Padmaker – Christine Barkhuizen le Roux

Op die buiteblad word dit genoem: ‘n Deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind en die afdruk wat een geslag op ‘n volgende laat.

As sy reg onthou, was dit dieselfde aand dat haar pa vertel het van die ingenieur wat ook ‘n dominee en sosiale werker was, dat hy dié ding gesê het wat sy nou eers verstaan: ‘Liefde is soos ‘n aflosstokkie, my kind. ‘n Mens kan dit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.”

Twee maande na die verdwyning van haar bejaarde ma besluit Katrien om die paaie van haar kinderjare na te ry. Haar reis neem haar terug na die padkampe waar haar saggeaarde pa, ‘n padskraperoperateur, met sy stories oor die padwerke die lewe vir haar uitgelê het. Daar het haar ma, met haar verbete stryd teen die armoede van die kampe, se probleme begin. Katrien se opsoek van die mense en die plekke wat haar gevorm het, is meer as net ‘n herinneringstog. Dit is ‘n poging om haar ma te verstaan en om haar eie weg vorentoe te vind. Op die oop pad onthou sy weer haar pa se woorde: “Om te weet waarheen jy op pad is, moet ‘n mens onthou waar jy vandaan kom.”

Christine Barkhuizen le Roux is op Vryburg gebore en woon deesdae op ‘n plaas naby Barrydale. Haar debuutdigbundel, dimensie, het in 2000 verskyn. In 2006 het ‘n kortverhaalbundel, Waar koek en wyn ontbreek, en ‘n tweede digbundel, roset, gevolg. Verskeie van haar gedigte is in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings, onder andere Groot Verseboek, opgeneem. PADMAKER is haar eerste roman.

Die boek was een van dié op my lysie vir 2010 waarby ek nie uitgekom het nie, en gelukkig kon ek dit toe vir Kersfees bestel. Ek het haar kortverhaalbundel ‘n jaar of twee gelede onder oë gehad en hoewel ek nie veel kan onthou nie, onthou ek dat my indruk gunstig was. Vir iemand wat in soveel genres kan skryf, het ek in elk geval groot bewondering. Dat sy talentvol is, is nie te betwyfel nie.

Ek dink Padmaker sal enigiemand aangryp wat belangstel in die verwikkeldheid van menslike verhoudings en sommer van die mens as sulks. Dis nie ‘n prettige storie nie, maar die hartseer en onbegrip tussen mense word gebalanseer deur die krag van die liefde tussen mense wat met bande van bloed gebind word. Ook tussen die dogtertjie en haar moeilike ma (wie se moeilikgeit sy nou ‘n naam kan gee en kan begin verstaan) bly die liefde altyd ten spyte van die onbegrip en wrywing.
Die beskrywing van die SA landskap waardeur sy ry, met die klem op die wonderlike plekname, word aangrypend gedoen. Enigiemand wat die land liefhet, sal aangeraak word daardeur. Ook die mense wat sy op haar reis ontmoet, word in fyn detail beskryf.
‘n Mens kan nie anders as om te wonder tot hoe ‘n mate dit ‘n outobiografiese werk is nie. Die taal is deurgaans pragtig en die hoofkarakters word gebalanseerd beskryf – niemand is net goed of net sleg nie.
Ek beveel die boek beslis aan en ek hoop daar kom nog prosa uit haar pen.

Advertisements

Gesant van God

“Gesant van God” deur Broer Yun en Paul Hattaway is ‘n besliste moet-lees vir elkeen wat sê hy is ‘n Christen. Die ware verhaal van Broer Yun word in detail vertel. Dit is die een wonderwerk na die ander, genoeg om jou asem te laat wegslaan. Maar die realiteit van vervolging word ook baie duidelik  uitgespel. Vervolging. Tronkstraf. Marteling in die ergste graad. Ontsnappings. Hy vas vir 74 dae! Dit vertel die verhaal van mense wat tot bekering kom…..   Dis die storie van ‘n gewone mens nes ek en jy, maar ‘n gehoorsame mens. Ek beveel hierdie boek beslis aan.

Die engelse weergawe is: “The Heavenly Man”

Trust me – Lesley Pearse

Ek hou nie regtig van historiese romans, met ‘n held en heldin en ‘n “happily ever after”. Ek hou van iets met meer om die lyf.

So twee jaar terug lees ek egter hierdie boek terwyl ek iewers vakansie hou en dit was al wat daar te lese was. Ek plaas die resensie weer hier, want ek dink die boek is absoluut die moeite werd om te lees.

Op ‘n manier het die boek toe ook ‘n “happily ever after” vir een van die karakters, maar wat ek in die boek gelees het, het my tot so ‘n mate geskok dat ek gaan naslaan het om meer te wete te kom. En dit waarop ek afgekom het, is NIE vir die “fainthearted” nie, maar ek voel tog om dit te deel.

Dis ‘n ongelooflike storie, een wat meer na ‘n slegte fliek klink as die werklikheid, maar dit het regtig gebeur. In die twee dekades na die Tweede Wêreldoorlog is 10 000 Engelse kinders na Australië gestuur. Baie van hierdie kinders is mishandel en misbruik. Vir al hierdie kinders is daar gelieg.

Die storie begin in Engeland na die oorlog – ‘n triomfantelike nasie, maar nogtans gehawend, bankrot en met die las van oorvol kinderhuise. Baie van hierdie kinders is na tehuise gestuur deur familie wat doodeenvoudig te arm was om hulle groot te maak. Wat hierna gebeur, is amper onmoontlik in ‘n beskaafde land in moderne tye.

Die Britse regering, in samewerking met die kerke en welsynorganisasies, smee ‘n geheime plan om van hierdie kinders ontslae te raak. ‘n Plan wat eers in die laat negentiger jare oopgevlek word. Hierdie kinders word vertel dat hulle na ‘n wonderlike nuwe land, met baie geleenthede, gaan en dat hulle daar ‘n groter kans sal hê om deur liefdevolle families aangeneem te word. En hulle is in hul duisende verskeep na Australië. So eenvoudig soos dit.

Die eerste skip wat in 1947 vertrek, is die SS Asturias. Vrag: 147 seuns en meisies. John Hennessy, een van die seuns en 11 jaar oud op daardie stadium, vertel:

“Ons het gedink Australië was net om die draai. Hoe moes ons weet dis aan die anderkant van die wêreld? In elk geval, hulle het ons vertel dis ‘n wonderlike plek met baie vrugte.”

Soos baie ander kinders, het Mary Molloy nie mooi begryp wat aan die kinders voorgestel is nie: “Ek het gedink ons gaan net weg vir ‘n rukkie.

Regoor Brittanje, by weeshuise en ander inrigtings, is dieselfde ding aan al die kinders vertel: julle gaan na ‘n nuwe land, ‘n nuwe lewe, ‘n nuwe familie. Baie was buite-egtelike kinders. Ander was kinders van enkelma’s wat finansieel nie meer alleen die mas kon opkom nie.

Vir al hierdie kinders is vertel dat hulle ouers dood is en dat hulle nou weeskinders is. Daar was niks en niemand meer vir hulle in Engeland nie en hulle sou beter af wees in die nuwe land.

Oor die volgende 20 jaar is 10 000 kinders, sommige so jonk as 3 jaar en geeneen ouer as 15 nie, na Australië gestuur.

Ses weke en 12 000 myl later, het die kinders arriveer in Fremantle hawe in Wes-Australië. Die kinders het opgewonde rondgekyk vir die vrugtebome, die kangaroos en hulle nuwe families, maar daar was nie ‘n teken van enige van hierdie beloofde dinge nie Daar het iets heel anders op hulle gewag.

Hierdie kinders was bloot ‘n kommoditeit wat uitgevoer is deur ‘n nasie wat ‘n surplus van kinders gehad het. Hulle is bloot verskeep vanuit inrigtings in Brittanje na inrigtings in Australië. Geen wonderlike nuwe lewe of familie het vir hulle gewag nie – slegs pikke en grawe en harde arbeid.

Hennessy vertel: “Nadat hulle ons vingerafdrukke geneem het, het hulle susters en broers van mekaar geskei. Die kinders het geskree toe hulle geskei word. Ek hoor vandag nog hoe hulle skree.”

John Hennessy is na ‘n plek genaamd Bindoon gestuur, ‘n inrigting wat bestuur is deur die ‘Christian Brothers’, ‘n orde van Katolieke monnike, 60 myl uit die beskawing, in die snikhete bosveld van Wes-Australië. Bindoon was ‘n inrigting en skool vir seuns, maar hier was onderwys geensins prioriteit nie.

Prioriteit was konstruksie. Broer Francis Keaney, ‘n imposante Ier wat aan die hoof van die inrigting was, het ‘n obsessie gehad om Bindoon op te bou as die grootste Katolieke inrigting in Wes-Australië. En die kinders was die arbeiders. Van sonsopkoms tot sonsondergang moes hierdie kinders aan Keany se heiligdom bou, sonder skoene en sonder vrae.

Bindoon is vandag ‘n regte skool, ‘n landboukollege, en word steeds bestuur deur die ‘Christian Brothers’. En oudskoliere is nie welkom nie, veral nie as hulle vergesel word van die pers nie. Dié wat dit gewaag het, is weggejaag van die perseel af. Die ‘Christian Brothers’ is nie gretig om blootgestel te word as gebruikers en misbruikers van kinderarbeid in die onlangse verlede nie.

Vir hierdie kinders was daar geen ontsnapkans nie. Die kos was soos iets uit ‘n Dickens verhaal. Hulle was konstant honger en ondervoed. As enige een gevang is waar hy kos steel, is hy kaal uitgetrek en byna doodgeslaan met ‘n sambok, voor al die ander kinders. Broer Keaney het self die slaanwerk gedoen.

Lyfstraf was deel van die kinders se daaglikse roetine. Deel van die nagtelike roetine was besoeke aan die kinders se beddens, deur die ‘Christian Brothers’. Soms het hulle seuntjies selfs jonger as 10 jaar uit hul beddens kom haal en gesodomiseer.

Daar was niemand na wie hierdie kinders kon vlug nie. Die Australiese regering, wat veronderstel was om die kinders se voog te wees, kon hulle net sowel weggegooi het. Geen kinderwelsynsbeampte het ooit gaan seker maak dat hierdie kinders versorg is nie.

Die hoof van die ‘Christian Brothers’ in Wes-Australië, Tony Shanahan, erken dat daar kinders misbruik is, maar gee voor dat dit nie so erg was nie en meeste van die stories erg oordryf is. In 1993 het die ‘Christian Brothers’ egter in antwoord op ‘n regsgeding, amptelik verskoning gevra teenoor die kinders en skadevergoeding ter waarde van 2.5 miljoen doller aan 250 gewese inwoners uitbetaal. Die meisies, wat na ander plekke gestuur is, is baie min seksueel misbruik in vergelyking met die seuns, maar hulle is net so erg fisies mishandel en geslaan en moes ook as goedkoop arbeid werk.

In 1967 het hierdie verskeping van kinders na Australië skielik opgehou. Die doodeenvoudige rede was dat Brittanje nie meer kinders vir uitvoer oorgehad het nie. Van die 10 000 kinders in Australië is net 5 aangeneem deur families. Bitter min van die kinders het geboortesertifikate of dokumente van enige aard gehad. Dit wil voorkom asof hul vaderland hulle doodeenvoudig net spoorloos wou laat verdwyn.

Mary Molloy het grootgeword in ‘n inrigting buite Sydney. Toe sy as volwassene gaan aansoek doen vir ‘n paspoort, het daar ‘n verrassing op haar gewag.

“Die enigste manier waarop ek ‘n paspoort kon kry, was om ‘n genaturaliseerde Australiër te word,” vertel Mary. “Ek het gedink ek was. Die hele storie was malligheid. Ek is al hier vandat ek 9 is. Ek is hierheen gestuur en tog word ek nie gesien as ‘n burger van hierdie land nie. Volgens Brittanje bly ek ook nie meer daar nie. So, waar behoort ek? “

Vir dekades het Engeland dit reggekry om van hierdie weggooi-kinders te vergeet. Vir dekades het hierdie kinders geglo hulle was almal weeskinders. Maar ‘n handjievol jare terug het hierdie verlore kinders – nou verlore volwassenes verspreid oor Australië – tot hul skok uitgevind hulle is vir 50 jaar belieg en bedrieg deur die regerings van Brittanje en Australië, die Katolieke kerk en die Kerk van Engeland.

Hulle was nie weeskinders nie. Hulle het families gehad in Engeland, families wat genoodsaak was om hulle in kinderhuise te los, maar alle intensies gehad het om hulle weer te kom haal sodra hulle finansieel in staat was om vir hulle te sorg.

Een van hulle, Tony Jones, was geskok toe hy hoor dat sy ma nog lewe. Omdat Maud Jones te arm was om vir Tony te sorg, het sy hom na ‘n kinderhuis gestuur. Sy het nooit toestemming gegee dat Tony na Australië kon gaan nie. Haar toestemming is nooit eers gevra nie!

Twee weke voor Tony met sy ma herenig sou word, is sy oorlede. Hy was gebroke. “Ek het my ma in haar doodskis gesien. Dit was die mees hartverskeurende ervaring van my lewe. En hulle het geweet sy lewe. Die ‘bastards’ het geweet!”

As seuntjie het die Kerk van Engeland vir Tony gesê sy ma is dood. Dit was ‘n leuen. As volwassene het die Britse en Australiese regerings vir Tony gesê sy rekords bestaan nie. Dit was nog ‘n leuen. En Tony Jones is nie die enigste een met wie dit gebeur het nie.

Margaret Humphreys, ‘n Engelse welsynswerkster, het begin om hierdie veragtelike stuk Britse geskeidenis oop te krap, nadat een van haar kliënte haar vertel het dat haar jonger boetie as kind per skip na Australië gestuur is. Humphreys het ‘n trust gestig om hierdie kinders te help om hul geboortesertifikate, hulle ouers en hul verlede te vind.

Humphreys het uitgevind dat van al 10 000 kinders, was slegs EEN werklik ‘n weeskind. Regoor Engeland het hulle ouers en familie gevind van hierdie kinders. Geeneen van hierdie ouers het geweet dat hulle kinders na Australië gestuur is nie, geeneen het toestemming gegee nie. Daar is bloot aan die ouers vertel dat hul kinders uitgeplaas is by liefdevolle families in Engeland, baie goed aanpas en dat die Welsyn nie gaan toelaat dat hulle lewens weer ontwrig word nie.

Humphreys sê duisende van hierdie sogenaamde “weeskinders” het nog nie hulle ouers gevind nie en omdat beide ouers en kinders reeds oud is, raak die tyd min.

Die Australiese regering het geen hulp aangebied om hierdie kinders se families te vind nie. Toe daar vir Philip Ruddock, die Australiese minister van immigrasie, gevra is hoekom die regering nog geen verskoning teenoor hierdie kinders gevra het nie, het hy geantwoord.

“Ek weet nie waarvoor ons verskoning moet vra nie. Wat ons in Australië wou doen, was om jong mense hierheen te bring en hulle geleenthede te bied vir ‘n nuwe begin, ‘n nuwe lewe. En hulle het van daardie geleentheid gebruik gemaak. Ek is glad nie seker dat al hierdie aaklige stories waar is nie.“

Sover dit Engeland aangaan, is daar sedert hierdie kinders se vertrek na Australië net een groot stilte oor die hele onderwerp. Die Engelse stel nie belang hierin nie. Hulle wil nie daarvan weet nie. Dis asof hierdie kinders met hulle vertrek uit Engeland doodeenvoudig ophou bestaan het vir hul vaderland en sy mense.

Wie in die Britse regering het geweet van hierdie kinders se verskeping? David Hinchliffe, ‘n lid van die Parlement en die leier van die Britse regering se ondersoek na hierdie gebeurtenis, glo dat baie hoë amptenare – insluitende die eerste minister, die aartsbiskoppe, moontlik selfs die koningin – heel waarskynlik bewus was van die skema.

Die beste waarmee die Britte vorendag kon kom na 50 jaar, was om in 2000 te erken dat die skema misleidend was en ‘n reisfonds is gestig vir kinders, nou volwassenes, wat wou terugkom om met hul families herenig te word.

Sedert 1999, toe die meeste van hierdie wrede skema op die lappe gekom het, het daar nog baie volwassenes vorentoe gekom om hul stories te vertel as verlore kinders. Sommige is na ‘n half eeu weer met familielede herenig.

John Hennessy, een van die seuns wat by Bindoon mishandel en misbruik is, is ook in 1999 met sy ma in Engeland herenig. Hy was 65 jaar oud en sy ma 86.

Die merkwaardigste ding van hierdie stuk geskiedenis, is dat dit amper nooit vertel is nie. As ‘n maatskaplike werker in Nottingham nie per ongeluk hierop afgekom het toe sy ‘n ander geval probeer opspoor het nie, sou hierdie tragiese stukkie geskiedenis nooit die boeke gehaal het nie. Nóg die Britse regering, nóg die Australiese regering en nóg die ‘Christian Brothers’ wou dat die wêreld hiervan te hore kom nie. Hulle het almal gehoop dat die tyd dit sou laat verdwyn en dit het amper. Die jongste verlore kinders is reeds in hulle 50′s

Nog ‘n paar dekades en daar sou niemand oor gewees het om die stories te vertel nie. Daar is wel ‘n reisfonds, maar daar mag dalk binnekort ook nog regsgedinge wees. Maar daar kan nooit geregtigheid vir hierdie verlore kinders wees nie.

Die uiterste tragedie vir hierdie kinders is iets waarmee die meeste van ons ons nooit sal kan vereenselwig nie. Probeer jou voorstel dat jy nie een enkel gelukkige herinnering uit jou kinderdae kan onthou nie. Nie een nie.

Ja, dit is wat hierdie verlore kinders nie het nie. Geen gelukkige herinneringe uit hul kinderdae nie. En dit is iets wat niks en niemand ooit vir hulle sal kan teruggee nie!

Bron: http://www.cbsnews.com/stories/1999/03/24/60II/main40269.shtml

Verder met Vrede – Barrie Burger

‘Verder met Vrede’ is ‘n boek, ‘n perde storie, ‘n ware verhaal.
Ek was anderdag nie oppad boekwinkel toe nie, toe ek sommer vanself daar inloop, ingetrek deur ‘n onsigbare magneet. Dit is nie vir my iets nuuts nie. Boeke het nog altyd so met my gemaak. Trek my nader, sluk my in. Ek moes al gaan steak koop, dan gaan ek eerder huis toe met maalvleis en ‘n boek.

Dié dag het ek egter in die boekwinkel gestaan met geen idee van hoekom nie en ook geen lus vir boek koop nie. Ja, dit gebeur wel soms. En skielik staan ek met hierdie boek in my hand. ‘Verder met Vrede’. ‘n Boek waarvan ek nog nooit gehoor het nie. ‘n Boek oor die perdeman van die fliek Tornado. Oor sy rit van 40 dae te perd, van die Kalahari na die Kaap.

“Boring”, dink ek, en sit die boek terug op die rak. Maar die boek laat hom nie vertel nie. Toe ek weer sien, is hy terug in my hand en ek oppad na die betaalpunt toe. Ek WEET ek wil nie die boek hê nie, ek WEET ek het nie regtig nou die geld vir die boek nie, ek WEET ek gaan heel waarskynlik doodverveeld wees met die storie en NOOIT die boek klaar lees nie. Maar die boek wil nie hoor nie en maak my betaal en hom huis toe vat.

Die dae het verbygegaan. Op ‘n dag soek ek iets om te lees. Daar is maklik 50 boeke in my rak wat nog wag om gelees te word. Lekker boeke waarna ek al lank uitsien, maar my hand trek vir ‘Vrede’ uit. Ek kyk die boek so en dink, maar bliksem, ek WIL jou NIE lees nie, maar ek maak die boek oop en ek begin lees. En ek kan nie weer ophou nie. 338 bladsye lank sit ek vasgenael. Vir die eerste keer in maande lees ek ‘n boek in een sessie deur. Ek kon nie die boek neersit tot ek die laaste tree saam met Barrie en sy perd gestap het nie.

Dis so ‘n eerlike storie, ‘n sonder tierlantyntjies storie, wat mens diep binnekant kom raak. Dit is Barrie Burger se hartsverhaal, in sy eie manier van praat, oor sy 40-dae lange rit saam met sy geliefde perd, Vrede, van die Kalahari tot in die Kaap. Dis egter nie net ‘n reis te perd nie, maar ook ‘n geestesreis.

Barrie Burger doen al 24 jaar lank sendingwerk in die Kalahari. Hy sal  eenvoudig op ‘n perd klim, ‘n koers inslaan, slaap in die veld waar hy kom en so op sy pad mense vertel van die Woord. Barrie is getroud met Annette en hulle woon op Noenieput in die Kalahari.

Met die bekendmaak van sy plan om Kaap toe te ry per perd, het baie mense vir Barrie ongelowig gevra waar hy dan elke dag kos en slaapplek vir sy perd en homself gaan kry. Soos wat daar elke dag ‘n uitweg kom vir hierdie vraag, dink Barrie

Maar so gaan dit mos. ‘n Ander se spook kom klop aan jou voordeur en as geloof dit oopmaak is daar skielik net niks. Geen spook nie en ook nêrens eens ‘n spoor van dié wat so gretig en bang help klop het nie.

So tipies van dié wat nie ervaar hoe God se hand voorsien waar sy vinger ook al wys nie. Baie presies oor hul bekommerde beplanning vir ‘n ander se môre maar totaal afwesig as die wonder gebeur.

Ek haal ‘n paar stukkies uit die boek aan – stukkies wat my hart geraak het, oor mense se innerlike seer, wat hul soms so alleen moet dra, omdat mense nie meer mekaar se binneste raak sien nie:

Moegword moet ‘n soort gawe wees wat betyds kom sê as genoeg genoeg is. En is die moegheid fisies word dit gou gou opgemerk. Die simptome daarvan spreek immers vir hulself. Want sweet en ‘n gejaagde asem of vinnige hartklop met ‘n liggaamshouding wat van uitputting dalk al lê kan moeilik weggesteek word.

Maar kom lê die moeg in die skadu’s van die mens se binnekant, stap die wêreld ewe maklik en onwetend verby. Selfs sonder om een maal om te kyk. En vind jy nie sommer ‘n skouer vir die swaar van die kakebeen nie. Asof die wêreld om jou net nie ‘n oog vir die binnegoed van die lewe het nie. Waar bloedige oorloë diep spore van ongevraagde pyn op die onsigbare slagveld van die gemoed getrap het. En ‘n stuk Getsémané gelos het waar sweetdruppels van weer probeer soos bloed geword het. In ‘n alleenheid wat net jy ken.

Net jy.

EN

Soos mense ook maar maak. Dra die gistergoed soms vir jare saam terwyl niemand iets daarvan weet nie.

Moet ‘n mens dan op ‘n sekere manier aanmekaargesit wees voordat jou gisters vir jou nog regtig saak maak. Is vandag se besig wees met net môre se hoop dan al wat sin maak in die oneindige gejaag na iets wat op sy beste dalk nie eens beter sal wees nie. Sterf die gistergoed dan as niemand anders daarvan weet of nie meer daaroor praat nie. So asof vandag se toesluit en daarvan vergeet, môre se vrede verseker.

Of dalk is die ver pyn van lank gelede genoeg rede waarom die lewe vir vele maar net om vandag en môre draai. So soek hulle maar liewer iets beter in die toekoms want hul gisters is dan ‘n pyngemors.

EN

Dinge van die hart het mos nie vensters nie. En as daar ‘n deur is, bly die grendels toegesluit. Soms jare lank.

EN LAASTENS

Dis nie ‘n sonde om stukkend te wees nie. Dit het immers ‘n stukkende Verlosser gekos om ‘n stukkende wêreld te genees.

Saam met Barrie word jy een met Vrede en vind jy vrede in jou gemoed en ervaar jy jou Skepper nuut. En leer jy dat om iets van God af te bid, geen waarborg is dat jy dit gaan kry nie, maak nie saak hoe edel jou gebed se bedoeling is nie. En leer jy saam met Barrie om ook daarmee vrede te maak.

Isak Burger, ‘n jare lange vriend van Barrie, sê oor die verhaal: ‘Dit gaan jou hart roer. Soos dit met my gemaak het.’

En ja, inderdaad. Geen mens kan onaangeraak anderkant hierdie storie uitstap nie.

Vrede vir 2011.

Donker Liefde – Anoux Venter

Ek het hierdie boek in ‘n vriendin se huis gesien: Donker Liefde, my verhouding met heroïen – Anoux Venter.

Dit was duidelik dat die boek al deur en deur gelees is.

Ek tel dit op en blaai daardeur en my kop loop ver draaie. Sy kom die vertrek binne en sê: “Jy kan dit kry, vat dit saam en lees dit. Gee dit daarna vir wie jy ookal dink nodig het om dit te moet lees. Ek het dit by L gekry.”

Ek weet L se dogter is dood van ‘n oordosis. Ek wonder wat die boek vir haar vertel het.

Daardie volgende Sondagoggend trek ek die boek nader en begin langtand lees. Ek sit die boek nie weer neer nie, behalwe net om aan te trek. Ek lees selfs terwyl ek eet. Ek lees aaneen, ek lees tot die boek klaar is, al 200 bladsye. Ek dink aan soveel mense vir wie ek graag die boek sou wou gee om te lees. En ek huil omdat ek weet dit kan met enige een van ons se kind gebeur – niemand is te goed opgevoed, te slim, te mooi, te ryk of te wat ook al nie. Dwelms is nie gepla met klas of ras nie.

Anoux Venter skryf oor haar jarelange verslawing aan dwelms en uiteindelik aan heroïen, dodelikste dwelm van almal.

Sy skryf:

“Ek kan aangaan en aangaan oor daardie eerste keer, die emosies en gevoelens was enorm groot. Maar ek moes dit net nooit gedoen het nie, dis die punt. Sommige mense, soos ek, is gemaak om daarvan te hou. Ons persoonlikhede, swakhede, vrese en liggaamselle is eenvoudig gemaak om heroïen te aanbid. En jy sal nooit weet watter mens jy is totdat jy dit probeer het nie, en dan is dit reeds te laat.”

“Waar heroïen die vorige dag nog vir my ‘n aaklige, vieslike ding was, het dit skielik my persoonlikheid versterk, my goed laat voel oor myself. Ek het myself vinnig oortuig dis glad nie so erg as wat die TV en grootmense dit laat klink het nie.

Daardie aand het ek die trickster ontmoet – dis daardie stemmetjie wat jou altyd vertel dat jy okay is, nie verslaaf is nie, dat jy nie werklik steel of lieg of die waarheid vermy nie. Dit laat jou altyd beter voel.”

“Die ontrekkingsimptome het gereelder geword omdat ons geld begin opraak het. Die demoon wat op my siel geteer het, was heeltyd honger, heeltyd op soek.

Ons het Raine se ouers leeggetap. Mooi gevra vir geld, gesmeek, gesteel. Alles gevat wat hulle gehad het. Ek kon soms nie glo wat ek alles gedoen het nie, maar ek het probeer om so min as moontlik daaraan te dink, anders sou ek mal word. Ek het eenvoudig gedoen wat ek moes terwyl ek gesukkel het om dit vir almal weg te steek. As jy siek en seer is en jy het nie ‘n sent op jou naam nie, gee jy nie ‘n hel om van wie jy steel of hoe jy dit doen nie.”

Wanneer Anoux uiteindelik besluit om haar verslawing te verbreek, draai sy naby die dood om voor sy haar lewe weer kan begin opbou.

Elke mens met kinders behoort hierdie boek te lees, en ook dié sonder kinders. Vir die van ons wat al die paadjie gestap het met ‘n kind en dwelms, sny hierdie boek skoon… tot op die been.

Vir die wat nog nie het nie, gaan op jou knieë en sê dankie – elke aand.

Ek het vergeet…

 

Lovy Pieterse se man het Alzheimers se siekte gehad en sy het hom versorg. In hierdie boek draai sy geen doekies om nie. Sy vertel van die verloop van die siekte, van die eerste oomblik af wat sy vermoed het haar man is siek, tot daar waar sy geen raad meer gehad het nie en hom in ‘n versorgingoord gesit het. Sy vertel van die effek wat dit op haar huwelik en haar gesin gehad het, haar frustrasies, moedeloosheid, skuldgevoelens. Die boek lees maklik en dis ‘n boek wat ek graag aanbeveel vir almal iemand ken wat hierdie siekte het. Of, as jy dalk sommer net meer oor hierdie siekte wil weet.  Dis nie ‘n mediese joernaal nie, maar eerder net ‘n boek om jou anders oor die siekte te laat dink.

Ek het die boek redelik goedkoop raakgeloop by www.graffitibooks.co.za . Ek hoop daar is nog een vir jou ook beskikbaar! Die boek is uitgegee deur Lapa  Uitgewers in 2004.

Lekker lees!