A Charlotte Mason companion : Personal reflections on the gentle art of learning

Ek is besig om A Charlotte Mason companion : Personal reflections on the gentle art of learning deur Karen Andreola te lees.

Die boek was deel van die tuisonderrigmateriaal wat aan ons gestuur is.

Dis nie dat ek onbekend is met Charlotte Mason nie. Redelik lank terug – ek dink Marco was nog ‘n baba – het ek die blog begin lees van ‘n vrou wat tuisonderrig met haar 6 kinders doen. Ek kan nie meer haar naam onthou nie en ek dink ook sy blog nie meer nie. Kan eerlik nie onthou of dit my eerste blootstelling aan tuisonderrig was nie. Ek twyfel. Maar dit was beslis die eerste keer wat ek verwysings na Charlotte Mason se werk gesien en ook gesien het hoe dit prakties toegepas word.

Charlotte Mason is in die 1800s in Engeland gebore. Oor haar kinderjare is min bekend, behalwe dat hulle redelik arm was en sy deur haar pa grootgemaak is. Later het sy met behulp van finansiele hulp van vriende gaan studeer as onderwyseres. Sy het ‘n hele aantal jaar onderwys gegee voor sy ontnugter begin raak het met die skoolsisteem van daardie tyd en uit die onderwys getree het.

Om mee te begin was klasverskille baie gedefinieerd en het kinders uit die laer klasse selde enige geleentheid gehad om skoolonderrig te ontvang. Kinders van die laer klasse is gesien as inherent “sleg”. (Onthou Charles Dickens?) Die hoërklaskinders het meestal die beste onderwys ontvang wat geld kon koop en is gesien as inherent “goed”. Ironies genoeg het ouers van die hoër klasse selde hulle eie kinders grootgemaak en is die takie gelaat aan ‘n string “nannys” en goewernante. Kinders is dikwels weggestuur kosskool toe. Die skoolstelsel was verbeeldingloos en sonder fut. (Dit maak die situasie nie vreeslik anders as wat vandag gebeur nie – nie waar nie? Lees asb die 10 punte wat ek uitgelig het later in hierdie inskrywing en wonder gerus saam met my of die status quo in die skoolstelsel nie grootliks verantwoordelik is vir skaaptropgedrag van mense nie.)

Tersyde. Ek kom uit ‘n skool waar klasse ingedeel is volgens prestasie en dit is ‘n voldwonge feit dat die klasse met swakker punte meestal swakker onderwysers gekry het en dat verwagtinge van onderwysers – en daarom die uiteindelike prestasie van kinders – sterk gekleur is deur hierdie onderskeid tussen kinders. Hoe is daai vir ‘n bose kringloop?

Charlotte het uiteindelik die geleentheid gekry om in die Engelse meredistrik ‘n skool te open om onderwysers op te lei en dis wat sy gedoen het tot haar dood in die vroeë 1900s. Deur haar onderrig en ‘n boek getiteld: “Home education ” het sy haar idees aan die wêreld bekend gestel. Die boek was gemik op moeders wat nie besonder ryk was nie en gee aan hulle idees hoe om hulle kinders ‘n ryke opvoeding te gee. Die boek was eers baie gewild, maar daar het later slegs fragmente van haar idees oorleef in ‘n wêreld wat al meer gesekulariseerd geraak het.

Ek het al ‘n bietjie geskryf oor die idees van Charlotte Mason en dis beslis te omvattend om in een bloginskrywing te behandel, maar ‘n paar punte wat vir my uitstaan is die volgende:

1.Kinders kom in die wêreld as volkome mense met die potensiaal om enigiets te bereik. Dit slaan die idee dat kinders as inherent “goed” of “sleg” gebore word die nek in.
2.Kinders sal wil leer mits die materiaal wat aan hulle voorgehou word ‘n breë veld dek en soveel as moontlik “lewende boeke” bevat.
3.Die begrip lewende boeke is in teenstelling met handboeke wat ‘n oorsig bied oor ‘n onderwerp. Dink bv aan ‘n skoolgeskiedenishandboek oor WWII in teenstelling met die skrywes van Corrie ten Boom of Anne Frank. Watter een gaan ‘n groter indruk op ‘n kind laat?
4.Kinders moet toegelaat word om wyd te lees, te reflekteer en verbande tussen materiaal te trek. So sal ‘n kind wat bloot lees oor ‘n komeet, minder geinteresserd wees as ‘n kind wat een aand by die venster uitkyk en die komeet raaksien waaroor hy gelees het.
5.Elke dag moet die geleentheid bevat om liefde te gee, iets nuttigs te doen en oor iets te dink.
6.Daarom behoort die atmosfeer in ‘n huis so te wees dat selfs ‘n daklose kind met vertroue kan sê: “Ons het ‘n huis. Ons het net nie ‘n plek om dit neer te sit nie.”
7.Liefdesdade gerig op ander, om iets te skep of deel te neem aan huishoudelike take is vêr meer gewens as om voor ‘n TV te sit of vermaak te word op welke wyse ook al.
8.Soveel tyd as moontlik behoort buite spandeer te word en alles wat daar waargeneem word moet deur die kind aangeteken te word in ‘n dagboek d.m.v sketse, beskrywing of aangevul deur prosa, poësie of Bybelverse.
9.Kuns is nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Kinders behoort van kleins af blootgestel te word aan die grootste werke (hetsy in skilderye of musiek) wat die wêreld opgelewer het.
10.Lesse moet kort gehou word. Huiswerk moet glad nie in die elementêre fase opgelê word nie. Toetse word ook nie geskryf nie. Maar daar word van die kind verwag om wat hy geleer het weer te gee na afloop van die les d.m.v. vertelling. As ‘n kind iets in sy eie woorde kan weergee “het” hy dit.

Hierdie boek is beslis die moeite werd om te lees. Al is dit dan net om krities te kan kyk na die skoolstelsels van vandag en (bykans) almal wat produkte daarvan is.

Advertisements

Change of Heart – Jodi Picoult

Dit  is al ‘n geruime tyd wat ek besluit het dat ek meer van Jodi Picoult wil lees. 

Ek het ‘n Change of Heart in ‘n vriendin se boekrak opgemerk en dit summier geleen.  Ek het dit onder die hoop boeke uitgestoei en my vriendin vertel die boek gaan saam met my.

Sy het nie juis omgegee nie, maar my gewaarsku dat ek dalk teleurgesteld gaan wees.  Sy het al die boek 4 keer begin lees en kon nog nooit verder as die eerste paar hoofstukke kom nie.  Ek het besluit om nogtans vir myself uit te vind.

Om eerlik te wees het ek self oorweeg om die boek in die asblik te gooi na die eerste 50 bladsye.  Dit het Green Mile gegil en ek hou nie van plagiaat nie. 

Gelukkig het ek vasgebyt en ek het eers die boek neergesit nadat ek die laaste bladsy gelees het.  Daar is ‘n opsomming op die buiteblad:  “Your daughter needs a new heart.  The only match comes from a murderer.  What would you do?”  Misleidend, dit is net ‘n baie klein deel van die storie. 

Shay Bourne word ter dood veroordeel na die moord op die 7 jarige Elizabeth Nealon en haar stiefpa Kurt Nealon.  Kurt Nealon was ook ‘n gerespekteerde polisieman.  June, haar ma wil ook sterf na hulle moord, maar sy is 8 maande swanger met Claire. 

11 jaar later is Bourne se appélle op ‘n einde en sy terregstelling tyd en plek bepaal.  Claire kort drasties ‘n skenker hart en Bourne besluit sy hart moet na sy dood na haar gaan.  Intussen verander Bourne water in wyn, wek ‘n voëltjie uit die dood op en genees selfs ‘n man van Vigs. 

Vader Michael Wright, was ‘n jong student in wiskunde toe hy juriediens gedoen het met Bourne se verhoor.  Maggie Bloom se lewenstaak is om die vryhede van mense te verseker.  Sy is teen die doodstraf en Bourne se saak is nog ‘n protes daarteen.  As sy hom nie van die dood kan red nie, moet dit ten minste op sy terme gebeur. 

Hy moet sterf op ‘n manier wat hy verkies, ‘n manier wat sy hart vir Claire sal red.  Al sal June nooit instem dat haar man en dogter se moordenaar se hart vir Claire red nie.  Claire wat bloot net nie meer kan bekostig om kieskeurig te wees nie. 

Die Green Mile herinnering is eintlik toevallig.  Die moordenaar word paralel aan Jesus voorgestel.  Dit bevraagteken geloof, spesifiek oor wat geloof nou eintlik is en waarop presies dit baseer is.  Vrae wat baie mense baie ongemaklik sal maak.  Die vrae hou ook nie daarop nie.  Die regstelsel, die doodstraf en ons eieregtige veroordeling van mense kom ook onder die soeklig.

Ten spyte daarvan dat die storie verloop het soos ek vermoed het dit sou, dink ek nie dat dit regverdig sal wees om die boek voorspelbaar te noem nie.  Die storie vloei maklik en daar is genoeg onderliggende elemente om tot op die laaste bladsy boeiend te bly.

Dit is beslis ‘n boek wat ek gaan koop en weer lees.  Ek dink ook dit sal ‘n briljante fliek sal maak.  Ek sal dit ook vir ander aanbeveel, veral as hulle nie bang is dat alles waaraan hulle glo bevraagteken word nie.  Jodi Picoult verdien om topverkoper te wees.

Gaan lees ook gerus meer hier oor die storie agter die storie.

Sanctuary – Nora Roberts

Sanctuary is ‘n heelwat ouer boek wat besonder baie herinner aan haar nuutste, The search. Die storie speel ook af op ‘n idilliese eiland daar iewers naby Florida en ‘n baie creepy stalker is ook daar bedrywig. Dis baie interessant om te sien hoeveel sy die tema in die nuutste boek uitgebrei het. Maar ek hou meer van die ouer boek – waarskynlik omdat die karakters nog ‘n ietsie meer romanties voorgestel word, hoewel hul geensins volmaak is nie. In haar nuutste boeke wil-wil die helde soms aan abusive begin grens, die heldinne is regtig soms so hardekwas dat ‘n mens moeilik kan glo hulle kan so vroulik en sexy tussen die lakens wees!
Die skrywer doen groot moeite om in die obsessiewe moordenaar se kop te klim en sy optrede te motiveer. Hier word dit veral gedoen met fotografie as die tema van sy vaardigheid, sy liefde en sy obsessie daarmee om die volmaakte oomblik op film vas te lê.
Die hoofkarakters word so duidelik geteken dat ‘n mens werklik met hulle kan identifiseer. Sy is ‘n sterk vrou wat haarself te ver gedryf het en gedwing word om skuiling te gaan soek by die enigste veilige hawe wat vir haar oor is – haar disfunksionele familie. Ongelukkig is die sanctuary toe nie so veilig nie … Hy kom terug na die eiland om te probeer verstaan – en te besluit of hy sy verskriklike geheim moet uitlaat. En natuurlik ontmoet hulle twee daar, soos toe hulle kinders was. En stry steeds oor wie nou eintlik destyds vir wie in die rivier gestamp het …
Daar is eintlik drie liefdesverhale inmekaar gestrengel. Aldrie is baie geloofwaardig en al die karakters word pragtig en oortuigend geteken. Maar ai, die seks raak nogal oorweldigend as die leser by drie paartjies se kaperjolle moet probeer byhou!
Die fotografie tema word deurgaans uitstekend gebruik en die besonderhede het nie vir my te veel geword, soos soms in haar boeke gebeur nie.
Die roerendste van die storie was egter vir my die pad van die gesin na herstel. Die rusies, die stadige bewus word van die band wat hulle in werklikheid bind, die sukkelende kommunikasie, die humor, die gedeelde herinneringe, en eindelik die punt waar broer en suster, pa en kind, vir mekaar kan sê: Ek is lief vir jou.
As jy van Roberts se boeke hou – laat waai! Jy sal nie teleurgesteld wees nie.

Fliek: The social network

Ek het die fliek net gaan kyk omdat dit vir soveel Oscars benoem is – en omdat ek versot is op facebook. Ten spyte van die totale afwesigheid van enige aksie of romanse (ek tel nie dronk studentelosbandigheid vir romanse nie) het dit my die volle twee ure lank op my stoel vasgenael gehou. Maar nie op ‘n lekker, ontspannende manier nie – ons Afrikaanse ore sukkel maar om by te hou by die massas woorde wat die karakters, veral die hoofkarakter, soos geweervuur uitspoeg. Dit het konsentreer gekos. Ek sal dit graag weer later op DVD met onderskrifte wil kyk, want ek is seker ek het heelwat detail gemis. Maar die vinnige gepraat dra beslis baie effektief by tot die volgehoue spanning en keer dat die fliek vervelig raak, al word daar feitlik die hele tyd net gepraat. (Dis duidelik dat studente beslis kan multi-task – drink en praat tegelyk!)
Een resensent sê die fliek is alles behalwe bloot die verhaal van die ontstaan van facebook, en hy slaan die spyker op die kop. Die fliek gaan eintlik oor vriendskap, ambisie, jaloesie, verraad, die mag van geld – almal universele temas waarmee enigiemand kan identifiseer. Ek het dan ook met ‘n hartseer hart en diep simpatie vir die hoofkarakter daar uitgekom. Hy is ‘n absolute … nee, ek ken nie die regte publiseerbare woord nie. Maar jou hart bloei vir hom, want hy verloor eintlik alles wat saakmaak, ten spyte van die oorweldigende massa geld wat hy maak. (Die regte Mark Zuckerberg het blykbaar gesê die fliek is baie ver van die waarheid af – en ek hoop vir sy eie part dis waar!)
Ek is nie ‘n kenner van akteurs nie en weet niks van al die jong manne wat die fliek versier nie. (Nee, nie die regte woord nie – dis net die Vinklevoss-tweeling wat iets is om na te kyk – enige romanseskrywer se droom – en dan is daar nog twee van hulle! Jammer so ‘n beeldskone karakter moes met so ‘n van opgesaal word! Hulle sorg ook vir die enigste happie humor wat ek kon vang: “I’m 6ft 2 and …. lbs – and there’s two of me!” Dis ook interessant om dop te hou hoe hanteer hul die twee broers wat deur dieselfde persoon gespeel word in die fliek – sou graag meer van die tegniese aspekte wou weet – hulle verskyn baie dikwels saam in dieselfde toneel – het nie ‘n benul hoe dit gedoen word nie.)
Jesse Eisenberg speel die hoofrol perfek. Hy is ‘n nerd met minder sosiale vaardighede as ‘n baksteen, hy is onbeskof, hy dubble-cross sy pelle – maar tog kry jy hom diep en innig jammer. (Of is dit net my moederhart wat so sag is?)
As jy bereid is om hard te werk en te konsentreer en sonder ‘n sweempie van ‘n feel-good gevoel uit die fliek te stap – go for it!
As jy tyd het, lees meer by http://www.imdb.com/title/tt1285016/