Wie Met Vuur Speel – Deon Meyer

Ek hoor al die afgelope paar jare van die uitmuntende spanningsverhale wat deur Deon Meyer geskryf word, maar vir een of ander rede het ek eers onlangs kennis gemaak met die man se skryfkuns toe my skoonsuster vir Orion in my hand gedruk het.

Nie lank daarna nie gee sy vir my Wie Met Vuur Speel en 13 Uur met die aanmaning om eers Wie Met Vuur Speel te lees, want sommige beskou 13 Uur as Deon Meyer se beste spanningsverhaal tot dusver. ‘n Tipiese los-die-beste-vir-laaste benadering.

So gesê so gemaak.

Wie Met Vuur Speel is Deon Meyer se eerste spanningsverhaal wat reeds in 1994 uitgegee is nadat hy verskeie kortverhale in Afrikaanse tydskrifte publiseer het. Op sy webwerf verwys Deon Meyer na Wie Met Vuur Speel as ‘n broer in die tronk – “jy kan dit nie ontken nie, maar praat ook nie graag daaroor nie”. Een van die resensies oor die herdruk in 2007 bestempel dit as ‘n goeie boek, maar dat dit duidelik is dat Deon Meyer deur die jare die fyner skryfkunsies bemeester het.

Vir my was dit lekker leesgenot. Nie te ingewikkeld geskryf met lang sinne en te veel bevoeglike naamwoorde. Minder kras as Orion. ‘n Kinkel in die kabel alhoewel miskien ‘n bietjie voorspelbaar. Genoeg spanning, aksie en humor om jou te laat aanhou lees al is daar ‘n paar ander dinge wat gedoen moet word.

Wie Met Vuur Speel is ‘n storie oor Ragel Bergh en Ivan Malan. Sy ‘n boekwinkel eienares wat heelwat geld verloor na ‘n paar swak besluite. Hy die een met die regte agtergrond, talente en kennis om deur alternatiewe kanale haar geld vir haar op te spoor.  

Ragel is naief, nuuskierig en emosioneel, maar het ook ‘n wil van haar eie wat gewoonlik bydrae tot die een of ander krisis. Ivan het ‘n verlede, een waarvan hy liefs wil vergeet en deel sy lewe met net 3 ander – Casius die kat, Carla die hond en Zatopek Smit sy regterhand en vertroueling.

Die verhaal van Ivan se verlede en die huidige saak van Ragel word skerpsinnig vermeng en word die leser vinnig ingetrek in die ontvouing van Ragel en Ivan se verhaal, die ontrafeling van misdaad en die uitoorlê van skurke.

Defintief ‘n boek wat ek sal aanbeveel.

😉

Advertisements

My nie-gunsteling vir 2010

Lees hier hoekom ek hierdie boek glad nie geniet het nie: http://marilecloete.wordpress.com/2010/12/26/aakligste-boek-van-2010/

Dit bly vir my interessant en eintlik ‘n misterie hoekom sekere lesers sekere boeke geniet of nie geniet nie. Dit bly maar subjektief en baie moeilik voorspelbaar. Wat vir my snaaks is, is dat ek so sterk negatief oor die boek voel, maar dit tog (feitlik!) heel gelees het. Gewoonlik laat ‘n boek ‘n mens bloot koud, of jy is verveeld, jy los dit en jy dink nie weer daaraan nie. Die boek het moontlik ‘n sterk impak op my gemaak omdat dit baie goed geskryf is, want dit is – regtig. Maar die karakters spreek my eenvoudig nie aan nie.