Samoe[r]sa reis. C. Johan Bakkes

Ek is ‘n ou wat maar stadig lees, so met die vingertjie wat die lyntjies volg en die bekkie wat die woorde klank soos ek aangaan, so iemand wat iets wil skryf wat ek geniet moet stadig genoeg skryf sodat ek kan byhou.

Johan Bakkes is so ‘n skrywer. Een van die min wie se skrifsels ek altyd in een sitting deurlees. Ja dit help dat die boekies nie te dik is nie, hierdie een is so 150 bladsye, maar al was hy ook 1500 bladsye het al sy stories vir my dieselfde probleem. Hulle raak te gou klaar! Ja ek is ‘n groot Bakkes aanhanger, en daarmee diskwalifiseer ek sekerlik enige kredietwaardigheid van ‘n objektiewe resensie. Laat dit maar so wees, kuns in my nederige opinie is nie oor hoe duur dit is, wie se naam onderaan geteken is of hoeveel groot woorde dit bevat nie. Kuns gaan oor hoe dit jou maak voel.

Die karakters is dieselfde as voorheen: Johan Bakkes, Die boksombende en Pop Bakkes (‘n winkelpop uit ‘n klerewinkel in Zeerust). Die plek is Indië (vandaar die titel as ek moet raai) maar ook heelwat stories van mense en dinge hier ter plaatse. Die metode is ook dieselfde. Binne ‘n paar paragrawe laat die skrywer jou verlang na plekke waar jy nie was nie en mense wat jy nie ken nie op ‘n manier wat bitter min mense hom kan nadoen. Dit is ook waarom sy boeke nie baie dik is nie, hy gebruik baie min woorde om ongelooflik baie te sê.

Johan Bakkes wéét iets waaroor die res van ons rotresies net wonder. Dalk die feit dat hy verkies om “the road less traveled” te gebruik. Dalk omdat hy die mens agter die gesig beter as meeste kan raaksien. Wat dit ookal is, lees dit, ek dink dit is sy beste nog.

Advertisements

Die honger reisiger – Marié Heese

Lees gerus by hierdie skakel verskeie kenners se mening oor dié lekker boek: http://marilecloete.wordpress.com/boeke-om-te-onthou/marie-heese-die-honger-reisiger/
Ekself het die boek geniet en gehou van die kombinasie van reis en kos. En natuurlik is dit interessant dat die skrywer die dogter van die bekende en geliefde Audrey Blignault is.