Fliek: Like Dandelion Dust

Like Dandelion Dust is gegrond op die boek, geskryf deur Karen Kingsbury.

In LIKE DANDELION DUST word daar na een van die samelewing se mees tragiese situasies gekyk. Twee ouerpare baklei oor ‘n 6-jarige seuntjie wat opgegee is vir aanneming nadat sy pa tronk toe gestuur is omdat hy sy vrou mishandel het, as gevolg van alkoholmisbruik.

Die fliek begin waar Rip Porter in hegtenis geneem word, nadat hy, in sy dronkenskap, sy vrou ernstig aangerand het. Sewe jaar later kom hy uit die tronk en Wendy, sy vrou, wag vir hom. Dit wil voorkom asof Rip heeltemal gerehabiliteer het in die tronk en hy vertel vir Wendy dat sy destyds die regte ding gedoen het deur die polisie te bel en dat hulle twee saam nou ‘n nuwe begin gaan maak en alles gaan beter wees as voorheen.

Toe hy begin praat van ‘n gesin begin, vertel sy hom van hul seuntjie wat sy laat aanneem het. Na hy gevonnis is, het sy uitgevind sy is swanger en het besluit dit sal beter wees as die kind aangeneem word. Hy het blykbaar die aannemingsdokumente in die tronk geteken, maar Rip sweer hy het nooit enige dokumente geteken nie en die twee vind uit iemand van die tronk moes sy handtekening vervals het. Hulle besluit dan om hul seun terug te eis, want die aanneming was dus nooit wettig nie.

Intussen lewe klein Joey onwetend ‘n idilliese lewe saam met sy aanneem-ouers, Jack en Molly Campbell, in ‘n pragtige huis naby die see, in Florida. Jack en Molly is welaf en Joey kom niks kort nie, nie fisies nie en ook nie emosioneel nie. Sy ouers gee hom nie net aardse goed nie, maar ook baie liefde en aandag.

Dan bars die bom en hulle hoor dat hulle Joey sal moet teruggee vir sy regte ouers. Ek gaan nie meer van die storie vertel nie, want dan bederf ek dit vir iemand wat self wil gaan kyk.

Dit was vir my ‘n moelike fliek om te kyk, want ek haat enige iets waar ‘n kind te na gekom word. Ek was egter heeltyd in twee geskeur vir Wendy, Joey se regte ma, en vir Molly, wat Joey vir 6 jaar grootgemaak het en so bitter lief het. Maar meer as enige iets anders, wou ek, net soos Jack, iemand aanrand oor wat hulle aan ‘n klein ou seuntjie doen wat glad nie verstaan wat aangaan nie en net een ma en pa ken. DIT, die fout van ‘n grootmens iewers, wat nie seker gemaak het van ‘n regte handtekening nie, was besig om ‘n onskuldige kind se lewe vir altyd te verander op die mees wrede manier denkbaar.

In Amerika is verlede jaar AGT aannemings omgekeer as gevolg van vervalste handtekeninge. En waar is die kind se belange in daardie tyd? Ook in hierdie fliek word daar eerstens na die biologiese ouers se regte gekyk en DAN eers na die kind! Dit skrei ten hemele.

Hierdie fliek wys die menslikheid van elke karakter en herinner ons ook daaraan dat elkeen van ons die potensiaal het om ons beste of ons slegste in ons karakter uit te leef, afhangende van die omstandighede waarin ons onsself bevind.

Uiteindelik is klein Joey se toekoms in die hande van sy twee ma’s. Sal een van hulle hom lief genoeg hê om hom te laat gaan? Gaan kyk self, maar neem genoeg tissues saam. Ek het my kop seer gehuil in hierdie fliek!

Advertisements

Fliek: The social network

Ek het die fliek net gaan kyk omdat dit vir soveel Oscars benoem is – en omdat ek versot is op facebook. Ten spyte van die totale afwesigheid van enige aksie of romanse (ek tel nie dronk studentelosbandigheid vir romanse nie) het dit my die volle twee ure lank op my stoel vasgenael gehou. Maar nie op ‘n lekker, ontspannende manier nie – ons Afrikaanse ore sukkel maar om by te hou by die massas woorde wat die karakters, veral die hoofkarakter, soos geweervuur uitspoeg. Dit het konsentreer gekos. Ek sal dit graag weer later op DVD met onderskrifte wil kyk, want ek is seker ek het heelwat detail gemis. Maar die vinnige gepraat dra beslis baie effektief by tot die volgehoue spanning en keer dat die fliek vervelig raak, al word daar feitlik die hele tyd net gepraat. (Dis duidelik dat studente beslis kan multi-task – drink en praat tegelyk!)
Een resensent sê die fliek is alles behalwe bloot die verhaal van die ontstaan van facebook, en hy slaan die spyker op die kop. Die fliek gaan eintlik oor vriendskap, ambisie, jaloesie, verraad, die mag van geld – almal universele temas waarmee enigiemand kan identifiseer. Ek het dan ook met ‘n hartseer hart en diep simpatie vir die hoofkarakter daar uitgekom. Hy is ‘n absolute … nee, ek ken nie die regte publiseerbare woord nie. Maar jou hart bloei vir hom, want hy verloor eintlik alles wat saakmaak, ten spyte van die oorweldigende massa geld wat hy maak. (Die regte Mark Zuckerberg het blykbaar gesê die fliek is baie ver van die waarheid af – en ek hoop vir sy eie part dis waar!)
Ek is nie ‘n kenner van akteurs nie en weet niks van al die jong manne wat die fliek versier nie. (Nee, nie die regte woord nie – dis net die Vinklevoss-tweeling wat iets is om na te kyk – enige romanseskrywer se droom – en dan is daar nog twee van hulle! Jammer so ‘n beeldskone karakter moes met so ‘n van opgesaal word! Hulle sorg ook vir die enigste happie humor wat ek kon vang: “I’m 6ft 2 and …. lbs – and there’s two of me!” Dis ook interessant om dop te hou hoe hanteer hul die twee broers wat deur dieselfde persoon gespeel word in die fliek – sou graag meer van die tegniese aspekte wou weet – hulle verskyn baie dikwels saam in dieselfde toneel – het nie ‘n benul hoe dit gedoen word nie.)
Jesse Eisenberg speel die hoofrol perfek. Hy is ‘n nerd met minder sosiale vaardighede as ‘n baksteen, hy is onbeskof, hy dubble-cross sy pelle – maar tog kry jy hom diep en innig jammer. (Of is dit net my moederhart wat so sag is?)
As jy bereid is om hard te werk en te konsentreer en sonder ‘n sweempie van ‘n feel-good gevoel uit die fliek te stap – go for it!
As jy tyd het, lees meer by http://www.imdb.com/title/tt1285016/

Fliek: Burlesque

Vandat ek die eerste voorprent van Burlesque gesien het, het ek doodeenvoudig geweet dat ek dit moes sien.  Dit is nie net omdat ek mal oor musicals en Cher is nie.  Die musiek en choreografie het my van die begin af aangetrek. 

‘n Burlesque is parodie.  Tess het ‘n klub waar skraps geklede meisies op die hoog dans terwyl hulle maak of hulle die liedjies sing.  Ali het van die plaas ontsnap om ‘n lewe in vermaak na te jaag.  Tess gee haar erg onwillig ‘n kans om haar staal te wys (nogal ironies – siende dat baie van die pop ikone op konserte eerder dans as sing).  Nadat sy ‘n streep deur een van die ander dansers getrek word, begin Ali die liedjie van die opvoering sing.  Daarmee word vriend en vyand verras. 

Om eerlik te wees, het ek my bedenkinge gehad oor Christina Aquilera.  Sangers wat skielik wil toneel speel is selde suksesvol.  Sy het my egter verras.  Ek was nooit seker hoe Cher ‘n Oscar gewen het nie.  Ek dink nie sy het haar karakter, Tess, tot haar volle potensiaal laat kom nie, maar dit kon te wyte gewees het aan te veel Botox of plastiese chirurgie. 

Die storielyn is maar so-so.  ‘n Mens gaan kyk in elk geval nie ‘n Musical om die storie tot op die been te ontleed nie.  Mens gaan kyk dit om terug te sit en gewow te word.  Daarin het Burlesque beslis geslaag.  Dit kan amper beskryf word as Chicago wat Coyote Ugly ontmoet, maar dit het beslis ook ‘n eie etiket. 

Die musiek wou my na die naaste CD winkel dryf om te kyk of dit al beskikbaar is.  Ek is goed bekend met Cher se musiek, maar Christina het ook ‘n sterk stem wat goed ingespan word in die fliek.  Die choreografie is mooi om na te kyk en die skraps geklede dames sal die manne ook gelukkig hou.  Dames, moet nie afgeskeep voel nie.  Cam Gigandet is genoeg om enige warmbloedige vrou te laat drool 

Ek moet die dialoog uitsonder, dit is vol witty opmerkings wat baie skerp is.  Puik.

Ek sal Burlesque 8 / 10 gee.  Belangriker as die punt, is dat ek nog nie sedert Mamma Mia ‘n fliek soveel geniet het as Burlesque nie.  Ek gaan dit beslis nog ‘n keer kyk. 

‘n Beslisde moet vir almal wat van musiek, dans, skerp opmerkings of net van mooi meisies hou.