Sanctuary – Nora Roberts

Sanctuary is ‘n heelwat ouer boek wat besonder baie herinner aan haar nuutste, The search. Die storie speel ook af op ‘n idilliese eiland daar iewers naby Florida en ‘n baie creepy stalker is ook daar bedrywig. Dis baie interessant om te sien hoeveel sy die tema in die nuutste boek uitgebrei het. Maar ek hou meer van die ouer boek – waarskynlik omdat die karakters nog ‘n ietsie meer romanties voorgestel word, hoewel hul geensins volmaak is nie. In haar nuutste boeke wil-wil die helde soms aan abusive begin grens, die heldinne is regtig soms so hardekwas dat ‘n mens moeilik kan glo hulle kan so vroulik en sexy tussen die lakens wees!
Die skrywer doen groot moeite om in die obsessiewe moordenaar se kop te klim en sy optrede te motiveer. Hier word dit veral gedoen met fotografie as die tema van sy vaardigheid, sy liefde en sy obsessie daarmee om die volmaakte oomblik op film vas te lê.
Die hoofkarakters word so duidelik geteken dat ‘n mens werklik met hulle kan identifiseer. Sy is ‘n sterk vrou wat haarself te ver gedryf het en gedwing word om skuiling te gaan soek by die enigste veilige hawe wat vir haar oor is – haar disfunksionele familie. Ongelukkig is die sanctuary toe nie so veilig nie … Hy kom terug na die eiland om te probeer verstaan – en te besluit of hy sy verskriklike geheim moet uitlaat. En natuurlik ontmoet hulle twee daar, soos toe hulle kinders was. En stry steeds oor wie nou eintlik destyds vir wie in die rivier gestamp het …
Daar is eintlik drie liefdesverhale inmekaar gestrengel. Aldrie is baie geloofwaardig en al die karakters word pragtig en oortuigend geteken. Maar ai, die seks raak nogal oorweldigend as die leser by drie paartjies se kaperjolle moet probeer byhou!
Die fotografie tema word deurgaans uitstekend gebruik en die besonderhede het nie vir my te veel geword, soos soms in haar boeke gebeur nie.
Die roerendste van die storie was egter vir my die pad van die gesin na herstel. Die rusies, die stadige bewus word van die band wat hulle in werklikheid bind, die sukkelende kommunikasie, die humor, die gedeelde herinneringe, en eindelik die punt waar broer en suster, pa en kind, vir mekaar kan sê: Ek is lief vir jou.
As jy van Roberts se boeke hou – laat waai! Jy sal nie teleurgesteld wees nie.

Advertisements

The Host – Stephenie Meyer

Ek lees byna enige iets, maar ek was nog nooit ‘n groot leser van wetenskapfiksie of stories oor vampiere en sulke goed nie. My meisiekind het beslis nie my liefde vir lees geërf nie, vir haar is lees byna soos tande trek. Toe ek dus hoor dat sy AL vier boeke in die Twilight reeks van Stephenie Meyer in minder as ‘n maand deurgelees het, het ek besluit ek moet sien wat is so boeiend aan hierdie stories.

Die enigste boek van Stephenie Meyer wat ek toe onmiddellik in die hande kon kry, was ‘The Host’. Blykbaar het Stephenie hierdie boek reeds in 2008 geskryf en dis maar nou eers wat dit regtig hier bekend begin raak het. Natuurlik as gevolg van haar gewilde Twilight reeks. ‘The Host’ is Stephenie Meyer se eerste sogenaamde volwasse roman. Blykbaar is die Twilight reeks meer vir tieners geskryf, maar sover ek gehoor het, verslind oud en jonk dit. (Ek het dit intussen ook verslind -LOL!)

Omdat dit ‘n wetenskapfiksie verhaal is oor ruimtewesens wat die aarde oorneem, was ek nogal skepties en onseker of ek dit regtig wil lees. Ek lees nie naastenby genoeg na my sin nie, maar besluit toe een Vrydagaand ek wil ‘n slag ‘n lekker boek lees. ‘The Host’ lê toe al ‘n week vir my en loer en ek dink toe ek sal ten minste die eerste hoofstuk lees en as dit ‘n pot strooi is, dan kan ek nog iets anders kies.

Wow, wat ‘n lees ervaring! Nog lank voor die einde van hoofstuk een was ek vasgevang – hoek, lyn en sinker. Die boek is heel naweek orals saam met my – en ek bedoel ORALS. Die Sondagoggend het ek die laaste hoofstuk gelees en ek was sommer mislik omdat die storie klaar is.

‘The Host’ is nie sommer net wetenskapfiksie nie – daar is avontuur, aksie, drama en naelbyt spanning ook. En dis ‘n anderster liefdesverhaal.

Die verhaal gaan oor ruimtewesens wat die aarde oorneem. Wesens bekend as ‘Souls’. Hierdie silwer, wurmagtige kreature kan net regtig lewe binne in ‘n ander wese. ‘n Soul het dus ‘n menseliggaam nodig as gasheer. Die Souls het ongemerk die Aarde infiltreer en hulself binne in mense begin vestig. Teen die tyd wat die mensdom begin agterkom het iets is verkeerd, was dit klaar te laat. ‘n Soul sal die menslike liggaam oorneem en die persoon binne-in doodeenvoudig uitwis, alhoewel hulle daardie persoon se geheue behou. Met die hulp van hierdie geheue, lok hulle dan ander mense en word hele families gou-gou oorgeneem.

Souls is ‘n vreedsame ras en voel dat die mensdom nie die lieflike planeet Aarde verdien nie, aangesien die mense mekaar vermoor en vermink en die aarde vernietig. Souls is ook ‘n hoogs gevorderde spesie wat alle siektes blitsig gesond maak, selfs die aarde se ongeneeslike siektes soos kanker. Verder maak Souls nie oorlog nie, hulle lieg nie, hulle oortree geen wette nie, nie eers ‘n spoedbeperking nie. Alle Souls werk vrywillig in die veld waarin hulle die beste is, daar is geen geldstelsel nie en enige iets wat ‘n Soul nodig het, gaan haal hy doodeenvoudig van die winkelrakke af. In kort, die Aarde is ‘n paradys onder die Souls se beheer.

Daar is egter geen plek meer vir “regte” mense nie. Die Souls het ‘n soort sekuriteitsmag – die Seekers – en hulle soek heeltyd na mense wat nog nie deur ‘n Soul oorgeneem is nie, vang hulle en maak van hulle ook Souls. Alles natuurlik baie ordentlik en vreedsaam, volgens die Souls.

Daar is egter sommige mense wat hulself nie so maklik laat oorneem nie en wat die ou Aarde wil terughê, foute en al. Een van hulle is Melanie Stryder, ‘n rebel wat weier om oor te gee en op vlug is saam met haar broer Jamie en haar minnaar, Jared.

Die stil oorlog is amper verby en daar is bitter min regte mense oor toe Melanie per ongeluk deur die Souls gevang word. Wanderer is ‘n Soul wat byna ‘n soort legende onder haar eie wesens is, omdat sy al op 8 ander planete gebly het – Souls bly gewoonlik nie op meer as 3 planete in hul leeftyd nie. Wanderer word in Melanie se liggaam oorgeplant, maar niemand het rekening gehou met Melanie se wilskrag nie. Melanie is sterk genoeg dat Wanderer dit nie regkry om haar heeltemal uit te wis nie.

Wanderer kan hierdie menslike wese glad nie verstaan nie. In die agt vorige gasheer liggame waarin sy al gebly het, het sy nog nooit met so iets te doen gekry nie. Wanderer se taak is om Melanie se geheime uit te snuffel en dan aan die Seekers oor te dra, sodat hulle die ander rebelle kan opspoor, maar Melanie bou ‘n figuurlike muur om haar geheue en al wat deurkom na Wanderer is Melanie se groot liefde vir Jamie en Jared.

Tot haar skok besef Wanderer dat sy gevoelens vir Jamie en Jared begin ontwikkel, dat sy bekommerd is oor hul veiligheid, na hulle verlang en dat sy simpatie het met Melanie wat vasgevang is in haar eie liggaam en net met haar verstand kan skop en skree en weerstand bied. Dan doen Wanderer die onvergeeflike. Sy vorm ‘n bondgenootskap met Melanie en saam gaan soek hulle vir Jamie en Jared. Melanie vertrou haar nie onmiddellik nie, maar mettertyd bewys Wanderer haarself bo verdenking, nie net aan Melanie nie, maar ook aan ‘n groep menslike rebelle.

Hoe meer Wanderer alle kante van menswees ervaar, hoe meer besef sy dat haar eie mense, die Souls, verkeerd was om hierdie spesie se planeet van hulle af weg te vat. Dit bring haar by die punt waar sy besluit om die hoogste offer te bring.

Ek gaan niks meer van die verhaal weggee nie, behalwe net dat die einde ‘n lekker onverwagte kinkel in het. Lees dit self – dis deur en deur die moeite werd. Dis regtig ‘n onvergeetlike storie oor die volharding van liefde en die kern van menswees.

In die slotparagraaf staan een sin vir my bo alles uit: Daar is nog hoop vir hierdie planeet van ons.

Spoor deur Deon Meyer

Hierdie (dikste) boek wat nog deur Deon Meyer geskryf is, is eintlik vier boeke waarvan die karakters en storielyne slim deurmekaar weef soos wat net Meyer kan.

Ons ontmoet vir Milla, wat vir haarself ‘n nuwe lewe probeer maak na die vernedering van haar man se leefstyl en ontrouheid. Haar begeerte om so bietjie dangerous te leef neem haar na situasies waarvan mens net oor die 7-uur nuus hoor.

Daar is die lyfwag Lemmer, wat moeilikheid aantrek soos ‘n magneet ten spyte van Lemmer se Eerste Wet: Moenie betrokke raak nie. ‘n Reddingspoging van die laaste twee lewendige swart renosters in Zim verander in ‘n nag van bedrog wat ‘n wrang smaak in sy mond laat en hy het ‘n score om te settle…

Ons loop ook ‘n ent saam met Mat Joubert, wat na 32 jaar diens in die SAPD die wêreld van privaat speurder betree. Hoe dieper hy grawe op soek na ‘n vermiste persoon, hoe minder maak dinge sin. Sy kliënt se fondse is boonop beperk en die horlosie tik. Gaan hy die saak opgelos kry voor haar geld op is?

En dan is daar die ouens op die Harleys en die gerugte dat Al-Qaeda besig is om wapens in die land in te bring…

My persoonlike mening:

Iemand wat nog nie ‘n Deon Meyer gelees het nie, mag dalk aanvanklik ‘n wenkbrou lig oor sy dialoog, maar ek bly verstom oor sy vermoë om die leser in staat te stel om die gesprekke te “hoor” en hom te vereenselwig met die karakter se gedagtes.

Alhoewel ek die boek geniet het, het ek gevoel daar was detail wat in die lug bly hang het – sommige goed wat ek verbind sou wou sien. Ek kan eerlik sê dat ek meer aangegryp was deur Infanta en 13 Uur.

Sal ek die boek aanbeveel? Ja.