A thousand splendid suns – Khaled Hosseini

Khaled Hosseini is ook die skrywer van The kite runner wat gedurende 2007 in ‘n film omskep is.

In A thousand splendid suns skryf hy oor die lot van twee vroue in Afghanistan, Mariam en Laila.

Mariam – ‘n kind wat buite die eg gebore is en as sulks verwerp is deur haar pa – is slegs 15 jaar oud toe sy as bruid aan ‘n heelwat ouer man in ‘n dorp vêr van waar sy grootgeword het gestuur word. Haar huwelik is allesbehalwe gelukkig. Twintig jaar later trou Mariam se man met die jong Laila wat ook net 15 is. Na ‘n stormagtige begin, raak die twee vroue geweldig geheg aan mekaar en word Laila die kind wat Mariam nooit kon hê nie. Die twee vroue staan mekaar by deur die lyding wat ‘n wrede, lafhartige boelie van ‘n man en ‘n land geteister deur oorlog oor hulle pad bring. Dis die tyd van die Taliban – eers deur almal verwelkom as verlossers van die Russe, maar later gehaat as die oorsaak van geweervuur en bomme…en dood. Vir die vroue is die Taliban-regime nog erger. Hulle mag nie sonder die burka in die openbaar verskyn nie en moet ten alle tye vergesel wees van ‘n manlike familielid. Hongersnood, brutaliteit en vrees is waarmee hulle daagliks moet saamleef. Liefde triomfeer uiteindelik tog, al beteken dit dat ‘n ontsaglike hoë prys daarvoor betaal word.

Ek hou nie van boeke of flieks oor oorlog nie. Gedurende ‘n oorlog kom die mens se verskriklikste karaktereienskappe na vore. Niks is meer heilig nie. Noem my ‘n volstruis, maar ek verkies om nie daarmee gekonfronteer te word nie. A thousand suns is nie anders nie. Dis ‘n skokkende boek en mens is geneig om met Mariam se ma – ‘n verbitterde en ongelukkige vrou – saam te stem wanneer sy sê:

“It’s our lot in life, Mariam. Women like us. We endure. That’s all we have.”
“Learn this now and learn it well, my daughter: Like a compass needle that points north, a man’s accusing finger always finds a woman. Always. You remember that, Mariam.”

Hier word ‘n oorlog teen vroue gevoer en die gevolge is nie anders as die skade wat bomme en gewere aanrig nie. Vroue glo hulle is niks. Hulle maak hulle dogters groot om te glo hulle is niks. Hulle doen eenvoudig wat vir hulle gesê word.

Maar dan:

“..it was not regret any longer but a sensation of abundant peace that washed over her. She thought of her entry into this world, the harami(buite-egtelike) child of a lowly villager, an unintended thing, a pitiable, regrettable accident. A weed. And yet she was leaving the world as a woman who had loved and been loved back. She was leaving it as a friend, a companion, a guardian. A mother. A person of consequence at last.”

Ek het gesê ek hou nie van boeke oor oorlog nie. A thousand splendid suns het ek egter in een dag deurgelees.

Hoogs aan te bevele.

Advertisements