Fifty Shades of Grey

Komaan! Julle almal wonder oor dié boek – veral na Butternut se inskrywing!

Oukei…*maak keel skoon*…here goes….

Daar moet seker iets aan ‘n boek wees wat die vroue van die wêreld aan die storm vir die boekrakke het. Dit word geklassifiseer as die “warmste” boek van die hedendaagse letterkunde en meer as veertig miljoen kopieë is reeds verkoop, wat E.L. James se eerste roman  amptelik die grootste verkoper maak volgens amazon.co.uk – ja, selfs meer as die hele Harry Potter reeks altesaam!

‘n Pas-gegradueerde joernalis, Anastasia Steele, staan in vir ‘n vriendin wat siek is deur ‘n onderhoud te voer met die skatryk, dinamiese jong uitvoerende direkteur van Grey Holdings, Christian Grey. Sy vind hom intimiderend en enigmaties en die onderhoud vir die universiteitspublikasie verloop glad nie goed nie. Ana struikel deur die onderhoud, maar troos haarself daaraan dat sy hom nooit weer sal hoef te sien nie.

Wanneer Grey skielik opdaag in die hardeware winkel waar Anastasia ‘n studentepos het, besef sy dat hy ‘n eienaardige uitwerking op haar het. Hy is beelskoon en sy bewimpel ‘n plan om hom weer te sien deur ‘n fotosessie vir die opkomende artikel te reël. Christian waarsku haar dat sy hom liewer moet vermy – hy is slegte nuus vir enige vrou.

Die een ontmoeting lei tot die volgende en so gebeur dit dat hulle in sy privaat helikopter na sy impossante woning in Seattle vlieg.  Hy laat haar duidelik verstaan dat hy nie aan haar sal raak voordat sy ‘n NDA (“Non-disclosure Agreement”) geteken het nie. Daarna maak hy dit duidelik dat dit steeds nie die einde van die papierwerk is voordat hulle ‘n verhouding betree nie. Hy maak aan haar ‘n aanbod om sy “submissive” te word vir ‘n tydperk van drie maande. Dit behels ‘n wettige, allesomvattende kontrak wat sy moes teken. Hy gaan wys haar sy “speelkamer” en so betree Anastasia die donker wêreld van BDSM (“Bondage/discipline; dominance/submission; Sadism/ Masochism”).

As jy nie pro-pronografie is nie, gaan hierdie boek waarskynlik nie vir jou wees nie. Daar is heelwat repetisie in die  gedetaileerde bekrywings van die “tonele” , maar ek het die gepersonifiseerde stryd tussen Ana se gewete en haar “inner goddess” baie amusant gevind.

Fifty Shades of Grey gaan hoofsaaklik oor die innerlike stryd wat Ana voer in haar besluit of sy die kontrak gaan teken of nie. Haar vrese maak dat sy wil weghardloop van hierdie donker , onbekende dinge af, maar ‘n roekeloosheid veroorsaak ook dat sy wil uitvind of sy deur hierdie man se skanse kan breek om uit te vind wát het in sy kinderjare gebeur dat hy so ‘n ekstreme leefstyl gekies het.

Daar is baie vrae…hoekom mag sy nie aan hom raak nie? Hoekom raak hy woedend kwaad as sy hom oor sy kinderjare en biologiese moeder uitvra? Hoekom is daar littekens van uitgedoofde sigarette op sy lyf en hoekom speel hy briljante, maar hartseer stukke op sy vleuelklavier in die middel van die nag wanneer hy dink niemand sien nie?

Gaan Ana die kontrak teken? Gaan Christian die toegewings maak waarvoor sy vra? Is hy in  staat om meer te wees as net haar Dominant?

Persoonlik:

Die beskrywing van die intieme tonele het my soms ongemaklik gelaat en ek het amper op ‘n stadium die boek laat vaar omdat die storielyn nie vinnig genoeg beweeg teenoor die hoeveelheid erotiek nie. In die laaste paar hoofstukke begin die balans effe herstel en ek het geboei geraak deur die klein stukkies detail wat deursypel oor Christian se kinderlewe – sy ma wat aan dwelms verslaaf was, een van sy aangenome moeder se ervare vriendinne wat hom op 15 “touwys” – 😳 excuse the pun – gemaak het en aan die wêreld van BDSM voorgestel het.

Die vraag is: Gaan ek die tweede boek in die trilogie lees?

Advertisements