede onderwerpe te kies, na te vors en dan daaroor te skryf. Twee van haar ander boeke wat vir my uitstaan is “Salem Falls” en “19 Minutes”. Ek moet erken dat sommige onderwerpe wat sy kies my teen die bors stuit en dan geniet ek nie die boeke nie, tog moet ek ook erken dat selfs daardie boeke uitstekend nagevors was en met die tipiese Jodi talent.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s