Uit die binneland – Dana Snyman

Ek hou nie eintlik van kortverhaal bundels nie. Ek hou van ‘n boek met ‘n begin en ‘n einde en tussen in moet ‘n ordentlike storie wees. Maar soms gaan ek deur ‘n stadium waar ek moeg raak van ‘hele’ boeke lees en dan krap ek rond vir kort stories of sketse. So kom ek toe af op Dana Snyman se bundel sketse – Uit die binneland.

Ek begin lees en kort voor lank kan ek die boek nie neersit nie; dalk ook omdat ek met so baie dinge waaroor hy skryf kan identifiseer. Ek lees ‘Neem my op vlerke’, en terwyl ek lees, begin ek lag. Ek lag naderhand so dat my huismense kom kyk wat aangaan. Ek probeer vir hulle voorlees, maar ek lag so, (want ek het toe mos reeds die prentjie in my kop), dat niemand ‘n woord kan uitmaak wat ek lees nie. Na ‘n paar probeerslae, waarin die lag net elke keer bo-oor my lees hardloop, het ek maar opgegee. Ek hoop Dana vergewe my, maar ek gaan die skets hier vir julle herhaal. Alle erkenning aan Dana Snyman, wie se ander boeke ek nog gaan soek en ook gaan lees!!! Ek hoop julle geniet dit net soveel soos ek.

Neem my op vlerke

Ek kan steeds nie na daardie liedjie luister nie. Daardie een van Anneli van Rooyen: “Neem my op vlerke”. As dit speel, skakel ek die radio af. Jammer.

Dit herinner my te veel aan die nag toe Oupa tussen Grootfontein en Otjituru in die ry uit ons Hilux-bakkie geklim het.

Ons is die oggend vroeg by die huis weg, op pad om by oom Jors Stroh op sy plaas anderkant Grootfontein te gaan jag. By Postmasburg ontdek ons toe ons het die tassie met die kassette vergeet. Al wat ons gehad het, was Annelie se Ek wil jou ken-kasset wat Ma in die Hilux se kassetspeler gelos het. (“Neem my op vlerke” is nommer 3 op kant 2, as ek dit nie mis het nie.)

Daar was darem ook die radio maar êrens tussen Nakop en Karasburg het dit ontroosbaar begin suis en krap. Toe stoot Pa maar vir Anneli in. Neem my op vlerke verby Karasburg, Grunau en Keetmanshoop. Later was dit donker. Êrens anderkant Rehoboth het die vaak gekom. Oupa het reeds geslaap. Ek weet want ek het met my kop teen hom gaan lê en ek kon voel hoe ruk die snork aan hom.

Pa het wakkerblypille gedrink.

Pa het ná daardie nag ook ‘n inskrywing in die Guinness Book of Records verdien: Die man wat die meeste kere agtereenvolgens na Anneli van Rooyen se Ek wil jou ken-kasset geluister het. Want halfvyf daardie oggend toe ons by die vulstasie op Grootfontein stilhou, meer as 1000 kilometer verder, toe sing sy steeds.

Die pad tussen Grootfontein en Otjituru, oor die makalanivlakte, het toe nog hekke gehad. Die vlakte het die naam gekry oor die baie makalanipalms wat daar groei; sulke hoës wat ‘n bietjie soos windpompe in die maanlig lyk.

Nie dat ek of Oupa daardie nag veel makalani’s gesien het nie. Ons het te lekker geslaap. Êrens het Pa stilgehou en my in die ribbes gestamp. Daar was ‘n hek. Ek het op my beurt aan Oupa gestamp en Oupa het uitgeklim en die hek gaan oopmaak. Anneli het bly sing. Pa het deurgery en Oupa het teruggeklim. Ek en Oupa het verder geslaap. Tot daar weer ‘n hek was. Ek weet nie deur hoeveel hekke ons is nie, maar later was dit ‘n outomatiese reaksie: Pa stamp aan my, ek stamp aan Oupa en hy gaan maak oop.

Naby Otjituru het Pa weer aan my gestamp. Ek het my kop gelig en aan Oupa gestamp. Toe besef ek die bakkie beweeg nog. Dit is nie ‘n hek nie. Pa wil net hê ons moet na die koedoes langs die pad kyk.

“Nee, Oupa!”

Te laat.

Die deur was reeds oop, Oupa besig om uit te klim terwyl Anneli sing: “Neem my op vlerke…”

Oupa Swannie het darem niks gebreek nie. Maar hy is ‘n waardige man, ek gaan nie hier vertel van sy nerfaf lyf en sy stukkende bril en hoe hy gevloek het waar hy in die stof gelê het nie.

Die res van die pad het ons in doodse stilte afgelê.

Dankie Dana Snyman!

Advertisements

Vier briewe vir Jan Ellis – Steve Hofmeyr

Ek het met groot afwagting en verwagting na hierdie boek uitgesien. Ek het nog altyd van Steve se musiek gehou en sy poësie is van die beste. Ek respekteer sy talent as kunstenaar, maar hierdie verskoning van ’n boek was vir my ’n groot teleurstelling.

Ek weet daar is baie wat van my gaan verskil, ek weet daar is selfs diegene wat my sal wil stenig oor my opinie. Hierdie boekie se storie maak weliswaar ‘n impak, maar of dit ‘n boek werd was? Ek glo te min. Dalk ‘n novelle iewers in ‘n literêre tydskrif. Niks meer as dit nie.

Vier briewe vir Jan Ellis is Steve Hofmeyr se prosa debuut. Dis ‘n storietjie oor hoe een gebeurtenis iemand se hele lewensloop drasties kan verander. Ek wil my verstout en waag om te sê dat die storie nooit ’n boekvorm sou gesien het as die skrywer enigiemand anders as Steve Hofmeyr was nie.

Nee wat Steve, ek glo jy kan beter as dit doen. Net soos wat ek nie op die veroordeel-wa geklim het toe jou kaskenades op die lappe gekom het nie, gaan ek beslis nou ook nie op die verheerliking-wa van hierdie askies-tog boekie van jou klim nie.

Skryf vir ons ‘n ordentlike storie, Steve – ek glo jy kan. Of moet ek nie my asem ophou nie?