Die Rebellie van Sloet Steenkamp – Paul C. Venter

Toe ek jonger was, het ek geglo as jy ‘n boek begin, MOET jy hom klaar lees. Soms het ek dae lank deur boeke geworstel wat my absoluut geen plesier gegee het nie en waar ek soms my oë moes rek om nie van verveling aan die slaap te raak nie. Maar lees, moes ek klaar lees.

Later het ek besluit dis absolute onsin om myself so te martel en as ek in die eerste hoofstuk nie vasgevang is deur ‘n boek nie, maak ek hom toe en nooit weer oop nie. Verlede week beland Die Rebellie van Sloet Steenkamp in my hande. Ek kyk die boekietjie só en wonder of ek lus is vir ‘n vervelige storie oor boere en oorlog. Ek was mal oor die TV-reeks Arende en al is dit dan nou net oor ek so baie van daai Sloet gehou het, besluit ek om hierdie Sloet ten minste ‘n kans te gee.

En ek sit die boek nie sommer maklik weer neer nie. Die storie gryp mens van die eerste bladsy af en is net mooi nêrens vervelig nie.

Kortliks gaan dit oor die tydperk in Suid-Wes (nou Namibië) toe die goewerneur-generaal in Windhoek ‘n bevel gegee het dat alle Britse en Suid-Afrikaanse burgers in Duitswes onmiddellik uitgesit moes word en terugkeer na hulle geboorteland toe.

Sloet en sy mense, wat destyds uit die Unie van Suid-Afrika getrek het omdat hy volstrek nie onder ‘n Engelse regering wou bly nie, sit nou met die dilemma dat hulle hul grond in Duitswes gaan verloor en weer onder Engelse hande gaan val. Vir Sloet is dit onaanvaarbaar en hy rebelleer – weereens.

Mense wat Arende gekyk het, sal karakters soos die Engelse kaptein Kerwin, Sloet se vrou Annette, Jimmy Kitchener, PJ Buys en nog ‘n paar ander, weer raakloop in hierdie lekker boek. Daar is ook die Namas en hul leier, die Profeet Bäal Stuurman, vir wie jy een oomblik die ewigheid wil instuur en die volgende oomblik weer jammer kry en selfs van hom begin hou.

Soms maak die politiek van destyds mens effens deurmekaar en jy moet mooi lees om by te hou by wie nou eintlik aan wie se kant is, maar alles val mettertyd netjies in plek. Die boek is nie swaar oorlog leesstof nie, en daar is genoeg humor afgewissel met die ernstige dele om die boek ‘n werklike lekker-lees een te maak. Ek sal my min verbaas as ons hierdie een ook binnekort as TV-reeks gaan sien!

Advertisements

Tussen Stasies – Irma Joubert

So ‘n week terug lees ek ‘n biblioteekboek, Ver wink die Suiderkruis deur Irma Joubert.  Op die voorkant sien ek dit is die voorgeskiedenis van Kate en Bernard van Tussen Stasies, ‘n boek wat al geruime tyd in my boekrak staan, maar wat ek nog nie by lees uitgekom het nie.

Ek maak Ver wink die Suiderkruis klaar, ‘n lekker storie. Kate, ryk John Woodroffe se dogter, wat in die wurgende depressiejare besig is om haar tesis te doen oor die armblankes in Suid-Afrika. Daar is woedende myners in haar pa se myne, wat meer geld wil hê en daar is Bernard Neethling, ´n mynwerker. Hy moet haar oppas terwyl sy navorsing onder die armblankes doen. Hul wêrelde is so ver uitmekaar soos die Ooste en die Weste. Albei weet dit. Maar hy wil die Suiderkruis vir haar pluk. En dit, weet Kate, sal makliker wees as om hul liefde te laat blom.

Dis ‘n lekker liefdesverhaal, en toe ek klaar is, is ek nuuskierig oor wat verder gebeur en ek gaan haal Tussen Stasies uit my boekrak. Dit word ‘n boek wat my intrek en wegsleur, ‘n boek wat ek wens nie wil ophou nie, maar waar ek ook nie kan wag vir die einde nie, want ek wil SO graag hê die hartseer moet geluk word.

Tussen stasies vertel van Gretl, ´n Duitse weeskind van die Tweede Wêreldoorlog en haar verhouding met Jakób, ´n Poolse vryheidsvegter, wat haar een donker oorlognag gered het. Mens loop saam met Gretl, later Grietjie, van waar sy uit ‘n treintrok wat oppad is na Auschwitz, ontsnap, tot waar sy na Suid-Afrika kom, waar sy deur ´n Afrikaanse gesin aangeneem word.

Terwyl Gretl nog by Jakób se mense in Pole bly, kom hy agter sy kry nagmerries, maar toe hy haar daarna uitvra, wil sy nie daaroor praat nie, want dan “gaan die nagmerrie in die kamer agterbly.”

Jakób bly in Pole agter en Gretl word ´n Protestantse Afrikaanse Grietjie Neethling, Kate en Bernard se blondekopdogtertjie, wat hulle tot barstens toe liefhet. Maar ongeag hoe lief en goed haar nuwe ouers vir haar is, daar is dinge wat Gretl met haar saamdra wat net te groot is vir haar kleindogtertjielyf.

Soos die keer wat haar aangenome broer, Kobus, die sitkamer binnekom met ‘n geweer. Gretl skrik haarself wit en toe sy hom vra wat hy met die geweer gaan doen, is sy stom verbaas oor sy antwoord dat hy muisvoëls gaan skiet. Omdat nie een haar verbasing verstaan nie, vra Kobus haar ongeërg wat sy dan dink hy anders met die geweer gaan skiet.

“Mense,” antwoord sy sonder huiwering. Dit skok haar ouers en broer tot stilstand, en hulle besef dat haar verwysingsraamwerk soveel verskil van ander dogtertjies van haar ouderdom.

Jare later vra ‘n vriend wat sielkunde swot haar hoe sy alles wat met haar gebeur het, hanteer het, want sy was ‘n klein kind van ses jaar oud, toe haar hele familie van haar weggeneem is.

Sy antwoord (en dis vir my hartverskeurend):

“Ek het my dink klein gehou. Ek het naby gedink, nie wyer nie, veral nie agtertoe gedink nie. En as die agtertoedink wou insypel, het ek aan ander dinge gedink – stories.”

Maar selfs toe vertel Gretl nie alles nie. Daar is ‘n geheim wat sy met haar saamdra, ‘n geheim wat haar deur al die jare nog steeds nagmerries gee. Die enigste een wat al haar geheime ken, is Jakób, en sy weet nie eers of sy hom ooit weer in haar lewe gaan sien nie, want hy het agtergebly in Kommunistiese Pole en die Suid-Afrikaanse regering haat die kommuniste.

‘Tussen Stasies’ is die aangrypende verhaal van twee mense wat stry teen sosiale en ideologiese magte wat bots en hulle vir altyd van mekaar kan vervreem.

Maar wat my hart laat kramp het, was om aan al daardie Duitse oorlogwesies te dink.

Die feite: Die aankoms in 1948 van 83 Duitse weeskinders in Tafelbaai was die uiteinde van ‘n omstrede veldtog van die Dietse Kinderfonds. Een van die dryfvere was etniese purisme: sommige bestuurslede het voorkeur gegee aan kinders met ‘n Ariese stamboom. Sommige kinders is in Duitsland afgekeur weens hulle Poolse, Russiese of Joodse bloed, of hulle Rooms Katolieke geloof. Die hoofrede vir hierdie projek was klaarblyklik ideologies: die kinders moes protestantse Afrikaners word wat die Afrikanergetalle sou versterk.

Die onvertelde storie: Daardie weeskinders was, met die uitsondering van ‘n handjievol, almal 8 jaar en jonger. Van daardie kinders was ook nie werklik wees nie, hulle ouers het hulle afgeteken in die hoop om vir hulle ‘n beter toekoms hier in Suid-Afrika te gee. Hoe dapper moes daardie klein kindertjies nie gewees het, om ‘n drie-weke-seereis (soos Gretl gesê het) ver weg te gaan van hul land en alles wat bekend is nie? Om hier nuwe ouers te kom kry en ‘n nuwe taal en gewoontes aan te leer en te weet – hulle eie, eie familie sal hul dalk nooit weer sien nie.

Ek het meer gaan lees oor hierdie kinders, lees gerus meer HIER.