Wie Met Vuur Speel – Deon Meyer

Ek hoor al die afgelope paar jare van die uitmuntende spanningsverhale wat deur Deon Meyer geskryf word, maar vir een of ander rede het ek eers onlangs kennis gemaak met die man se skryfkuns toe my skoonsuster vir Orion in my hand gedruk het.

Nie lank daarna nie gee sy vir my Wie Met Vuur Speel en 13 Uur met die aanmaning om eers Wie Met Vuur Speel te lees, want sommige beskou 13 Uur as Deon Meyer se beste spanningsverhaal tot dusver. ‘n Tipiese los-die-beste-vir-laaste benadering.

So gesê so gemaak.

Wie Met Vuur Speel is Deon Meyer se eerste spanningsverhaal wat reeds in 1994 uitgegee is nadat hy verskeie kortverhale in Afrikaanse tydskrifte publiseer het. Op sy webwerf verwys Deon Meyer na Wie Met Vuur Speel as ‘n broer in die tronk – “jy kan dit nie ontken nie, maar praat ook nie graag daaroor nie”. Een van die resensies oor die herdruk in 2007 bestempel dit as ‘n goeie boek, maar dat dit duidelik is dat Deon Meyer deur die jare die fyner skryfkunsies bemeester het.

Vir my was dit lekker leesgenot. Nie te ingewikkeld geskryf met lang sinne en te veel bevoeglike naamwoorde. Minder kras as Orion. ‘n Kinkel in die kabel alhoewel miskien ‘n bietjie voorspelbaar. Genoeg spanning, aksie en humor om jou te laat aanhou lees al is daar ‘n paar ander dinge wat gedoen moet word.

Wie Met Vuur Speel is ‘n storie oor Ragel Bergh en Ivan Malan. Sy ‘n boekwinkel eienares wat heelwat geld verloor na ‘n paar swak besluite. Hy die een met die regte agtergrond, talente en kennis om deur alternatiewe kanale haar geld vir haar op te spoor.  

Ragel is naief, nuuskierig en emosioneel, maar het ook ‘n wil van haar eie wat gewoonlik bydrae tot die een of ander krisis. Ivan het ‘n verlede, een waarvan hy liefs wil vergeet en deel sy lewe met net 3 ander – Casius die kat, Carla die hond en Zatopek Smit sy regterhand en vertroueling.

Die verhaal van Ivan se verlede en die huidige saak van Ragel word skerpsinnig vermeng en word die leser vinnig ingetrek in die ontvouing van Ragel en Ivan se verhaal, die ontrafeling van misdaad en die uitoorlê van skurke.

Defintief ‘n boek wat ek sal aanbeveel.

😉

Advertisements

Fliek: Like Dandelion Dust

Like Dandelion Dust is gegrond op die boek, geskryf deur Karen Kingsbury.

In LIKE DANDELION DUST word daar na een van die samelewing se mees tragiese situasies gekyk. Twee ouerpare baklei oor ‘n 6-jarige seuntjie wat opgegee is vir aanneming nadat sy pa tronk toe gestuur is omdat hy sy vrou mishandel het, as gevolg van alkoholmisbruik.

Die fliek begin waar Rip Porter in hegtenis geneem word, nadat hy, in sy dronkenskap, sy vrou ernstig aangerand het. Sewe jaar later kom hy uit die tronk en Wendy, sy vrou, wag vir hom. Dit wil voorkom asof Rip heeltemal gerehabiliteer het in die tronk en hy vertel vir Wendy dat sy destyds die regte ding gedoen het deur die polisie te bel en dat hulle twee saam nou ‘n nuwe begin gaan maak en alles gaan beter wees as voorheen.

Toe hy begin praat van ‘n gesin begin, vertel sy hom van hul seuntjie wat sy laat aanneem het. Na hy gevonnis is, het sy uitgevind sy is swanger en het besluit dit sal beter wees as die kind aangeneem word. Hy het blykbaar die aannemingsdokumente in die tronk geteken, maar Rip sweer hy het nooit enige dokumente geteken nie en die twee vind uit iemand van die tronk moes sy handtekening vervals het. Hulle besluit dan om hul seun terug te eis, want die aanneming was dus nooit wettig nie.

Intussen lewe klein Joey onwetend ‘n idilliese lewe saam met sy aanneem-ouers, Jack en Molly Campbell, in ‘n pragtige huis naby die see, in Florida. Jack en Molly is welaf en Joey kom niks kort nie, nie fisies nie en ook nie emosioneel nie. Sy ouers gee hom nie net aardse goed nie, maar ook baie liefde en aandag.

Dan bars die bom en hulle hoor dat hulle Joey sal moet teruggee vir sy regte ouers. Ek gaan nie meer van die storie vertel nie, want dan bederf ek dit vir iemand wat self wil gaan kyk.

Dit was vir my ‘n moelike fliek om te kyk, want ek haat enige iets waar ‘n kind te na gekom word. Ek was egter heeltyd in twee geskeur vir Wendy, Joey se regte ma, en vir Molly, wat Joey vir 6 jaar grootgemaak het en so bitter lief het. Maar meer as enige iets anders, wou ek, net soos Jack, iemand aanrand oor wat hulle aan ‘n klein ou seuntjie doen wat glad nie verstaan wat aangaan nie en net een ma en pa ken. DIT, die fout van ‘n grootmens iewers, wat nie seker gemaak het van ‘n regte handtekening nie, was besig om ‘n onskuldige kind se lewe vir altyd te verander op die mees wrede manier denkbaar.

In Amerika is verlede jaar AGT aannemings omgekeer as gevolg van vervalste handtekeninge. En waar is die kind se belange in daardie tyd? Ook in hierdie fliek word daar eerstens na die biologiese ouers se regte gekyk en DAN eers na die kind! Dit skrei ten hemele.

Hierdie fliek wys die menslikheid van elke karakter en herinner ons ook daaraan dat elkeen van ons die potensiaal het om ons beste of ons slegste in ons karakter uit te leef, afhangende van die omstandighede waarin ons onsself bevind.

Uiteindelik is klein Joey se toekoms in die hande van sy twee ma’s. Sal een van hulle hom lief genoeg hê om hom te laat gaan? Gaan kyk self, maar neem genoeg tissues saam. Ek het my kop seer gehuil in hierdie fliek!

Die Rebellie van Sloet Steenkamp – Paul C. Venter

Toe ek jonger was, het ek geglo as jy ‘n boek begin, MOET jy hom klaar lees. Soms het ek dae lank deur boeke geworstel wat my absoluut geen plesier gegee het nie en waar ek soms my oë moes rek om nie van verveling aan die slaap te raak nie. Maar lees, moes ek klaar lees.

Later het ek besluit dis absolute onsin om myself so te martel en as ek in die eerste hoofstuk nie vasgevang is deur ‘n boek nie, maak ek hom toe en nooit weer oop nie. Verlede week beland Die Rebellie van Sloet Steenkamp in my hande. Ek kyk die boekietjie só en wonder of ek lus is vir ‘n vervelige storie oor boere en oorlog. Ek was mal oor die TV-reeks Arende en al is dit dan nou net oor ek so baie van daai Sloet gehou het, besluit ek om hierdie Sloet ten minste ‘n kans te gee.

En ek sit die boek nie sommer maklik weer neer nie. Die storie gryp mens van die eerste bladsy af en is net mooi nêrens vervelig nie.

Kortliks gaan dit oor die tydperk in Suid-Wes (nou Namibië) toe die goewerneur-generaal in Windhoek ‘n bevel gegee het dat alle Britse en Suid-Afrikaanse burgers in Duitswes onmiddellik uitgesit moes word en terugkeer na hulle geboorteland toe.

Sloet en sy mense, wat destyds uit die Unie van Suid-Afrika getrek het omdat hy volstrek nie onder ‘n Engelse regering wou bly nie, sit nou met die dilemma dat hulle hul grond in Duitswes gaan verloor en weer onder Engelse hande gaan val. Vir Sloet is dit onaanvaarbaar en hy rebelleer – weereens.

Mense wat Arende gekyk het, sal karakters soos die Engelse kaptein Kerwin, Sloet se vrou Annette, Jimmy Kitchener, PJ Buys en nog ‘n paar ander, weer raakloop in hierdie lekker boek. Daar is ook die Namas en hul leier, die Profeet Bäal Stuurman, vir wie jy een oomblik die ewigheid wil instuur en die volgende oomblik weer jammer kry en selfs van hom begin hou.

Soms maak die politiek van destyds mens effens deurmekaar en jy moet mooi lees om by te hou by wie nou eintlik aan wie se kant is, maar alles val mettertyd netjies in plek. Die boek is nie swaar oorlog leesstof nie, en daar is genoeg humor afgewissel met die ernstige dele om die boek ‘n werklike lekker-lees een te maak. Ek sal my min verbaas as ons hierdie een ook binnekort as TV-reeks gaan sien!

Expecting Adam

“Expecting Adam” deur Martha Beck is ‘n ware verhaal en vertel die storie van twee Harvard intellektuele wat uitvind dat hulle ‘n seuntjie met Down sindroom verwag. In die mededingende Harvard akademiese wêreld – waar tweejariges gestimuleer word om te leer lees sodat hulle toegelaat kan word tot die regte kleuterskool – word die gebeurtenis gesien as ‘n ramp en die paartjie word aangeraai om die baba te laat aborteer.

Maar selfs nog voordat Martha uitgevind het dat sy swanger is, gebeur ‘n reeks dinge wat die Mormoon-verander-in-ateis nie kan verklaar nie. En ‘n soort goddelike ingryping vind telkens gedurende die swangerskap plaas wat die paartjie duidelik adviseer: Hierdie baba moet julle hou, want hy gaan julle lewens verander.

Die verandering wat hulle voorsien is alles negatief nl dat Martha se man nie sy graad sal kan voltooi nie, sy werk sal verloor en dat hulle huwelik sal verbrokkel. Hulle vrees die verwerping wat hulle kind sal moet ervaar en staal hulle teen moontlike gesondheidsprobleme inherent aan Down sindroom. Die werklikheid is veel anders as wat hulle ooit sou kon verwag. Engele, liefde bo alle begrip en die verdrywing van vrees is maar sommige van die dinge wat hulle uiteindelik met Adam assosieer.

Dis die tweede keer wat ek die boek lees en ek het dit nou selfs nog meer geniet as die eerste keer. “Expecting Adam” draai alle vooropgestelde idees oor mense met Down sindroom op hulle kop. Dit spreek prioriteite aan. Dit laat meer vrae as antwoorde, maar laat mens diep ontroer en emosioneel bevredig.

‘n Paar interessante feite oor Down sindroom: Die term is “’n kind met Down (hoofletter D sonder ‘n s aan die einde van die woord) sindroom (kleinletter s).” Nie Downs of Downs kindjie of mongool of vertraagde nie. Mens sê veral nie “Hy is Downs nie. “(As jy kanker of verkoue het word jy tog nie jou siekte of kondisie nie.) “Hemelkinders” is ‘n baie mooi term, maar kinders met Down sindroom het die volle reikwydte van emosies wat enige ander kind het en kan beslis ook vloermoere gooi en stout wees. Die sindroom is te wyte aan ‘n ekstra 21ste chromosoom en word ook Trisomie 21 genoem. IK wissel by mense met Down sindroom en die meeste mense daarmee kan heeltemaal goed onafhanklik in die samelewing funksioneer en ‘n bydrae tot die samelewing lewer.

A Charlotte Mason companion : Personal reflections on the gentle art of learning

Ek is besig om A Charlotte Mason companion : Personal reflections on the gentle art of learning deur Karen Andreola te lees.

Die boek was deel van die tuisonderrigmateriaal wat aan ons gestuur is.

Dis nie dat ek onbekend is met Charlotte Mason nie. Redelik lank terug – ek dink Marco was nog ‘n baba – het ek die blog begin lees van ‘n vrou wat tuisonderrig met haar 6 kinders doen. Ek kan nie meer haar naam onthou nie en ek dink ook sy blog nie meer nie. Kan eerlik nie onthou of dit my eerste blootstelling aan tuisonderrig was nie. Ek twyfel. Maar dit was beslis die eerste keer wat ek verwysings na Charlotte Mason se werk gesien en ook gesien het hoe dit prakties toegepas word.

Charlotte Mason is in die 1800s in Engeland gebore. Oor haar kinderjare is min bekend, behalwe dat hulle redelik arm was en sy deur haar pa grootgemaak is. Later het sy met behulp van finansiele hulp van vriende gaan studeer as onderwyseres. Sy het ‘n hele aantal jaar onderwys gegee voor sy ontnugter begin raak het met die skoolsisteem van daardie tyd en uit die onderwys getree het.

Om mee te begin was klasverskille baie gedefinieerd en het kinders uit die laer klasse selde enige geleentheid gehad om skoolonderrig te ontvang. Kinders van die laer klasse is gesien as inherent “sleg”. (Onthou Charles Dickens?) Die hoërklaskinders het meestal die beste onderwys ontvang wat geld kon koop en is gesien as inherent “goed”. Ironies genoeg het ouers van die hoër klasse selde hulle eie kinders grootgemaak en is die takie gelaat aan ‘n string “nannys” en goewernante. Kinders is dikwels weggestuur kosskool toe. Die skoolstelsel was verbeeldingloos en sonder fut. (Dit maak die situasie nie vreeslik anders as wat vandag gebeur nie – nie waar nie? Lees asb die 10 punte wat ek uitgelig het later in hierdie inskrywing en wonder gerus saam met my of die status quo in die skoolstelsel nie grootliks verantwoordelik is vir skaaptropgedrag van mense nie.)

Tersyde. Ek kom uit ‘n skool waar klasse ingedeel is volgens prestasie en dit is ‘n voldwonge feit dat die klasse met swakker punte meestal swakker onderwysers gekry het en dat verwagtinge van onderwysers – en daarom die uiteindelike prestasie van kinders – sterk gekleur is deur hierdie onderskeid tussen kinders. Hoe is daai vir ‘n bose kringloop?

Charlotte het uiteindelik die geleentheid gekry om in die Engelse meredistrik ‘n skool te open om onderwysers op te lei en dis wat sy gedoen het tot haar dood in die vroeë 1900s. Deur haar onderrig en ‘n boek getiteld: “Home education ” het sy haar idees aan die wêreld bekend gestel. Die boek was gemik op moeders wat nie besonder ryk was nie en gee aan hulle idees hoe om hulle kinders ‘n ryke opvoeding te gee. Die boek was eers baie gewild, maar daar het later slegs fragmente van haar idees oorleef in ‘n wêreld wat al meer gesekulariseerd geraak het.

Ek het al ‘n bietjie geskryf oor die idees van Charlotte Mason en dis beslis te omvattend om in een bloginskrywing te behandel, maar ‘n paar punte wat vir my uitstaan is die volgende:

1.Kinders kom in die wêreld as volkome mense met die potensiaal om enigiets te bereik. Dit slaan die idee dat kinders as inherent “goed” of “sleg” gebore word die nek in.
2.Kinders sal wil leer mits die materiaal wat aan hulle voorgehou word ‘n breë veld dek en soveel as moontlik “lewende boeke” bevat.
3.Die begrip lewende boeke is in teenstelling met handboeke wat ‘n oorsig bied oor ‘n onderwerp. Dink bv aan ‘n skoolgeskiedenishandboek oor WWII in teenstelling met die skrywes van Corrie ten Boom of Anne Frank. Watter een gaan ‘n groter indruk op ‘n kind laat?
4.Kinders moet toegelaat word om wyd te lees, te reflekteer en verbande tussen materiaal te trek. So sal ‘n kind wat bloot lees oor ‘n komeet, minder geinteresserd wees as ‘n kind wat een aand by die venster uitkyk en die komeet raaksien waaroor hy gelees het.
5.Elke dag moet die geleentheid bevat om liefde te gee, iets nuttigs te doen en oor iets te dink.
6.Daarom behoort die atmosfeer in ‘n huis so te wees dat selfs ‘n daklose kind met vertroue kan sê: “Ons het ‘n huis. Ons het net nie ‘n plek om dit neer te sit nie.”
7.Liefdesdade gerig op ander, om iets te skep of deel te neem aan huishoudelike take is vêr meer gewens as om voor ‘n TV te sit of vermaak te word op welke wyse ook al.
8.Soveel tyd as moontlik behoort buite spandeer te word en alles wat daar waargeneem word moet deur die kind aangeteken te word in ‘n dagboek d.m.v sketse, beskrywing of aangevul deur prosa, poësie of Bybelverse.
9.Kuns is nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid. Kinders behoort van kleins af blootgestel te word aan die grootste werke (hetsy in skilderye of musiek) wat die wêreld opgelewer het.
10.Lesse moet kort gehou word. Huiswerk moet glad nie in die elementêre fase opgelê word nie. Toetse word ook nie geskryf nie. Maar daar word van die kind verwag om wat hy geleer het weer te gee na afloop van die les d.m.v. vertelling. As ‘n kind iets in sy eie woorde kan weergee “het” hy dit.

Hierdie boek is beslis die moeite werd om te lees. Al is dit dan net om krities te kan kyk na die skoolstelsels van vandag en (bykans) almal wat produkte daarvan is.

Change of Heart – Jodi Picoult

Dit  is al ‘n geruime tyd wat ek besluit het dat ek meer van Jodi Picoult wil lees. 

Ek het ‘n Change of Heart in ‘n vriendin se boekrak opgemerk en dit summier geleen.  Ek het dit onder die hoop boeke uitgestoei en my vriendin vertel die boek gaan saam met my.

Sy het nie juis omgegee nie, maar my gewaarsku dat ek dalk teleurgesteld gaan wees.  Sy het al die boek 4 keer begin lees en kon nog nooit verder as die eerste paar hoofstukke kom nie.  Ek het besluit om nogtans vir myself uit te vind.

Om eerlik te wees het ek self oorweeg om die boek in die asblik te gooi na die eerste 50 bladsye.  Dit het Green Mile gegil en ek hou nie van plagiaat nie. 

Gelukkig het ek vasgebyt en ek het eers die boek neergesit nadat ek die laaste bladsy gelees het.  Daar is ‘n opsomming op die buiteblad:  “Your daughter needs a new heart.  The only match comes from a murderer.  What would you do?”  Misleidend, dit is net ‘n baie klein deel van die storie. 

Shay Bourne word ter dood veroordeel na die moord op die 7 jarige Elizabeth Nealon en haar stiefpa Kurt Nealon.  Kurt Nealon was ook ‘n gerespekteerde polisieman.  June, haar ma wil ook sterf na hulle moord, maar sy is 8 maande swanger met Claire. 

11 jaar later is Bourne se appélle op ‘n einde en sy terregstelling tyd en plek bepaal.  Claire kort drasties ‘n skenker hart en Bourne besluit sy hart moet na sy dood na haar gaan.  Intussen verander Bourne water in wyn, wek ‘n voëltjie uit die dood op en genees selfs ‘n man van Vigs. 

Vader Michael Wright, was ‘n jong student in wiskunde toe hy juriediens gedoen het met Bourne se verhoor.  Maggie Bloom se lewenstaak is om die vryhede van mense te verseker.  Sy is teen die doodstraf en Bourne se saak is nog ‘n protes daarteen.  As sy hom nie van die dood kan red nie, moet dit ten minste op sy terme gebeur. 

Hy moet sterf op ‘n manier wat hy verkies, ‘n manier wat sy hart vir Claire sal red.  Al sal June nooit instem dat haar man en dogter se moordenaar se hart vir Claire red nie.  Claire wat bloot net nie meer kan bekostig om kieskeurig te wees nie. 

Die Green Mile herinnering is eintlik toevallig.  Die moordenaar word paralel aan Jesus voorgestel.  Dit bevraagteken geloof, spesifiek oor wat geloof nou eintlik is en waarop presies dit baseer is.  Vrae wat baie mense baie ongemaklik sal maak.  Die vrae hou ook nie daarop nie.  Die regstelsel, die doodstraf en ons eieregtige veroordeling van mense kom ook onder die soeklig.

Ten spyte daarvan dat die storie verloop het soos ek vermoed het dit sou, dink ek nie dat dit regverdig sal wees om die boek voorspelbaar te noem nie.  Die storie vloei maklik en daar is genoeg onderliggende elemente om tot op die laaste bladsy boeiend te bly.

Dit is beslis ‘n boek wat ek gaan koop en weer lees.  Ek dink ook dit sal ‘n briljante fliek sal maak.  Ek sal dit ook vir ander aanbeveel, veral as hulle nie bang is dat alles waaraan hulle glo bevraagteken word nie.  Jodi Picoult verdien om topverkoper te wees.

Gaan lees ook gerus meer hier oor die storie agter die storie.