Fliek: Like Dandelion Dust

Like Dandelion Dust is gegrond op die boek, geskryf deur Karen Kingsbury.

In LIKE DANDELION DUST word daar na een van die samelewing se mees tragiese situasies gekyk. Twee ouerpare baklei oor ‘n 6-jarige seuntjie wat opgegee is vir aanneming nadat sy pa tronk toe gestuur is omdat hy sy vrou mishandel het, as gevolg van alkoholmisbruik.

Die fliek begin waar Rip Porter in hegtenis geneem word, nadat hy, in sy dronkenskap, sy vrou ernstig aangerand het. Sewe jaar later kom hy uit die tronk en Wendy, sy vrou, wag vir hom. Dit wil voorkom asof Rip heeltemal gerehabiliteer het in die tronk en hy vertel vir Wendy dat sy destyds die regte ding gedoen het deur die polisie te bel en dat hulle twee saam nou ‘n nuwe begin gaan maak en alles gaan beter wees as voorheen.

Toe hy begin praat van ‘n gesin begin, vertel sy hom van hul seuntjie wat sy laat aanneem het. Na hy gevonnis is, het sy uitgevind sy is swanger en het besluit dit sal beter wees as die kind aangeneem word. Hy het blykbaar die aannemingsdokumente in die tronk geteken, maar Rip sweer hy het nooit enige dokumente geteken nie en die twee vind uit iemand van die tronk moes sy handtekening vervals het. Hulle besluit dan om hul seun terug te eis, want die aanneming was dus nooit wettig nie.

Intussen lewe klein Joey onwetend ‘n idilliese lewe saam met sy aanneem-ouers, Jack en Molly Campbell, in ‘n pragtige huis naby die see, in Florida. Jack en Molly is welaf en Joey kom niks kort nie, nie fisies nie en ook nie emosioneel nie. Sy ouers gee hom nie net aardse goed nie, maar ook baie liefde en aandag.

Dan bars die bom en hulle hoor dat hulle Joey sal moet teruggee vir sy regte ouers. Ek gaan nie meer van die storie vertel nie, want dan bederf ek dit vir iemand wat self wil gaan kyk.

Dit was vir my ‘n moelike fliek om te kyk, want ek haat enige iets waar ‘n kind te na gekom word. Ek was egter heeltyd in twee geskeur vir Wendy, Joey se regte ma, en vir Molly, wat Joey vir 6 jaar grootgemaak het en so bitter lief het. Maar meer as enige iets anders, wou ek, net soos Jack, iemand aanrand oor wat hulle aan ‘n klein ou seuntjie doen wat glad nie verstaan wat aangaan nie en net een ma en pa ken. DIT, die fout van ‘n grootmens iewers, wat nie seker gemaak het van ‘n regte handtekening nie, was besig om ‘n onskuldige kind se lewe vir altyd te verander op die mees wrede manier denkbaar.

In Amerika is verlede jaar AGT aannemings omgekeer as gevolg van vervalste handtekeninge. En waar is die kind se belange in daardie tyd? Ook in hierdie fliek word daar eerstens na die biologiese ouers se regte gekyk en DAN eers na die kind! Dit skrei ten hemele.

Hierdie fliek wys die menslikheid van elke karakter en herinner ons ook daaraan dat elkeen van ons die potensiaal het om ons beste of ons slegste in ons karakter uit te leef, afhangende van die omstandighede waarin ons onsself bevind.

Uiteindelik is klein Joey se toekoms in die hande van sy twee ma’s. Sal een van hulle hom lief genoeg hê om hom te laat gaan? Gaan kyk self, maar neem genoeg tissues saam. Ek het my kop seer gehuil in hierdie fliek!

Advertisements

Die Rebellie van Sloet Steenkamp – Paul C. Venter

Toe ek jonger was, het ek geglo as jy ‘n boek begin, MOET jy hom klaar lees. Soms het ek dae lank deur boeke geworstel wat my absoluut geen plesier gegee het nie en waar ek soms my oë moes rek om nie van verveling aan die slaap te raak nie. Maar lees, moes ek klaar lees.

Later het ek besluit dis absolute onsin om myself so te martel en as ek in die eerste hoofstuk nie vasgevang is deur ‘n boek nie, maak ek hom toe en nooit weer oop nie. Verlede week beland Die Rebellie van Sloet Steenkamp in my hande. Ek kyk die boekietjie só en wonder of ek lus is vir ‘n vervelige storie oor boere en oorlog. Ek was mal oor die TV-reeks Arende en al is dit dan nou net oor ek so baie van daai Sloet gehou het, besluit ek om hierdie Sloet ten minste ‘n kans te gee.

En ek sit die boek nie sommer maklik weer neer nie. Die storie gryp mens van die eerste bladsy af en is net mooi nêrens vervelig nie.

Kortliks gaan dit oor die tydperk in Suid-Wes (nou Namibië) toe die goewerneur-generaal in Windhoek ‘n bevel gegee het dat alle Britse en Suid-Afrikaanse burgers in Duitswes onmiddellik uitgesit moes word en terugkeer na hulle geboorteland toe.

Sloet en sy mense, wat destyds uit die Unie van Suid-Afrika getrek het omdat hy volstrek nie onder ‘n Engelse regering wou bly nie, sit nou met die dilemma dat hulle hul grond in Duitswes gaan verloor en weer onder Engelse hande gaan val. Vir Sloet is dit onaanvaarbaar en hy rebelleer – weereens.

Mense wat Arende gekyk het, sal karakters soos die Engelse kaptein Kerwin, Sloet se vrou Annette, Jimmy Kitchener, PJ Buys en nog ‘n paar ander, weer raakloop in hierdie lekker boek. Daar is ook die Namas en hul leier, die Profeet Bäal Stuurman, vir wie jy een oomblik die ewigheid wil instuur en die volgende oomblik weer jammer kry en selfs van hom begin hou.

Soms maak die politiek van destyds mens effens deurmekaar en jy moet mooi lees om by te hou by wie nou eintlik aan wie se kant is, maar alles val mettertyd netjies in plek. Die boek is nie swaar oorlog leesstof nie, en daar is genoeg humor afgewissel met die ernstige dele om die boek ‘n werklike lekker-lees een te maak. Ek sal my min verbaas as ons hierdie een ook binnekort as TV-reeks gaan sien!

Tussen Stasies – Irma Joubert

So ‘n week terug lees ek ‘n biblioteekboek, Ver wink die Suiderkruis deur Irma Joubert.  Op die voorkant sien ek dit is die voorgeskiedenis van Kate en Bernard van Tussen Stasies, ‘n boek wat al geruime tyd in my boekrak staan, maar wat ek nog nie by lees uitgekom het nie.

Ek maak Ver wink die Suiderkruis klaar, ‘n lekker storie. Kate, ryk John Woodroffe se dogter, wat in die wurgende depressiejare besig is om haar tesis te doen oor die armblankes in Suid-Afrika. Daar is woedende myners in haar pa se myne, wat meer geld wil hê en daar is Bernard Neethling, ´n mynwerker. Hy moet haar oppas terwyl sy navorsing onder die armblankes doen. Hul wêrelde is so ver uitmekaar soos die Ooste en die Weste. Albei weet dit. Maar hy wil die Suiderkruis vir haar pluk. En dit, weet Kate, sal makliker wees as om hul liefde te laat blom.

Dis ‘n lekker liefdesverhaal, en toe ek klaar is, is ek nuuskierig oor wat verder gebeur en ek gaan haal Tussen Stasies uit my boekrak. Dit word ‘n boek wat my intrek en wegsleur, ‘n boek wat ek wens nie wil ophou nie, maar waar ek ook nie kan wag vir die einde nie, want ek wil SO graag hê die hartseer moet geluk word.

Tussen stasies vertel van Gretl, ´n Duitse weeskind van die Tweede Wêreldoorlog en haar verhouding met Jakób, ´n Poolse vryheidsvegter, wat haar een donker oorlognag gered het. Mens loop saam met Gretl, later Grietjie, van waar sy uit ‘n treintrok wat oppad is na Auschwitz, ontsnap, tot waar sy na Suid-Afrika kom, waar sy deur ´n Afrikaanse gesin aangeneem word.

Terwyl Gretl nog by Jakób se mense in Pole bly, kom hy agter sy kry nagmerries, maar toe hy haar daarna uitvra, wil sy nie daaroor praat nie, want dan “gaan die nagmerrie in die kamer agterbly.”

Jakób bly in Pole agter en Gretl word ´n Protestantse Afrikaanse Grietjie Neethling, Kate en Bernard se blondekopdogtertjie, wat hulle tot barstens toe liefhet. Maar ongeag hoe lief en goed haar nuwe ouers vir haar is, daar is dinge wat Gretl met haar saamdra wat net te groot is vir haar kleindogtertjielyf.

Soos die keer wat haar aangenome broer, Kobus, die sitkamer binnekom met ‘n geweer. Gretl skrik haarself wit en toe sy hom vra wat hy met die geweer gaan doen, is sy stom verbaas oor sy antwoord dat hy muisvoëls gaan skiet. Omdat nie een haar verbasing verstaan nie, vra Kobus haar ongeërg wat sy dan dink hy anders met die geweer gaan skiet.

“Mense,” antwoord sy sonder huiwering. Dit skok haar ouers en broer tot stilstand, en hulle besef dat haar verwysingsraamwerk soveel verskil van ander dogtertjies van haar ouderdom.

Jare later vra ‘n vriend wat sielkunde swot haar hoe sy alles wat met haar gebeur het, hanteer het, want sy was ‘n klein kind van ses jaar oud, toe haar hele familie van haar weggeneem is.

Sy antwoord (en dis vir my hartverskeurend):

“Ek het my dink klein gehou. Ek het naby gedink, nie wyer nie, veral nie agtertoe gedink nie. En as die agtertoedink wou insypel, het ek aan ander dinge gedink – stories.”

Maar selfs toe vertel Gretl nie alles nie. Daar is ‘n geheim wat sy met haar saamdra, ‘n geheim wat haar deur al die jare nog steeds nagmerries gee. Die enigste een wat al haar geheime ken, is Jakób, en sy weet nie eers of sy hom ooit weer in haar lewe gaan sien nie, want hy het agtergebly in Kommunistiese Pole en die Suid-Afrikaanse regering haat die kommuniste.

‘Tussen Stasies’ is die aangrypende verhaal van twee mense wat stry teen sosiale en ideologiese magte wat bots en hulle vir altyd van mekaar kan vervreem.

Maar wat my hart laat kramp het, was om aan al daardie Duitse oorlogwesies te dink.

Die feite: Die aankoms in 1948 van 83 Duitse weeskinders in Tafelbaai was die uiteinde van ‘n omstrede veldtog van die Dietse Kinderfonds. Een van die dryfvere was etniese purisme: sommige bestuurslede het voorkeur gegee aan kinders met ‘n Ariese stamboom. Sommige kinders is in Duitsland afgekeur weens hulle Poolse, Russiese of Joodse bloed, of hulle Rooms Katolieke geloof. Die hoofrede vir hierdie projek was klaarblyklik ideologies: die kinders moes protestantse Afrikaners word wat die Afrikanergetalle sou versterk.

Die onvertelde storie: Daardie weeskinders was, met die uitsondering van ‘n handjievol, almal 8 jaar en jonger. Van daardie kinders was ook nie werklik wees nie, hulle ouers het hulle afgeteken in die hoop om vir hulle ‘n beter toekoms hier in Suid-Afrika te gee. Hoe dapper moes daardie klein kindertjies nie gewees het, om ‘n drie-weke-seereis (soos Gretl gesê het) ver weg te gaan van hul land en alles wat bekend is nie? Om hier nuwe ouers te kom kry en ‘n nuwe taal en gewoontes aan te leer en te weet – hulle eie, eie familie sal hul dalk nooit weer sien nie.

Ek het meer gaan lees oor hierdie kinders, lees gerus meer HIER.

For the love of a son – Jean Sasson

Kort voor my vakansie begin, haas ek my by die biblioteek in. Ek is verby laat, het nog ’n afspraak wat wag en het werklik net 10 minute om nuwe boeke uit te soek. Dus maak ek sommer vinnig ’n draai by die trollie met boeke wat daai dag ingekom het en gryp net ’n paar wat interessant lyk. So vat ek hierdie een.

Die boek begin stadig en ek wou-wou dit net ’n mis gee, want deesdae het ek te oud geword om deur ’n boek te worstel net om te kan sê ek het dit darem klaar gelees. Net toe ek egter begin vaak raak, tel die boek spoed op.

Die titel van hierdie boek is effens misleidend en dalk net gekies om mense se aandag te kry. Terwyl die boek nie presies is wat ek verwag het as gevolg van die titel nie, het ek die boek uiteindelik baie geniet en die inhoud was vir my in baie opsigte ‘n openbaring.

Ons kla so maklik oor die toestande in ons land, die misdaad en die swak diens. Maar ons het nie regtig die vaagste benul hoe gelukkig ons nog is nie, veral as vrouens.

Kortliks gaan die boek oor Maryam, ’n Afghaniese vrou. Vandat Maryam klein was, het sy al gerebelleer teen die diskriminasie in haar land teen vroue. Sy is bevoorreg om in ‘n redelik welvarende gesin groot te word, met ‘n ma en pa wat nie heeltemal so bekrompe is oor vrouregte as die res van haar familie nie.

Sy beleef hoe verskeie van haar vroulike familielede mishandel word deur hul mans en sweer dat sy nooit sal toelaat dat so iets met haar gebeur nie. Dan neem die Russe Kabul oor en omdat Maryam haar op allerlei maniere verset teen hulle, moet haar ouers naderhand reël dat sy landuit vlug, om haar lewe te red.

Haar pa gaan saam met haar en later emigreer hulle na Amerika. Hier ervaar Maryam vir die eerste keer as vrou totale vryheid. Haar land se tradisie kan sy egter selfs hier nie ontduik nie en sy begewe haar uiteindelik in ’n huwelik met ’n mede landsgenoot, soos deur haar pa gereël. Dié man is egter die duiwel gereinkarneer en Maryam word geslaan, mishandel en verkrag.

Ongeag die feit dat hulle in Amerika is, waar so iets nie behoort te gebeur nie, kry Maryam byna geen ondersteuning van haar familie nie, want die ingebore geloof dat die vrou die man se eiendom is om mee te maak wat hy wil, verhoed dat haar familie haar red uit die man se kloue.

Na die geboorte van haar seun, besluit Maryam om haarself te red en sy vlug weg van Kaiss, haar man. Sy begin die skeisaak en doen aansoek vir ’n interdik, maar voor enige iets gefinaliseer kan word, steel Kaiss hul seun en vlug terug na Afghanistan.

Daar is geen manier wat sy haar seun kan gaan terughaal nie, die Amerikaanse regering kan haar nie help nie, en intussen word Afghanistan verskeur deur oorloë. Elke dag vrees sy dat haar kind in die kruisvuur van ’n verskeurde land kan beland.

Met tussenposes probeer Maryam deur vriende en familie kontak te maak met haar seun, maar jare gaan verby waarin sy nie veel uitrig behalwe net om te hoor dat hy nog lewe nie.

Die boek eindig nie soos wat ek gehoop het nie en dit het my net weer laat besef dat die omstandighede waarin ’n kind grootword, tog wel ’n groot rol speel in hoe hy ontwikkel.

Die boek het my egter vir die eerste keer laat besef dat Afghanistan nie sommer net daai land is op TV waar ek altyd hoor hoe maak die mense oorlog nie en hoe meng Amerika in nie. Dit het vir my die gewone inwoners van ‘n eens pragtige land MENS gemaak.

En dit het my weereens naar gemaak oor die wreedheid van mens teenoor mens, en hier spesifiek van mans teenoor vrouens. Volgens hierdie mense se tradisie kon ’n man sy vrou doodmaak sonder enige gevolge en al reaksie sou wees; ”Foeitog, die arme man. Sy moes hom so ver gedryf het.”

Met die heerskappy van die Taliban (1996) het alles net nog veel erger geword. Vrouens mag nie meer hulle huise verlaat het nie, hulle mag nie gewerk het buite hul huis nie en hulle is ook nie toegelaat om enige skool by te woon nie. Dans is verbied, musiek is oral verbied. Sou jy gevang word in besit van ’n musiekkasset was jou voorland die tronk. Televisie is verban en alle kameras, films en foto’s is vernietig, want dis beskou as selfliefde, ‘n groot sonde.

Vrouens wat weduwees was en voorheen gewerk het in ordentlike beroepe soos die onderwys, moes nou by die huis bly en het geen manier gehad om hul kinders te versorg nie. Baie van hulle het hul uiteindelik uit desperaatheid na prostitusie gewend, wat die Taliban vreemd genoeg  toegelaat het, of te wel basies net ignoreer het.

Ek is nie spyt ek het die boek gelees nie en ek sal graag meer van Jean Sasson se boeke wil lees.

Thula-Thula – Annelie Botes

Thula thula, thula baba, thula sana,
Thul’u babuzo ficka, eku seni. (repeat)
Kukh’in khan-yezi, zi-holel’ u baba,
Zim-khan yi-sela indlel’e ziyak-haya,
Sobe sik hona xa bonke be-shoyo,
Be-thi bu-yela u-bu-ye le khaya,
Thula thula thula baba,
Thula thula thula sana,
Thula thula thula baba,
Thula thula thula san.

Keep quiet my child
Keep quiet my baby
Be quiet, daddy will be home by dawn
There’s a star that will lead him home
The star will brighten his way home
The hills and stones are still the same my love
My life has changed, yes my life has changed
The children grow but you don’t know my love
The children grew but you don’t see them grow

Thula-thula deur Annelie Botes – die ergste boek wat ek in ‘n bitter lang tyd gelees het. Eintlik dink ek nie enige boek het my al ooit so ontstel nie. Nie eers ‘Dis ek, Anna’ of die boek oor die Australiese weeskinders wat deur die Katolieke nonne misbruik is nie.

Die boek gaan oor ‘n gesin waar dinge drasties en tragies skeefgeloop het. ‘n Pa en ‘n ma wat wandel met God en ingehaak is by Satan. En ‘n gemeenskap wat kyk en nie sien nie, want die waarheid is te ongeloofwaardig.

Gertruida is 26 jaar oud, maar steeds vasgevang in die bang lyfie van ‘n vier-en-‘n-halfjarige dogtertjie. ‘n Dogtertjie wie se boetie op sy 10de verjaarsdag verongeluk het en toe alles in haar lewe op sy kop laat draai het. ‘n Dogtertjie wat bo-gemiddeld intelligent is, maar al hoe stiller en stiller raak, omdat sy bang is vir die naglikkewaan, bang vir die gevoelens wat haar pa uit haar kindlyfie uittoor. Stiller raak, omdat haar pa haar tot stilte sweer en haar ma oor haar boetie treur en nie omgee wat snags in Gertruida se kamer gebeur nie.

‘n Pa wie se hartseer kwaad trek in sy kop en ‘n ma wie se hartseer en verwronge idee van ‘n gesin se beeld na buite maak dat sy haar dogter verraai tot die einde.

Ek het deurentyd gemengde gevoelens teenoor Abel en Susarah gehad, van ‘n felle haat tot ‘n diepe jammerte. En weersin in die mense van die gemeenskap wat Gertruida ook gefaal het. Net soos die gemeenskap soveel ander kinders in nood faal, omdat ons nie betrokke wil raak nie. Omdat die een wat ons verdink van die onmoontlikste goed, ‘n vername, gerespekteerde persoon is en dit net soveel makliker is om ons koppe weg te draai en onsself wys te maak ons verbeel ons hierdie dinge.

Gertruida kruip weg agter woorde, verdwyn in sprokiesverhale terwyl haar pa haar snags buig na sy wil. Soms wonder sy of God bestaan en ás hy bestaan, waarom ignoreer Hy haar. Hy sê in die Bybel geen haar op jou hoof sal geskaad word nie. Waarom word álles aan haar geskaad?

Nag na vernederende nag bid Gertruida dat haar pa moet doodgaan. Soms maak sy planne om hom self dood te maak, maar ook in Gertruida baklei die liefde vir haar pa teen die haat vir Abel. In haar kop kry sy dit reg om soms ‘n onderskeiding te maak tussen die man wat haar 22 jaar lank reeds molesteer en die pa wat soms op die mees onverwagte tye weer haar pa word soos voor haar boetie se dood. Die pa wat haar kinderlyfie gebad en in die bed gesit het, aan haar gevat het in liefde, sonder dat dit verkeerd gevoel het.

Sy baklei ook met haarself omdat sy nie by magte is om net weg te loop nie, die siek siklus te verbreek nie. Uiteindelik kry sy die insig dat sy soos die hond is wat wetenskaplikes in ‘n eksperiment gebruik het. Eers skok hulle die regterkant van sy hok en hy loop lê links. Dan skok hulle die linkerkant en hy loop lê regs. Daarna skok hulle die hele hok en die hond het nêrens om heen te gaan nie. Eers is hy verwilderd en angstig, maar toe hy geen uitvlug plek kry nie, gaan lê hy later willoos op die hok se vloer en gee hom oor aan die skokke. Hierna maak die wetenskaplikes die hok se deur wawyd oop en tot hul verbasing storm die hond nie uit na veiligheid nie. Hy bly lê net daar, sy vluginstinkte is beskadig en hy is afgestomp teen pyn en skok.

Mettertyd leer Gertruida meer oor haar pa en ma se eie kinderjare en alhoewel dit nie ‘n verskoning vir dit is wat hulle haar aangedoen het nie, kom sy tot die besef dat sy slegs die slagoffer was van twee mense in wie se brein iets ontspoor het. Dalk was haar boetie se dood net die sneller.

Ek wil nie meer vertel en die boek bederf vir dié wat dit nog wil lees nie. Ek moet net byvoeg dat dit nie ‘n boek is wat ek sommer vir enigeen sal aanbeveel nie. Jy moet sterk wees om hierdie boek te lees en nie mateloos, redeloos en radeloos te voel om uit te gaan en alle kindermolesteerders sommer net vrek te skiet nie. Dalene Matthee het in ‘Fiela se kind’ gesê: “Die Here vergewe mens baie dinge, maar die skade wat jy ‘n kind aandoen, vergewe Hy jou NOOIT nie.” Amen

Ek wil net een stukkie hier aanhaal, wat my diep getref het. Mens glo so maklik sielkundige hulp is ‘n antwoord, en ek is een van dié wat ook gou is om te sê ‘Gaan praat met iemand. Kry hulp.’

In Gertruida se woorde: “Maar dwarsdeur alles het sy skepties gebly, want sy was oortuig al doen jy tienduisend terapiesessies, al verslind jy elke boek en artikel oor sieklike seks agter huise se geslote deure, al volg jy die gesondword-getuienis van honderde slagoffers, al bid jy tot jou knieë skurf is – vergeet sal jy nooit. Die wantroue en angs is by jou ingebed tot die einde van jou dae.

Jy kan klinies leer verstáán wat die verwrongendheid veroorsaak wat die monster dryf om jóú lewe te verorber. Jy kan leer konsentreer, jou obsessies beperk en hanteer. Jy kan duisend maal oortuig word van jou onaandadigheid en onskuld. Op die oppervlak kan ‘n sielkundige jou help met antwoorde soek. Maar vergeet en volkome héél word, by ‘n punt aankom waar die aftakeling nie meer ‘n faktor in jou lewe is nie, is onmoontlik. Die slagoffers wat dit getuig, is besig met ‘n wiegelied.

Miskien kan dit sagter word. Verder terugskuif in jou geheue. Vervang word deur omstandighede van geborgenheid en respekwaardigheid.”

Maar jou gesteelde kindwees – dit sal jy nooit weer terugkry nie.

Thula Thula, stil my kind!

My Sister’s Keeper – Jodi Picoult

Teen die tyd het baie al seker hierdie fliek gesien en heelwaarskynlik die boek ook gelees. Ek het eers die boek gelees en toe die fliek gaan kyk, en ek was spyt. Die fliek eindig nie eers dieselfde as die boek nie. Ek dink die filmmense het die fliek laat eindig soos wat mens logies sou verwag, en ek dink daardeur het hulle die verhaal ‘n onreg aangedoen.

Die verhaal gaan oor Kate, 16 en haar suster Anna, 13. Op twee jaar oud, is Kate gediagnoseer met ‘n seldsame soort terminale leukemie. Nie Kate se ouer broer, Jesse, of enige van haar ouers se genetiese samestelling was geskik vir ‘n bloed- of beenmurgskenking nie en die kanse was skraal om ‘n onbekende skenker te vind. Na hul dokter se terloopse opmerking oor ‘n ander ouerpaar wat nog ‘n kind gehad het, nadat hul een kind gediagnoseer is met leukemie, en toe uitgevind het hierdie kind is n perfekte skenker, besluit Kate se ouers uit desperaatheid om ‘n genetikus te gaan spreek.

Anna word dus geneties gekweek, met die hoofdoel voor oë dat sy ‘n skenker vir Kate sal wees. Aanvanklik sou slegs Anna se naelstring se stamselle gebruik word om Kate se eie onvoldoende bloedselle te voed en die leukemie in remissie te plaas. Dit is dan ook aanvanklik ‘n sukses.

Ongelukkig hou dit nie daar op nie. Kate is vir vyf jaar in remissie voordat die kanker met alle mag terugkeer. Weer moet Anna bloedselle skenk. Soms trek die dokters te min en moet sy teruggaan, tot soveel as drie keer na mekaar. Sy is net vyf jaar oud en die hospitaal en alles wat daarmee saamgaan, is eers vir haar ‘n verskrikking, maar mettertyd begin sy haar lot gedweë aanvaar. Haar ouers, maar veral haar ma, Sara, laat haar dan ook van kleinsaf verstaan dat dit haar lewenstaak is om haar suster te red.

Elke keer red Anna se bloed Kate vir ‘n rukkie, maar elke keer kom die kanker tog maar weer terug. Later jare skenk Anna ook beenmurg, nog ‘n pynlike prosedure. Anna, wat uitblink in yshokkie, word ontneem van die voorreg om weg te gaan op ‘n gesogte hokkie toer, want wat as iets met Kate gebeur en sy het Anna se bloed nodig terwyl Anna weg is? Anna voel naderhand dat sy onsigbaar is en net deur Kate bestaansreg het.

Dan, op sestien, gee Kate se niere in. Kate het reeds alle beperkinge op hoe lank sy sou bly lewe, verkeerd bewys, danksy Anna. Nou verwag haar ouers dat Anna ‘n nier aan Kate moet skenk. En dis hier waar Anna besluit om die streep te trek. Nou, op dertien, gaan sien Anna ‘n prokureur en dagvaar haar ouers vir die regte op haar eie liggaam – vir mediese emansipasie.

Dit is hier waar die boek se verhaal begin. Die leser leer ken vir Jesse, die ouer broer, wat al jare terug besluit het hy is niks werd in sy familie, want sy bloed was nie goed genoeg om sy suster te red nie. Jesse beskou homself reeds as jeugmisdadiger en terwyl Brian, die pa, ‘n brandweerman is, word Jesse ‘n brandstigter, alhoewel net van leë en verlate geboue. Sy ouers is meeste van die tyd nie eers bewus van Jesse se doen en late nie, want Kate se krisisse oorskadu gewoonlik alles.

Net een keer, op tien, toe Sara vir Jesse weereens teleurstel deur nie ‘n belofte aan hom na te kom nie, omdat Kate siek geword het en Sara op hom skree om groot te word en te besef die wêreld draai nie net om hom nie, verloor Jesse dit en skree terug: “Yeah, right, she’s sick. Why don’t you grow up? Why don’t you figure out that the world doesn’t just revolve around her?!”

Agterna dra hy swaarder as ooit aan sy skuldgevoel. Dis dan ook hy wat bitter vir Anna sê, toe hy uitvind dat sy ‘n prokureur wil gaan sien: “Don’t mess with the system, Anna. We’ve all got our scripts down pat. Kate plays the Martyr. I’m the Lost Cause. And you, you’re the Peacekeeper.”

Die hoofstukke van die boek is afwisselend uit die perspektief van een van die karakters geskryf. En soos mens lees van een hoofstuk na die volgende, ry jou emosies en jou vermoë om kant te kies, wipplank. Somtyds wou ek Sara skud en vir haar skree; “Sien tog net jou ander twee kinders ook raak!” En ander kere het ek so ‘n ongelooflike diep simpatie vir haar gehad. Hoe kies ‘n ma regtig tussen haar twee kinders? Hoe kies jy om een te laat sterf, omdat ‘n ander een se lewenskwaliteit nie meer daaronder kan ly nie? Daar is ook geen oomblik wat die leser daaraan kan twyfel dat Sara vir Anna ook onvoorwaardelik liefhet nie, al was Anna “gekweek” ter wille van Kate.

Een oomblik sien mens Sara se kant in, die ander oomblik stem jy honderd persent saam met Anna se optrede. Die pa, Brian, is ook in twee geskeur, nes die leser. Dit veroorsaak dan ook verwydering tussen hom en Sara.

Vir my as leser, was dit asof ek magteloos gestaan en toekyk het hoe ‘n gesin, waar soveel liefde in werklikheid vir mekaar opgesluit lê, teen duiselingwekkende spoed op ‘n afgrond afstuur. Soos Anna tereg op ‘n keer teenoor haar prokureur opmerk, sal daar geen wenners in haar saak wees nie. Selfs nadat die regter die beslissing uitgespreek het, sou alles nog lank nie verby wees nie.

Teen die einde van die hofsaak neem die hele storie egter ‘n totaal onverwagte wending en net sodra die leser glo dat alles ten goede afgeloop het, tree die noodlot in.

Nie in my wildste drome het ek myself die einde van die verhaal so voorgestel nie. Dit slaan die leser soos ‘n vuis tussen die oë. Ek het die hele laaste hoofstuk deur gehuil, om maar net tot die eintlike besef te kom dat ons as mens heeldag kan loop en planne maak, maar dat ons nooit werklik heeltemal in beheer is nie.

Lees die boek gerus self, dis die moeite werd. Maar moenie ‘n gewone “happily ever after” verwag nie. Jy gaan veel meer kry as waarop jy gereken het.

Uit die binneland – Dana Snyman

Ek hou nie eintlik van kortverhaal bundels nie. Ek hou van ‘n boek met ‘n begin en ‘n einde en tussen in moet ‘n ordentlike storie wees. Maar soms gaan ek deur ‘n stadium waar ek moeg raak van ‘hele’ boeke lees en dan krap ek rond vir kort stories of sketse. So kom ek toe af op Dana Snyman se bundel sketse – Uit die binneland.

Ek begin lees en kort voor lank kan ek die boek nie neersit nie; dalk ook omdat ek met so baie dinge waaroor hy skryf kan identifiseer. Ek lees ‘Neem my op vlerke’, en terwyl ek lees, begin ek lag. Ek lag naderhand so dat my huismense kom kyk wat aangaan. Ek probeer vir hulle voorlees, maar ek lag so, (want ek het toe mos reeds die prentjie in my kop), dat niemand ‘n woord kan uitmaak wat ek lees nie. Na ‘n paar probeerslae, waarin die lag net elke keer bo-oor my lees hardloop, het ek maar opgegee. Ek hoop Dana vergewe my, maar ek gaan die skets hier vir julle herhaal. Alle erkenning aan Dana Snyman, wie se ander boeke ek nog gaan soek en ook gaan lees!!! Ek hoop julle geniet dit net soveel soos ek.

Neem my op vlerke

Ek kan steeds nie na daardie liedjie luister nie. Daardie een van Anneli van Rooyen: “Neem my op vlerke”. As dit speel, skakel ek die radio af. Jammer.

Dit herinner my te veel aan die nag toe Oupa tussen Grootfontein en Otjituru in die ry uit ons Hilux-bakkie geklim het.

Ons is die oggend vroeg by die huis weg, op pad om by oom Jors Stroh op sy plaas anderkant Grootfontein te gaan jag. By Postmasburg ontdek ons toe ons het die tassie met die kassette vergeet. Al wat ons gehad het, was Annelie se Ek wil jou ken-kasset wat Ma in die Hilux se kassetspeler gelos het. (“Neem my op vlerke” is nommer 3 op kant 2, as ek dit nie mis het nie.)

Daar was darem ook die radio maar êrens tussen Nakop en Karasburg het dit ontroosbaar begin suis en krap. Toe stoot Pa maar vir Anneli in. Neem my op vlerke verby Karasburg, Grunau en Keetmanshoop. Later was dit donker. Êrens anderkant Rehoboth het die vaak gekom. Oupa het reeds geslaap. Ek weet want ek het met my kop teen hom gaan lê en ek kon voel hoe ruk die snork aan hom.

Pa het wakkerblypille gedrink.

Pa het ná daardie nag ook ‘n inskrywing in die Guinness Book of Records verdien: Die man wat die meeste kere agtereenvolgens na Anneli van Rooyen se Ek wil jou ken-kasset geluister het. Want halfvyf daardie oggend toe ons by die vulstasie op Grootfontein stilhou, meer as 1000 kilometer verder, toe sing sy steeds.

Die pad tussen Grootfontein en Otjituru, oor die makalanivlakte, het toe nog hekke gehad. Die vlakte het die naam gekry oor die baie makalanipalms wat daar groei; sulke hoës wat ‘n bietjie soos windpompe in die maanlig lyk.

Nie dat ek of Oupa daardie nag veel makalani’s gesien het nie. Ons het te lekker geslaap. Êrens het Pa stilgehou en my in die ribbes gestamp. Daar was ‘n hek. Ek het op my beurt aan Oupa gestamp en Oupa het uitgeklim en die hek gaan oopmaak. Anneli het bly sing. Pa het deurgery en Oupa het teruggeklim. Ek en Oupa het verder geslaap. Tot daar weer ‘n hek was. Ek weet nie deur hoeveel hekke ons is nie, maar later was dit ‘n outomatiese reaksie: Pa stamp aan my, ek stamp aan Oupa en hy gaan maak oop.

Naby Otjituru het Pa weer aan my gestamp. Ek het my kop gelig en aan Oupa gestamp. Toe besef ek die bakkie beweeg nog. Dit is nie ‘n hek nie. Pa wil net hê ons moet na die koedoes langs die pad kyk.

“Nee, Oupa!”

Te laat.

Die deur was reeds oop, Oupa besig om uit te klim terwyl Anneli sing: “Neem my op vlerke…”

Oupa Swannie het darem niks gebreek nie. Maar hy is ‘n waardige man, ek gaan nie hier vertel van sy nerfaf lyf en sy stukkende bril en hoe hy gevloek het waar hy in die stof gelê het nie.

Die res van die pad het ons in doodse stilte afgelê.

Dankie Dana Snyman!