Tussen Stasies – Irma Joubert

So ‘n week terug lees ek ‘n biblioteekboek, Ver wink die Suiderkruis deur Irma Joubert.  Op die voorkant sien ek dit is die voorgeskiedenis van Kate en Bernard van Tussen Stasies, ‘n boek wat al geruime tyd in my boekrak staan, maar wat ek nog nie by lees uitgekom het nie.

Ek maak Ver wink die Suiderkruis klaar, ‘n lekker storie. Kate, ryk John Woodroffe se dogter, wat in die wurgende depressiejare besig is om haar tesis te doen oor die armblankes in Suid-Afrika. Daar is woedende myners in haar pa se myne, wat meer geld wil hê en daar is Bernard Neethling, ´n mynwerker. Hy moet haar oppas terwyl sy navorsing onder die armblankes doen. Hul wêrelde is so ver uitmekaar soos die Ooste en die Weste. Albei weet dit. Maar hy wil die Suiderkruis vir haar pluk. En dit, weet Kate, sal makliker wees as om hul liefde te laat blom.

Dis ‘n lekker liefdesverhaal, en toe ek klaar is, is ek nuuskierig oor wat verder gebeur en ek gaan haal Tussen Stasies uit my boekrak. Dit word ‘n boek wat my intrek en wegsleur, ‘n boek wat ek wens nie wil ophou nie, maar waar ek ook nie kan wag vir die einde nie, want ek wil SO graag hê die hartseer moet geluk word.

Tussen stasies vertel van Gretl, ´n Duitse weeskind van die Tweede Wêreldoorlog en haar verhouding met Jakób, ´n Poolse vryheidsvegter, wat haar een donker oorlognag gered het. Mens loop saam met Gretl, later Grietjie, van waar sy uit ‘n treintrok wat oppad is na Auschwitz, ontsnap, tot waar sy na Suid-Afrika kom, waar sy deur ´n Afrikaanse gesin aangeneem word.

Terwyl Gretl nog by Jakób se mense in Pole bly, kom hy agter sy kry nagmerries, maar toe hy haar daarna uitvra, wil sy nie daaroor praat nie, want dan “gaan die nagmerrie in die kamer agterbly.”

Jakób bly in Pole agter en Gretl word ´n Protestantse Afrikaanse Grietjie Neethling, Kate en Bernard se blondekopdogtertjie, wat hulle tot barstens toe liefhet. Maar ongeag hoe lief en goed haar nuwe ouers vir haar is, daar is dinge wat Gretl met haar saamdra wat net te groot is vir haar kleindogtertjielyf.

Soos die keer wat haar aangenome broer, Kobus, die sitkamer binnekom met ‘n geweer. Gretl skrik haarself wit en toe sy hom vra wat hy met die geweer gaan doen, is sy stom verbaas oor sy antwoord dat hy muisvoëls gaan skiet. Omdat nie een haar verbasing verstaan nie, vra Kobus haar ongeërg wat sy dan dink hy anders met die geweer gaan skiet.

“Mense,” antwoord sy sonder huiwering. Dit skok haar ouers en broer tot stilstand, en hulle besef dat haar verwysingsraamwerk soveel verskil van ander dogtertjies van haar ouderdom.

Jare later vra ‘n vriend wat sielkunde swot haar hoe sy alles wat met haar gebeur het, hanteer het, want sy was ‘n klein kind van ses jaar oud, toe haar hele familie van haar weggeneem is.

Sy antwoord (en dis vir my hartverskeurend):

“Ek het my dink klein gehou. Ek het naby gedink, nie wyer nie, veral nie agtertoe gedink nie. En as die agtertoedink wou insypel, het ek aan ander dinge gedink – stories.”

Maar selfs toe vertel Gretl nie alles nie. Daar is ‘n geheim wat sy met haar saamdra, ‘n geheim wat haar deur al die jare nog steeds nagmerries gee. Die enigste een wat al haar geheime ken, is Jakób, en sy weet nie eers of sy hom ooit weer in haar lewe gaan sien nie, want hy het agtergebly in Kommunistiese Pole en die Suid-Afrikaanse regering haat die kommuniste.

‘Tussen Stasies’ is die aangrypende verhaal van twee mense wat stry teen sosiale en ideologiese magte wat bots en hulle vir altyd van mekaar kan vervreem.

Maar wat my hart laat kramp het, was om aan al daardie Duitse oorlogwesies te dink.

Die feite: Die aankoms in 1948 van 83 Duitse weeskinders in Tafelbaai was die uiteinde van ‘n omstrede veldtog van die Dietse Kinderfonds. Een van die dryfvere was etniese purisme: sommige bestuurslede het voorkeur gegee aan kinders met ‘n Ariese stamboom. Sommige kinders is in Duitsland afgekeur weens hulle Poolse, Russiese of Joodse bloed, of hulle Rooms Katolieke geloof. Die hoofrede vir hierdie projek was klaarblyklik ideologies: die kinders moes protestantse Afrikaners word wat die Afrikanergetalle sou versterk.

Die onvertelde storie: Daardie weeskinders was, met die uitsondering van ‘n handjievol, almal 8 jaar en jonger. Van daardie kinders was ook nie werklik wees nie, hulle ouers het hulle afgeteken in die hoop om vir hulle ‘n beter toekoms hier in Suid-Afrika te gee. Hoe dapper moes daardie klein kindertjies nie gewees het, om ‘n drie-weke-seereis (soos Gretl gesê het) ver weg te gaan van hul land en alles wat bekend is nie? Om hier nuwe ouers te kom kry en ‘n nuwe taal en gewoontes aan te leer en te weet – hulle eie, eie familie sal hul dalk nooit weer sien nie.

Ek het meer gaan lees oor hierdie kinders, lees gerus meer HIER.

Advertisements

3 gedagtes oor “Tussen Stasies – Irma Joubert”

  1. Ek het ook hierdie boeke baie geniet. Irma se styl pas vir my uitstekend by die vergange tye wat sy beskryf. Ek het haar eenkeer hoor praat waar sy vertel het die idee vir Tussen Stasies het gekom van ‘n ou dame wat sy op ‘n plesierboot ontmoet het, wat ‘n kind in WO II was.

  2. Ek het ook Ver wink die Suiderkruis eerste gelees. Ek is altyd bang ek gaan uitgekuiers raak met ‘n skrywer, daarom het ek eers twee ander boeke gelees en pas met Tussen Stasies begin.

    Tussen my en ‘n vriendin het ons ses van haar boeke. Ek lees dit nou eerste dan sy.

    Dis wonderlike leesstof.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s