Die Staat teen Anna Bruwer

Ek was die eier wat gesweer het dat ek nooit weer ‘n boek van Anchien Troskie gaan koop tensy ek dit eers gelees het nie.  Verlede week vind ek toe uit dat daar ‘n opvolg op “Dis ek, Anna” is en natuurlik is ek toe nuuskierig.  Die heel naweek mik ek om dit te gaan soek, maar staan elke keer sterk.  Sondag dwaal ek toe by Exclusive in en skielik spring dit in my hand.  Ek kon dit nie afkry nie en koop dit toe met ‘n paar dreigemente aan Troskie vir as ek my geld mors. 

Ek besluit toe om net ‘n gevoel van die boek te kry voordat ek gaan slaap.  Net so ‘n paar bladsye net om die te sien watter rigting dit inslaan.  Twee en ‘n half uur later (insluitende ‘n paar kruisverwysings) het ek die laaste bladsy gelees.  Troskie het ‘n gemaklike skryfstyl en lees baie maklik.  Die boek het dit weer bewys. 

Daar was ‘n paar goed wat gepla het.  In die eerste boek kan ‘n mens maklik uitwerk wanneer sy gebore is.  Om een voorbeeld te noem – sy het in 1984 16 jaar oud geword.  Dit beteken sy is in 1968 gebore.  “Die staat teen Anna Bruwer” speel in 2004 af en daar word verskeie kere genoem dat Anna 30 jaar oud is.  Onmoontlik – selfs as ‘n mens 1 of 2 jaar plus/minus.  Verder het ek die woord vergiffenis hinderlik gevind, maar dit is ‘n woord volgens die HAT.  Dit is dus my probleem, nie die skrywer s’n nie. 

Die skrywer herinner mens in die begin en einde van die boek dat dit net fiksie is.  Daar is dus goed wat nie heeltemal ooreenstem met realiteit nie.  In die sin dink ek dalk dat die boek dalk ‘n bietjie oor optimisties geskryf is.  Die staatsaanklaer kon volgens my baie meer vernynig gewees het.  Dit kon ‘n groter gestoei van morele waardes gewees het. 

Ek het egter baie van die boek gehou.  As die wêreld nou maar eenmal so gewerk het, het ons op ‘n beter plek gewoon.  Geregtigheid het geseëvier en boontjie het sy loontjie gekry.  Ek is natuurlik ‘n leek, maar ek dink die verskil was dat Troskie net haar storie vertel het.  Sy het nie probeer diep wees nie en het dus nie daarmee misluk nie.  Daar is wel ‘n paar belangrike lewenslesse verskuil. 

Ek beveel dit aan as ‘n lekkerlees boek.

Advertisements