Padmaker – Christine Barkhuizen le Roux

Op die buiteblad word dit genoem: ‘n Deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind en die afdruk wat een geslag op ‘n volgende laat.

As sy reg onthou, was dit dieselfde aand dat haar pa vertel het van die ingenieur wat ook ‘n dominee en sosiale werker was, dat hy dié ding gesê het wat sy nou eers verstaan: ‘Liefde is soos ‘n aflosstokkie, my kind. ‘n Mens kan dit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.”

Twee maande na die verdwyning van haar bejaarde ma besluit Katrien om die paaie van haar kinderjare na te ry. Haar reis neem haar terug na die padkampe waar haar saggeaarde pa, ‘n padskraperoperateur, met sy stories oor die padwerke die lewe vir haar uitgelê het. Daar het haar ma, met haar verbete stryd teen die armoede van die kampe, se probleme begin. Katrien se opsoek van die mense en die plekke wat haar gevorm het, is meer as net ‘n herinneringstog. Dit is ‘n poging om haar ma te verstaan en om haar eie weg vorentoe te vind. Op die oop pad onthou sy weer haar pa se woorde: “Om te weet waarheen jy op pad is, moet ‘n mens onthou waar jy vandaan kom.”

Christine Barkhuizen le Roux is op Vryburg gebore en woon deesdae op ‘n plaas naby Barrydale. Haar debuutdigbundel, dimensie, het in 2000 verskyn. In 2006 het ‘n kortverhaalbundel, Waar koek en wyn ontbreek, en ‘n tweede digbundel, roset, gevolg. Verskeie van haar gedigte is in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings, onder andere Groot Verseboek, opgeneem. PADMAKER is haar eerste roman.

Die boek was een van dié op my lysie vir 2010 waarby ek nie uitgekom het nie, en gelukkig kon ek dit toe vir Kersfees bestel. Ek het haar kortverhaalbundel ‘n jaar of twee gelede onder oë gehad en hoewel ek nie veel kan onthou nie, onthou ek dat my indruk gunstig was. Vir iemand wat in soveel genres kan skryf, het ek in elk geval groot bewondering. Dat sy talentvol is, is nie te betwyfel nie.

Ek dink Padmaker sal enigiemand aangryp wat belangstel in die verwikkeldheid van menslike verhoudings en sommer van die mens as sulks. Dis nie ‘n prettige storie nie, maar die hartseer en onbegrip tussen mense word gebalanseer deur die krag van die liefde tussen mense wat met bande van bloed gebind word. Ook tussen die dogtertjie en haar moeilike ma (wie se moeilikgeit sy nou ‘n naam kan gee en kan begin verstaan) bly die liefde altyd ten spyte van die onbegrip en wrywing.
Die beskrywing van die SA landskap waardeur sy ry, met die klem op die wonderlike plekname, word aangrypend gedoen. Enigiemand wat die land liefhet, sal aangeraak word daardeur. Ook die mense wat sy op haar reis ontmoet, word in fyn detail beskryf.
‘n Mens kan nie anders as om te wonder tot hoe ‘n mate dit ‘n outobiografiese werk is nie. Die taal is deurgaans pragtig en die hoofkarakters word gebalanseerd beskryf – niemand is net goed of net sleg nie.
Ek beveel die boek beslis aan en ek hoop daar kom nog prosa uit haar pen.

Santa Gamka – Eben Venter

Ek het hierdie boek bloot uitgeneem omdat hy toevallig oop en bloot op die biblioteektrollie gelê het toe ek daar verbykom. Toevallig? Eerder beskikking!
Ek kon nog nooit vat kry aan Eben se werk nie. LW. Ek sê nie sy boeke is swak nie – ek sê ek kon hul nog nie baasraak nie. Ek het nog altyd gedink hy is ‘n ongelooflike skrywer. En nou wéét ek dit.
Lucky Marais is losweg die mees unieke karakter wie se storie ek vanjaar gelees het. En ook dié een wat die diepste in my hart gekruip het. Nee, hy is nie soos enigiemand wat ek al ontmoet het nie. Ja, hy staan baie ver van my beskermde wit middelklaslewetjie af. Maar Eben Venter maak hom absoluut lewend deur sy taal en deur wat hy doen én nie doen nie. ‘n Mens leer vir Lucky verstaan, jy ontwikkel empatie met hom, jy voel vir hom.
Ek dink dis een van ‘n skrywer se heel grootste uitdagings: Om binne-in ‘n karakter wat ligjare van jouself verwyder is, te klim en hom ‘n eie stem te gee. En dis wat Venter hier reggekry het.
Ek gaan hiermee volstaan. (Vir ‘n indringende resensie, kyk gerus by die skakel hieronder. Vir ‘n lekker onderhoud waarin Venter heelwat verklaar oor die boek, kyk by die ander skakel.) As jy kru taal (absoluut funksioneel in die boek volgens my mening)  kan hanteer en jou nie doodskrik vir enigiets seksueel (altyd in baie goeie smaak aangebied in die  boek volgens my mening) nie, sal jy Lucky se storie geniet. En o ja, dit gaan ook effens sukkel as die leser ‘n geswore rassis is …

Lees gerus hierdie resensie op Litnet ook – kennelik deur ‘n kenner geskryf: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=78372&cat_id=558

En hierdie onderhoud: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=85113&cat_id=178

‘n Hemelhoë hekkie – Douwleen Bredenhann

Ek was bang om die boek te lees. Om kennis te neem van iets so verskrikliks, beteken immers ook om te erken dit kan ook met jou gebeur. Maar ek is nie spyt nie.
Die boek is in ‘n sober, eerlike styl geskryf, sonder pretensie of pogings om simpatie te werf…. Dis die verhaal van ‘n vrou en ‘n gesin wat ‘n onmenslike, onbegrypbare verlies ervaar het en op een of ander manier daarin geslaag het om voort te gaan. Dis ‘n eerlike kyk na hoe hulle dit ervaar, wat hul in retrospek anders sou gedoen het, die gedrag van ander mense wat dit vir hul makliker of moeiliker gemaak het. Wat ek sal onthou? Dat ‘n ma se liefde nooit verbygaan nie. En dat ‘n mens nie met mooi woorde na iemand in rou hoef te gaan nie – want geen woorde kan dit regtig beter maak nie. En dat vergifnis geen eenvoudige saak is nie – ook nie vir christene nie. En laastens: Dat ‘n mens ook onder deur kan kruip as die hekkie vir jou te hoog is.