Dead or Alive – Tom Clancy

Red Storm Rising van Tom Clancy was die heel eerste boek wat ek vir myself gekoop het, en teen bladsy twintig was ek ‘n Tom Clancy aanhanger. Ek het hulle almal verslind so vinnig as wat hy hulle kon skryf, Cardinal of the Kremlin, Hunt for Red October, Patriot Games, Clear and present Danger…die lys is lank.

Clancy het toe vir ‘n ruk ander projekte aangepak saam met mede skrywers, soos die Ops Centre reeks en later sy boeke oor Rainbow six (hulle was eintlik nie so sleg nie), maar dit was nie meer dieselfde nie. Nou, na baie jare in die doldrums skryf hy hierdie boek in die “ou” styl. Ek kon dit nie neersit nie. Die manier waarop hy al die karakters van sy vorige boeke  bymekaargebring het was ‘n uitstekende idee. Welkom terug Tom Clancy!

Natuurlik sal dit nie in almal se smaak val nie, maar as spioenasie, internasionale politiek, militêre krygstuig en taktiek saam met ‘n stewige dosis tegnologie en ‘n skeut intrige in jou kraal val sal jy nie teleurgesteld wees nie. Jy sal welliswaar dalk ‘n nag of twee se slaap mis, maar dit is immers vir ‘n goeie doel. Wat kan dan belangriker wees as om skouer aan skouer met Jack Ryan Snr en Jnr, Clark, Chavez, Mary Pat Foley en al die ander die wêreld te red van ‘n terreuraanval wat 9/11 na ‘n sondagskool piekniek laat lyk?

Samoe[r]sa reis. C. Johan Bakkes

Ek is ‘n ou wat maar stadig lees, so met die vingertjie wat die lyntjies volg en die bekkie wat die woorde klank soos ek aangaan, so iemand wat iets wil skryf wat ek geniet moet stadig genoeg skryf sodat ek kan byhou.

Johan Bakkes is so ‘n skrywer. Een van die min wie se skrifsels ek altyd in een sitting deurlees. Ja dit help dat die boekies nie te dik is nie, hierdie een is so 150 bladsye, maar al was hy ook 1500 bladsye het al sy stories vir my dieselfde probleem. Hulle raak te gou klaar! Ja ek is ‘n groot Bakkes aanhanger, en daarmee diskwalifiseer ek sekerlik enige kredietwaardigheid van ‘n objektiewe resensie. Laat dit maar so wees, kuns in my nederige opinie is nie oor hoe duur dit is, wie se naam onderaan geteken is of hoeveel groot woorde dit bevat nie. Kuns gaan oor hoe dit jou maak voel.

Die karakters is dieselfde as voorheen: Johan Bakkes, Die boksombende en Pop Bakkes (‘n winkelpop uit ‘n klerewinkel in Zeerust). Die plek is Indië (vandaar die titel as ek moet raai) maar ook heelwat stories van mense en dinge hier ter plaatse. Die metode is ook dieselfde. Binne ‘n paar paragrawe laat die skrywer jou verlang na plekke waar jy nie was nie en mense wat jy nie ken nie op ‘n manier wat bitter min mense hom kan nadoen. Dit is ook waarom sy boeke nie baie dik is nie, hy gebruik baie min woorde om ongelooflik baie te sê.

Johan Bakkes wéét iets waaroor die res van ons rotresies net wonder. Dalk die feit dat hy verkies om “the road less traveled” te gebruik. Dalk omdat hy die mens agter die gesig beter as meeste kan raaksien. Wat dit ookal is, lees dit, ek dink dit is sy beste nog.

Ways of Staying – Kevin Bloom

‘n Mens kan nogal maklik mislei word deur hierdie boek se titel. Dit is allermins een van daardie reisbiljet tipe 100-redes-om-in Suid-Afrika-te bly goedvoel boekies nie, wat dit wel is is ‘n eerlike kykie na presies wat dit is waarvoor jy jouself opteken as jy wel een van die mense is wat besluit om in Suid Afrika te bly.

Ek moet erken dat die boek aanvanklik nie regtig vir my sin gemaak het nie, maar die boodskap het namate ek gevorder het begin kristaliseer. Deur die vertel van ‘n klompie stories, sommige soos die moord op die outeur se neef Richard Bloom en die se vriend Brett Goldin is alombekend vanweë die publisiteit wat dit ontvang het, ander soos die storie van vlugtelinggesin uit midde Afrika is bender bekend, neem hy jou op reis van die vervalle geboue in Johannesburg se middestad tot by Bourke’s Luck in Natal. Van ‘n welgestelde woonbuurt in Johannesburg met sy eie privaat weermag vir beskerming tot by Polokwane en die gebeure waartydens Pres Thabo Mbeki vervang is.

Dit is nie ‘n lekkerlees storie nie en daar is nie ‘n “happy ever after” nie. Tog is dit deurspek met hoop en optimisme, ten spyte van die stories waarna verwys word in die boek. Hy slaan jou wind uit, en jy vind jouself lank na die laaste bladsy nogsteeds besig om te herkou daaraan.