Wat’s Nuus?

Ek het al genoem dat ek nie veel ooghare vir Biografieë het nie.  Ek moet egter erken dat ek my tande vir die boek geslyp het vandat ek die eerste keer daarvan gehoor het.  Riaan Cruywagen was immers ‘n bekende op Televisie (en Radio!) lank voordat ek gebore is. 

Agter op die boek is daar ‘n mening van Leon van Nierop dat die boek neerkom op ‘n kaggelvuur kuier met rooi wyn.  (Ek kan nie nou die presiese woorde onthou nie).  Nadat ek die boek gelees het, moet ek hom gelyk gee. 

Cruywagen het nog altyd by my die indruk geskep dat hy puntenerig is, maar tog met ‘n fyn humorsin.  Dit word nogal in die boek geonderstreep.  Dit is ‘n boek van sy lewe – nie hoe hy daardeur gewroeg het nie, maar goed wat hom duidelik na aan die hart lê en die vriende wat hy oor die jare gemaak het.  Om van die Cruywagen familietrots nie te praat nie. 

Dalk kan ‘n mens dit beter beskryf as ‘n samevatting van al sy staaltjies.  Daar was beskrywings wat my laat skreeu het van die lag.  Natuurlik kan daar na 47 jaar in die uitsaaiwese nie net goeie herinneringe wees nie.  Tog is daar nêrens in die boek ‘n moddergooiery nie.  Nie eers nadat die SABC hom en van sy kollegas onder die agterent geskop het nie. 

Dit is duidelik dat daar goed is wat Cruywagen bloot net nie aanstaan nie.  Hy is byvoorbeeld baie driftig oor mense wat nie goeie Standaardafrikaans gebruik in die media nie.  ‘n Irritasie wat ek met hom deel (hoewel ek redelik seker is dat hy nie my Afrikaans sal waardeer nie).  Hy vertel byvoorbeeld hoe iemand gesê het dat goeie taalgebruik dit is wat nuuslesers gebruik.  Van die SAUK kan vandag baie gesê word, maar hulle doen nogtans moeite dat hulle nuuslesers se taal onberispelik is. 

Wat nogal ‘n indruk op my gemaak het, is hoe hard die Cruywagen gesin gewerk het om te kom waar hulle vandag is.  Daar was nie terug gesit en gewag vir almoese nie.  Nee, daar was ingespring en gewerk.  Die storie wat seker in baie Afrikaanse gesinne weerspieël kan word. 

Hierdie was ‘n boek wat ek terdeë geniet het. 

Toevallig het Rapport vandag ook ‘n resensie oor Wat’s Nuus gehad.

Advertisements

Die Staat teen Anna Bruwer

Ek was die eier wat gesweer het dat ek nooit weer ‘n boek van Anchien Troskie gaan koop tensy ek dit eers gelees het nie.  Verlede week vind ek toe uit dat daar ‘n opvolg op “Dis ek, Anna” is en natuurlik is ek toe nuuskierig.  Die heel naweek mik ek om dit te gaan soek, maar staan elke keer sterk.  Sondag dwaal ek toe by Exclusive in en skielik spring dit in my hand.  Ek kon dit nie afkry nie en koop dit toe met ‘n paar dreigemente aan Troskie vir as ek my geld mors. 

Ek besluit toe om net ‘n gevoel van die boek te kry voordat ek gaan slaap.  Net so ‘n paar bladsye net om die te sien watter rigting dit inslaan.  Twee en ‘n half uur later (insluitende ‘n paar kruisverwysings) het ek die laaste bladsy gelees.  Troskie het ‘n gemaklike skryfstyl en lees baie maklik.  Die boek het dit weer bewys. 

Daar was ‘n paar goed wat gepla het.  In die eerste boek kan ‘n mens maklik uitwerk wanneer sy gebore is.  Om een voorbeeld te noem – sy het in 1984 16 jaar oud geword.  Dit beteken sy is in 1968 gebore.  “Die staat teen Anna Bruwer” speel in 2004 af en daar word verskeie kere genoem dat Anna 30 jaar oud is.  Onmoontlik – selfs as ‘n mens 1 of 2 jaar plus/minus.  Verder het ek die woord vergiffenis hinderlik gevind, maar dit is ‘n woord volgens die HAT.  Dit is dus my probleem, nie die skrywer s’n nie. 

Die skrywer herinner mens in die begin en einde van die boek dat dit net fiksie is.  Daar is dus goed wat nie heeltemal ooreenstem met realiteit nie.  In die sin dink ek dalk dat die boek dalk ‘n bietjie oor optimisties geskryf is.  Die staatsaanklaer kon volgens my baie meer vernynig gewees het.  Dit kon ‘n groter gestoei van morele waardes gewees het. 

Ek het egter baie van die boek gehou.  As die wêreld nou maar eenmal so gewerk het, het ons op ‘n beter plek gewoon.  Geregtigheid het geseëvier en boontjie het sy loontjie gekry.  Ek is natuurlik ‘n leek, maar ek dink die verskil was dat Troskie net haar storie vertel het.  Sy het nie probeer diep wees nie en het dus nie daarmee misluk nie.  Daar is wel ‘n paar belangrike lewenslesse verskuil. 

Ek beveel dit aan as ‘n lekkerlees boek.

Change of Heart – Jodi Picoult

Dit  is al ‘n geruime tyd wat ek besluit het dat ek meer van Jodi Picoult wil lees. 

Ek het ‘n Change of Heart in ‘n vriendin se boekrak opgemerk en dit summier geleen.  Ek het dit onder die hoop boeke uitgestoei en my vriendin vertel die boek gaan saam met my.

Sy het nie juis omgegee nie, maar my gewaarsku dat ek dalk teleurgesteld gaan wees.  Sy het al die boek 4 keer begin lees en kon nog nooit verder as die eerste paar hoofstukke kom nie.  Ek het besluit om nogtans vir myself uit te vind.

Om eerlik te wees het ek self oorweeg om die boek in die asblik te gooi na die eerste 50 bladsye.  Dit het Green Mile gegil en ek hou nie van plagiaat nie. 

Gelukkig het ek vasgebyt en ek het eers die boek neergesit nadat ek die laaste bladsy gelees het.  Daar is ‘n opsomming op die buiteblad:  “Your daughter needs a new heart.  The only match comes from a murderer.  What would you do?”  Misleidend, dit is net ‘n baie klein deel van die storie. 

Shay Bourne word ter dood veroordeel na die moord op die 7 jarige Elizabeth Nealon en haar stiefpa Kurt Nealon.  Kurt Nealon was ook ‘n gerespekteerde polisieman.  June, haar ma wil ook sterf na hulle moord, maar sy is 8 maande swanger met Claire. 

11 jaar later is Bourne se appélle op ‘n einde en sy terregstelling tyd en plek bepaal.  Claire kort drasties ‘n skenker hart en Bourne besluit sy hart moet na sy dood na haar gaan.  Intussen verander Bourne water in wyn, wek ‘n voëltjie uit die dood op en genees selfs ‘n man van Vigs. 

Vader Michael Wright, was ‘n jong student in wiskunde toe hy juriediens gedoen het met Bourne se verhoor.  Maggie Bloom se lewenstaak is om die vryhede van mense te verseker.  Sy is teen die doodstraf en Bourne se saak is nog ‘n protes daarteen.  As sy hom nie van die dood kan red nie, moet dit ten minste op sy terme gebeur. 

Hy moet sterf op ‘n manier wat hy verkies, ‘n manier wat sy hart vir Claire sal red.  Al sal June nooit instem dat haar man en dogter se moordenaar se hart vir Claire red nie.  Claire wat bloot net nie meer kan bekostig om kieskeurig te wees nie. 

Die Green Mile herinnering is eintlik toevallig.  Die moordenaar word paralel aan Jesus voorgestel.  Dit bevraagteken geloof, spesifiek oor wat geloof nou eintlik is en waarop presies dit baseer is.  Vrae wat baie mense baie ongemaklik sal maak.  Die vrae hou ook nie daarop nie.  Die regstelsel, die doodstraf en ons eieregtige veroordeling van mense kom ook onder die soeklig.

Ten spyte daarvan dat die storie verloop het soos ek vermoed het dit sou, dink ek nie dat dit regverdig sal wees om die boek voorspelbaar te noem nie.  Die storie vloei maklik en daar is genoeg onderliggende elemente om tot op die laaste bladsy boeiend te bly.

Dit is beslis ‘n boek wat ek gaan koop en weer lees.  Ek dink ook dit sal ‘n briljante fliek sal maak.  Ek sal dit ook vir ander aanbeveel, veral as hulle nie bang is dat alles waaraan hulle glo bevraagteken word nie.  Jodi Picoult verdien om topverkoper te wees.

Gaan lees ook gerus meer hier oor die storie agter die storie.

Fliek: Burlesque

Vandat ek die eerste voorprent van Burlesque gesien het, het ek doodeenvoudig geweet dat ek dit moes sien.  Dit is nie net omdat ek mal oor musicals en Cher is nie.  Die musiek en choreografie het my van die begin af aangetrek. 

‘n Burlesque is parodie.  Tess het ‘n klub waar skraps geklede meisies op die hoog dans terwyl hulle maak of hulle die liedjies sing.  Ali het van die plaas ontsnap om ‘n lewe in vermaak na te jaag.  Tess gee haar erg onwillig ‘n kans om haar staal te wys (nogal ironies – siende dat baie van die pop ikone op konserte eerder dans as sing).  Nadat sy ‘n streep deur een van die ander dansers getrek word, begin Ali die liedjie van die opvoering sing.  Daarmee word vriend en vyand verras. 

Om eerlik te wees, het ek my bedenkinge gehad oor Christina Aquilera.  Sangers wat skielik wil toneel speel is selde suksesvol.  Sy het my egter verras.  Ek was nooit seker hoe Cher ‘n Oscar gewen het nie.  Ek dink nie sy het haar karakter, Tess, tot haar volle potensiaal laat kom nie, maar dit kon te wyte gewees het aan te veel Botox of plastiese chirurgie. 

Die storielyn is maar so-so.  ‘n Mens gaan kyk in elk geval nie ‘n Musical om die storie tot op die been te ontleed nie.  Mens gaan kyk dit om terug te sit en gewow te word.  Daarin het Burlesque beslis geslaag.  Dit kan amper beskryf word as Chicago wat Coyote Ugly ontmoet, maar dit het beslis ook ‘n eie etiket. 

Die musiek wou my na die naaste CD winkel dryf om te kyk of dit al beskikbaar is.  Ek is goed bekend met Cher se musiek, maar Christina het ook ‘n sterk stem wat goed ingespan word in die fliek.  Die choreografie is mooi om na te kyk en die skraps geklede dames sal die manne ook gelukkig hou.  Dames, moet nie afgeskeep voel nie.  Cam Gigandet is genoeg om enige warmbloedige vrou te laat drool 

Ek moet die dialoog uitsonder, dit is vol witty opmerkings wat baie skerp is.  Puik.

Ek sal Burlesque 8 / 10 gee.  Belangriker as die punt, is dat ek nog nie sedert Mamma Mia ‘n fliek soveel geniet het as Burlesque nie.  Ek gaan dit beslis nog ‘n keer kyk. 

‘n Beslisde moet vir almal wat van musiek, dans, skerp opmerkings of net van mooi meisies hou.

Slumdog Millionaire – Vikas Swarup

In 2009 het Slumdog Millionaire ons vir ‘n 6 geslaan toe dit 8 Oscars gewen het.  Glad nie sleg vir ‘n fliek sonder enige bekende akteurs nie.  Dit moes doodeenvoudig gesien word om te sien waaroor gaan die bohaai.  Nadat dit gesien is, was dit vir my duidelik dat dit nie bohaai verdien.  Benewens dit, was dit een van die min Oscar bekroonde flieks wat ‘n mooi storie vertel, amper ‘n moderne feeverhaal.

Die fliek is op die 2005 boek Q & A gebaseer wat deur Vikas Swarup geskryf is.  Ek was onlangs die boek in die hand gestop en vertel om te lees.  Dit het my maande lank geneem om daarby uit te kom, maar toe ek begin het, was ek spyt dat ek nie iewers ‘n dag oopgemaak het om dit te lees nie.

Eerstens is die fliek baie losweg op die boek baseer.  Die karakters en selfs die verteller verskil heeltemaal.  Ram Mohammed Thomas is ‘n weeskind.  Daar was pandemonium toe hy gedoop moes word, niemand was seker of hy Hindoe, Moslem of selfs Christen moet wees nie.  Vandaar die naam wat aldrie gelowe bevredig het.

Hy neem aan Who Wants to be a Billionaire en die rede van die deelname word tot in die laaste hoofstuk van die leser geheim gehou.  Ram het nie juis ‘n opvoeding gehad om van te praat nie en het ‘n groot deel van sy lewe in die Slums deur gebring.  Hy het dus van die lewe geweet.  Deur sy ervaring het interessante mense ontmoet en van elkeen iets geleer.

Dit raak egter ‘n vernedering vir die produksie maatskappy toe hy goed doen en hulle het nie die geld om sy prys te betaal nie.  Daar moet bewys word dat hy gekul het, wat geen probleem vir die korrupte Indiese Polisie behoort te wees nie.  Net voordat hy so voos gemartel is dat hy enige iets sal teken, kom red ‘n beeldskone prokureur hom.

Hy vertel aan haar hoe hy aan al sy antwoorde gekom het.  Daarmee saam ontvou sy lewensverhaal.  Een van swaarkry, maar tog ook van hoop.  Hoe mens nie ‘n ander op grond van agtergrond moet skat nie, maar hoe ‘n mens tog ook hulle sterre kan verander.

Die boek is beslis die lees werd.  Die klink dalk effens te goed om waar te wees, maar op een of ander manier bly dit realisties, sonder om dat die goed voel gedeelte verlore gaan.