Wat’s Nuus?

Ek het al genoem dat ek nie veel ooghare vir Biografieë het nie.  Ek moet egter erken dat ek my tande vir die boek geslyp het vandat ek die eerste keer daarvan gehoor het.  Riaan Cruywagen was immers ‘n bekende op Televisie (en Radio!) lank voordat ek gebore is. 

Agter op die boek is daar ‘n mening van Leon van Nierop dat die boek neerkom op ‘n kaggelvuur kuier met rooi wyn.  (Ek kan nie nou die presiese woorde onthou nie).  Nadat ek die boek gelees het, moet ek hom gelyk gee. 

Cruywagen het nog altyd by my die indruk geskep dat hy puntenerig is, maar tog met ‘n fyn humorsin.  Dit word nogal in die boek geonderstreep.  Dit is ‘n boek van sy lewe – nie hoe hy daardeur gewroeg het nie, maar goed wat hom duidelik na aan die hart lê en die vriende wat hy oor die jare gemaak het.  Om van die Cruywagen familietrots nie te praat nie. 

Dalk kan ‘n mens dit beter beskryf as ‘n samevatting van al sy staaltjies.  Daar was beskrywings wat my laat skreeu het van die lag.  Natuurlik kan daar na 47 jaar in die uitsaaiwese nie net goeie herinneringe wees nie.  Tog is daar nêrens in die boek ‘n moddergooiery nie.  Nie eers nadat die SABC hom en van sy kollegas onder die agterent geskop het nie. 

Dit is duidelik dat daar goed is wat Cruywagen bloot net nie aanstaan nie.  Hy is byvoorbeeld baie driftig oor mense wat nie goeie Standaardafrikaans gebruik in die media nie.  ‘n Irritasie wat ek met hom deel (hoewel ek redelik seker is dat hy nie my Afrikaans sal waardeer nie).  Hy vertel byvoorbeeld hoe iemand gesê het dat goeie taalgebruik dit is wat nuuslesers gebruik.  Van die SAUK kan vandag baie gesê word, maar hulle doen nogtans moeite dat hulle nuuslesers se taal onberispelik is. 

Wat nogal ‘n indruk op my gemaak het, is hoe hard die Cruywagen gesin gewerk het om te kom waar hulle vandag is.  Daar was nie terug gesit en gewag vir almoese nie.  Nee, daar was ingespring en gewerk.  Die storie wat seker in baie Afrikaanse gesinne weerspieël kan word. 

Hierdie was ‘n boek wat ek terdeë geniet het. 

Toevallig het Rapport vandag ook ‘n resensie oor Wat’s Nuus gehad.

Advertisements

Padmaker – Christine Barkhuizen le Roux

Op die buiteblad word dit genoem: ‘n Deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind en die afdruk wat een geslag op ‘n volgende laat.

As sy reg onthou, was dit dieselfde aand dat haar pa vertel het van die ingenieur wat ook ‘n dominee en sosiale werker was, dat hy dié ding gesê het wat sy nou eers verstaan: ‘Liefde is soos ‘n aflosstokkie, my kind. ‘n Mens kan dit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.”

Twee maande na die verdwyning van haar bejaarde ma besluit Katrien om die paaie van haar kinderjare na te ry. Haar reis neem haar terug na die padkampe waar haar saggeaarde pa, ‘n padskraperoperateur, met sy stories oor die padwerke die lewe vir haar uitgelê het. Daar het haar ma, met haar verbete stryd teen die armoede van die kampe, se probleme begin. Katrien se opsoek van die mense en die plekke wat haar gevorm het, is meer as net ‘n herinneringstog. Dit is ‘n poging om haar ma te verstaan en om haar eie weg vorentoe te vind. Op die oop pad onthou sy weer haar pa se woorde: “Om te weet waarheen jy op pad is, moet ‘n mens onthou waar jy vandaan kom.”

Christine Barkhuizen le Roux is op Vryburg gebore en woon deesdae op ‘n plaas naby Barrydale. Haar debuutdigbundel, dimensie, het in 2000 verskyn. In 2006 het ‘n kortverhaalbundel, Waar koek en wyn ontbreek, en ‘n tweede digbundel, roset, gevolg. Verskeie van haar gedigte is in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings, onder andere Groot Verseboek, opgeneem. PADMAKER is haar eerste roman.

Die boek was een van dié op my lysie vir 2010 waarby ek nie uitgekom het nie, en gelukkig kon ek dit toe vir Kersfees bestel. Ek het haar kortverhaalbundel ‘n jaar of twee gelede onder oë gehad en hoewel ek nie veel kan onthou nie, onthou ek dat my indruk gunstig was. Vir iemand wat in soveel genres kan skryf, het ek in elk geval groot bewondering. Dat sy talentvol is, is nie te betwyfel nie.

Ek dink Padmaker sal enigiemand aangryp wat belangstel in die verwikkeldheid van menslike verhoudings en sommer van die mens as sulks. Dis nie ‘n prettige storie nie, maar die hartseer en onbegrip tussen mense word gebalanseer deur die krag van die liefde tussen mense wat met bande van bloed gebind word. Ook tussen die dogtertjie en haar moeilike ma (wie se moeilikgeit sy nou ‘n naam kan gee en kan begin verstaan) bly die liefde altyd ten spyte van die onbegrip en wrywing.
Die beskrywing van die SA landskap waardeur sy ry, met die klem op die wonderlike plekname, word aangrypend gedoen. Enigiemand wat die land liefhet, sal aangeraak word daardeur. Ook die mense wat sy op haar reis ontmoet, word in fyn detail beskryf.
‘n Mens kan nie anders as om te wonder tot hoe ‘n mate dit ‘n outobiografiese werk is nie. Die taal is deurgaans pragtig en die hoofkarakters word gebalanseerd beskryf – niemand is net goed of net sleg nie.
Ek beveel die boek beslis aan en ek hoop daar kom nog prosa uit haar pen.

Gesant van God

“Gesant van God” deur Broer Yun en Paul Hattaway is ‘n besliste moet-lees vir elkeen wat sê hy is ‘n Christen. Die ware verhaal van Broer Yun word in detail vertel. Dit is die een wonderwerk na die ander, genoeg om jou asem te laat wegslaan. Maar die realiteit van vervolging word ook baie duidelik  uitgespel. Vervolging. Tronkstraf. Marteling in die ergste graad. Ontsnappings. Hy vas vir 74 dae! Dit vertel die verhaal van mense wat tot bekering kom…..   Dis die storie van ‘n gewone mens nes ek en jy, maar ‘n gehoorsame mens. Ek beveel hierdie boek beslis aan.

Die engelse weergawe is: “The Heavenly Man”

For the love of a son – Jean Sasson

Kort voor my vakansie begin, haas ek my by die biblioteek in. Ek is verby laat, het nog ’n afspraak wat wag en het werklik net 10 minute om nuwe boeke uit te soek. Dus maak ek sommer vinnig ’n draai by die trollie met boeke wat daai dag ingekom het en gryp net ’n paar wat interessant lyk. So vat ek hierdie een.

Die boek begin stadig en ek wou-wou dit net ’n mis gee, want deesdae het ek te oud geword om deur ’n boek te worstel net om te kan sê ek het dit darem klaar gelees. Net toe ek egter begin vaak raak, tel die boek spoed op.

Die titel van hierdie boek is effens misleidend en dalk net gekies om mense se aandag te kry. Terwyl die boek nie presies is wat ek verwag het as gevolg van die titel nie, het ek die boek uiteindelik baie geniet en die inhoud was vir my in baie opsigte ‘n openbaring.

Ons kla so maklik oor die toestande in ons land, die misdaad en die swak diens. Maar ons het nie regtig die vaagste benul hoe gelukkig ons nog is nie, veral as vrouens.

Kortliks gaan die boek oor Maryam, ’n Afghaniese vrou. Vandat Maryam klein was, het sy al gerebelleer teen die diskriminasie in haar land teen vroue. Sy is bevoorreg om in ‘n redelik welvarende gesin groot te word, met ‘n ma en pa wat nie heeltemal so bekrompe is oor vrouregte as die res van haar familie nie.

Sy beleef hoe verskeie van haar vroulike familielede mishandel word deur hul mans en sweer dat sy nooit sal toelaat dat so iets met haar gebeur nie. Dan neem die Russe Kabul oor en omdat Maryam haar op allerlei maniere verset teen hulle, moet haar ouers naderhand reël dat sy landuit vlug, om haar lewe te red.

Haar pa gaan saam met haar en later emigreer hulle na Amerika. Hier ervaar Maryam vir die eerste keer as vrou totale vryheid. Haar land se tradisie kan sy egter selfs hier nie ontduik nie en sy begewe haar uiteindelik in ’n huwelik met ’n mede landsgenoot, soos deur haar pa gereël. Dié man is egter die duiwel gereinkarneer en Maryam word geslaan, mishandel en verkrag.

Ongeag die feit dat hulle in Amerika is, waar so iets nie behoort te gebeur nie, kry Maryam byna geen ondersteuning van haar familie nie, want die ingebore geloof dat die vrou die man se eiendom is om mee te maak wat hy wil, verhoed dat haar familie haar red uit die man se kloue.

Na die geboorte van haar seun, besluit Maryam om haarself te red en sy vlug weg van Kaiss, haar man. Sy begin die skeisaak en doen aansoek vir ’n interdik, maar voor enige iets gefinaliseer kan word, steel Kaiss hul seun en vlug terug na Afghanistan.

Daar is geen manier wat sy haar seun kan gaan terughaal nie, die Amerikaanse regering kan haar nie help nie, en intussen word Afghanistan verskeur deur oorloë. Elke dag vrees sy dat haar kind in die kruisvuur van ’n verskeurde land kan beland.

Met tussenposes probeer Maryam deur vriende en familie kontak te maak met haar seun, maar jare gaan verby waarin sy nie veel uitrig behalwe net om te hoor dat hy nog lewe nie.

Die boek eindig nie soos wat ek gehoop het nie en dit het my net weer laat besef dat die omstandighede waarin ’n kind grootword, tog wel ’n groot rol speel in hoe hy ontwikkel.

Die boek het my egter vir die eerste keer laat besef dat Afghanistan nie sommer net daai land is op TV waar ek altyd hoor hoe maak die mense oorlog nie en hoe meng Amerika in nie. Dit het vir my die gewone inwoners van ‘n eens pragtige land MENS gemaak.

En dit het my weereens naar gemaak oor die wreedheid van mens teenoor mens, en hier spesifiek van mans teenoor vrouens. Volgens hierdie mense se tradisie kon ’n man sy vrou doodmaak sonder enige gevolge en al reaksie sou wees; ”Foeitog, die arme man. Sy moes hom so ver gedryf het.”

Met die heerskappy van die Taliban (1996) het alles net nog veel erger geword. Vrouens mag nie meer hulle huise verlaat het nie, hulle mag nie gewerk het buite hul huis nie en hulle is ook nie toegelaat om enige skool by te woon nie. Dans is verbied, musiek is oral verbied. Sou jy gevang word in besit van ’n musiekkasset was jou voorland die tronk. Televisie is verban en alle kameras, films en foto’s is vernietig, want dis beskou as selfliefde, ‘n groot sonde.

Vrouens wat weduwees was en voorheen gewerk het in ordentlike beroepe soos die onderwys, moes nou by die huis bly en het geen manier gehad om hul kinders te versorg nie. Baie van hulle het hul uiteindelik uit desperaatheid na prostitusie gewend, wat die Taliban vreemd genoeg  toegelaat het, of te wel basies net ignoreer het.

Ek is nie spyt ek het die boek gelees nie en ek sal graag meer van Jean Sasson se boeke wil lees.

‘n Hemelhoë hekkie – Douwleen Bredenhann

Ek was bang om die boek te lees. Om kennis te neem van iets so verskrikliks, beteken immers ook om te erken dit kan ook met jou gebeur. Maar ek is nie spyt nie.
Die boek is in ‘n sober, eerlike styl geskryf, sonder pretensie of pogings om simpatie te werf…. Dis die verhaal van ‘n vrou en ‘n gesin wat ‘n onmenslike, onbegrypbare verlies ervaar het en op een of ander manier daarin geslaag het om voort te gaan. Dis ‘n eerlike kyk na hoe hulle dit ervaar, wat hul in retrospek anders sou gedoen het, die gedrag van ander mense wat dit vir hul makliker of moeiliker gemaak het. Wat ek sal onthou? Dat ‘n ma se liefde nooit verbygaan nie. En dat ‘n mens nie met mooi woorde na iemand in rou hoef te gaan nie – want geen woorde kan dit regtig beter maak nie. En dat vergifnis geen eenvoudige saak is nie – ook nie vir christene nie. En laastens: Dat ‘n mens ook onder deur kan kruip as die hekkie vir jou te hoog is.

‘n Blywende Vreugde – Audrey Blignault

Hierdie boek is al elders ook bespreek, maar ek sal voel asof ek iets onvoltooids laat as ek nie my eie opinie van die boek neerpen nie. Alhoewel ek jare terug heelwat van Audrey se vroeëre bundels gelees het, sal ek moet jok as ek sê ek onthou wanneer laas ek iets van haar gelees het. Ek onthou wel dat ek haar skrywes altyd heluit geniet het, maar dié onthou het eers weer teruggekom toe ek nou hierdie briewebundel van haar begin lees.

Ek het al op ver en vreemde paaie gedwaal met my lesery. Daar is al van my gesê dat ek alles lees waarop ek my hande lê, tot die etikette om blikkieskos! Dis nie te ver van die waarheid nie en omdat ek so alles lees, lees ek soms ook swakker boeke, maar ek het hierdie leesdrif in my wat sal maak dat ek selfs ‘n swak boek probeer klaar lees, eerder as om nie te weet hoe eindig die storie nie.

Toe ek met Audrey se boek in my hand staan in die biblioteek, het ek gewonder of ek regtig lus het om iemand se briewe te lees, maar onverklaarbaar kon ek dit ook nie terugsit op die rak nie. En van die eerste woord af was ek vasgevang en kon ek nie ophou lees nie. Dis vir my eintlik jammer dat die briewe nie kon aanhou tot 2008 nie.

Ek kon nie wag om te lees hoe Audrey die nuwe Suid-Afrika en sy skrywers ervaar het nie en ek is eintlik half teleurgesteld dat daar nie meer van haar briewe is waar sy daaroor skryf nie. Ek het ook lekker gelag toe sy vertel dat sy nie van plan is om ooit ‘n hygroman te lees nie. Dis nogal jammer, ek sou graag haar kommentaar daaroor wou hoor. Toemaar Audrey, ek moet ook nog ‘n hygroman lees!

Haar briewe is vir my ‘n rykdom van aanhalings wat ek neergepen het en altyd wil onthou en van boeke wat sy aanbeveel het, wat ek nou wil gaan soek en lees. Sommiges sal seker al uit druk wees, maar ek is seker dat ek deur haar ‘n hele paar gaan ontdek wat ek ook gaan gate uit geniet om te lees.

Ek wil graag een van haar aanhalings van Rilke hier neerpen. Dis vir my so pragtig verwoord:

“Gedigte is nie, soos mense dink, eenvoudig emosies nie (‘n mens het vroeg genoeg emosies) – gedigte is ervaringe. Ter wille van ‘n enkele gedig moet ‘n mens baie stede, baie mense en baie dinge sien. Jy moet diere begryp, jy moet voel hoe voëls vlieg, en jy moet die gebaar ken waarmee klein blommetjies in die oggend oopgaan. ‘n Mens moet kan terugdink aan paaie in onbekende streke, aan onverwagte ontmoetings en aan ‘n afskeid wat jy lank tevore sien aankom het. Jy moet dae uit jou kindertyd kan herroep, daar waaroor jy nog nie helderheid het nie, aan jou ouers wat jy moes krenk toe hulle jou tog ‘n plesier wou besorg en jy dit nie begryp het nie. Jy moet kan dink aan dae in stil gedempte vertrekke en aan oggende by die see, aan die see veral, aan oseane, aan nagte op reis wat hoog om jou verrys en saam met die sterre verdwyn, en dit is nog nie genoeg wanneer ‘n mens aan al hierdie dinge dink nie.

‘n Mens moet die herinnering hê aan baie liefdesnagte, waarvan nie één soos die ander was nie, aan kermende vroue in barensnood. Maar ook by sterwendes moet ‘n mens gewees het, ‘n mens moet by ‘n dode in ‘n kamer gesit het, in ‘n kamer met ‘n oop raam en die geluide wat in rukkende vlae binnekom.

Dit is ook nie genoeg dat ‘n mens die herinneringe het nie. Eers wanneer die herinneringe bloed word in ons, in die uitdrukking van ons oë, nameloos en nie meer te onderskei van onsself nie – eers dán kan dit gebeur dat in ‘n seer seldsame uur die eerste woord van ‘n vers in ons opstaan en van ons uitgaan.”

Audrey was ‘n mens met ‘n fyn siel, vir my ‘n regte ouwêreldse dame, met ‘n fyn humorsin en ‘n heerlike onnutsigheid aan haar. Die wat haar geken het, is voorwaar bevoorreg.

Vir enigiemand wat die Afrikaanse taal koester en versot is op lees, is Audrey se boeke, en ‘n Blywende Vreugde spesifiek, ‘n absolute noodsaaklikheid om te lees. Ek wil nou weer al haar bundels lees.