The Host – Stephenie Meyer

Ek lees byna enige iets, maar ek was nog nooit ‘n groot leser van wetenskapfiksie of stories oor vampiere en sulke goed nie. My meisiekind het beslis nie my liefde vir lees geërf nie, vir haar is lees byna soos tande trek. Toe ek dus hoor dat sy AL vier boeke in die Twilight reeks van Stephenie Meyer in minder as ‘n maand deurgelees het, het ek besluit ek moet sien wat is so boeiend aan hierdie stories.

Die enigste boek van Stephenie Meyer wat ek toe onmiddellik in die hande kon kry, was ‘The Host’. Blykbaar het Stephenie hierdie boek reeds in 2008 geskryf en dis maar nou eers wat dit regtig hier bekend begin raak het. Natuurlik as gevolg van haar gewilde Twilight reeks. ‘The Host’ is Stephenie Meyer se eerste sogenaamde volwasse roman. Blykbaar is die Twilight reeks meer vir tieners geskryf, maar sover ek gehoor het, verslind oud en jonk dit. (Ek het dit intussen ook verslind -LOL!)

Omdat dit ‘n wetenskapfiksie verhaal is oor ruimtewesens wat die aarde oorneem, was ek nogal skepties en onseker of ek dit regtig wil lees. Ek lees nie naastenby genoeg na my sin nie, maar besluit toe een Vrydagaand ek wil ‘n slag ‘n lekker boek lees. ‘The Host’ lê toe al ‘n week vir my en loer en ek dink toe ek sal ten minste die eerste hoofstuk lees en as dit ‘n pot strooi is, dan kan ek nog iets anders kies.

Wow, wat ‘n lees ervaring! Nog lank voor die einde van hoofstuk een was ek vasgevang – hoek, lyn en sinker. Die boek is heel naweek orals saam met my – en ek bedoel ORALS. Die Sondagoggend het ek die laaste hoofstuk gelees en ek was sommer mislik omdat die storie klaar is.

‘The Host’ is nie sommer net wetenskapfiksie nie – daar is avontuur, aksie, drama en naelbyt spanning ook. En dis ‘n anderster liefdesverhaal.

Die verhaal gaan oor ruimtewesens wat die aarde oorneem. Wesens bekend as ‘Souls’. Hierdie silwer, wurmagtige kreature kan net regtig lewe binne in ‘n ander wese. ‘n Soul het dus ‘n menseliggaam nodig as gasheer. Die Souls het ongemerk die Aarde infiltreer en hulself binne in mense begin vestig. Teen die tyd wat die mensdom begin agterkom het iets is verkeerd, was dit klaar te laat. ‘n Soul sal die menslike liggaam oorneem en die persoon binne-in doodeenvoudig uitwis, alhoewel hulle daardie persoon se geheue behou. Met die hulp van hierdie geheue, lok hulle dan ander mense en word hele families gou-gou oorgeneem.

Souls is ‘n vreedsame ras en voel dat die mensdom nie die lieflike planeet Aarde verdien nie, aangesien die mense mekaar vermoor en vermink en die aarde vernietig. Souls is ook ‘n hoogs gevorderde spesie wat alle siektes blitsig gesond maak, selfs die aarde se ongeneeslike siektes soos kanker. Verder maak Souls nie oorlog nie, hulle lieg nie, hulle oortree geen wette nie, nie eers ‘n spoedbeperking nie. Alle Souls werk vrywillig in die veld waarin hulle die beste is, daar is geen geldstelsel nie en enige iets wat ‘n Soul nodig het, gaan haal hy doodeenvoudig van die winkelrakke af. In kort, die Aarde is ‘n paradys onder die Souls se beheer.

Daar is egter geen plek meer vir “regte” mense nie. Die Souls het ‘n soort sekuriteitsmag – die Seekers – en hulle soek heeltyd na mense wat nog nie deur ‘n Soul oorgeneem is nie, vang hulle en maak van hulle ook Souls. Alles natuurlik baie ordentlik en vreedsaam, volgens die Souls.

Daar is egter sommige mense wat hulself nie so maklik laat oorneem nie en wat die ou Aarde wil terughê, foute en al. Een van hulle is Melanie Stryder, ‘n rebel wat weier om oor te gee en op vlug is saam met haar broer Jamie en haar minnaar, Jared.

Die stil oorlog is amper verby en daar is bitter min regte mense oor toe Melanie per ongeluk deur die Souls gevang word. Wanderer is ‘n Soul wat byna ‘n soort legende onder haar eie wesens is, omdat sy al op 8 ander planete gebly het – Souls bly gewoonlik nie op meer as 3 planete in hul leeftyd nie. Wanderer word in Melanie se liggaam oorgeplant, maar niemand het rekening gehou met Melanie se wilskrag nie. Melanie is sterk genoeg dat Wanderer dit nie regkry om haar heeltemal uit te wis nie.

Wanderer kan hierdie menslike wese glad nie verstaan nie. In die agt vorige gasheer liggame waarin sy al gebly het, het sy nog nooit met so iets te doen gekry nie. Wanderer se taak is om Melanie se geheime uit te snuffel en dan aan die Seekers oor te dra, sodat hulle die ander rebelle kan opspoor, maar Melanie bou ‘n figuurlike muur om haar geheue en al wat deurkom na Wanderer is Melanie se groot liefde vir Jamie en Jared.

Tot haar skok besef Wanderer dat sy gevoelens vir Jamie en Jared begin ontwikkel, dat sy bekommerd is oor hul veiligheid, na hulle verlang en dat sy simpatie het met Melanie wat vasgevang is in haar eie liggaam en net met haar verstand kan skop en skree en weerstand bied. Dan doen Wanderer die onvergeeflike. Sy vorm ‘n bondgenootskap met Melanie en saam gaan soek hulle vir Jamie en Jared. Melanie vertrou haar nie onmiddellik nie, maar mettertyd bewys Wanderer haarself bo verdenking, nie net aan Melanie nie, maar ook aan ‘n groep menslike rebelle.

Hoe meer Wanderer alle kante van menswees ervaar, hoe meer besef sy dat haar eie mense, die Souls, verkeerd was om hierdie spesie se planeet van hulle af weg te vat. Dit bring haar by die punt waar sy besluit om die hoogste offer te bring.

Ek gaan niks meer van die verhaal weggee nie, behalwe net dat die einde ‘n lekker onverwagte kinkel in het. Lees dit self – dis deur en deur die moeite werd. Dis regtig ‘n onvergeetlike storie oor die volharding van liefde en die kern van menswees.

In die slotparagraaf staan een sin vir my bo alles uit: Daar is nog hoop vir hierdie planeet van ons.

Liefling – die Movie

Ek sal die ys breek met die eerste fliek resensie!

Die film begin met ‘n pragtige weergawe van Kinders van die Wind en ek het in my stoeltjie reggeskuif vir iets besonders, net om in die volgende toneel wreed na die werklikheid teruggeruk te word toe die openingstoneel ‘n eksakte Afrikaanse weergawe is van die openingstoneel van High School Musical 3.

Die storie is niks nuuts nie. Jan aka Bobby van Jaarsveld aka Troy raak verlief op die donkerkop Liefling aka Lika Berning aka Gabriella terwyl die blonde feeks/rykmansdogter Madelein aka Marlee van der Merwe aka Sharpei en haar twee skoothondjievriendinne die wêreld vir almal versuur.

Die akteurs: Bobby van Jaarsveld is al te skattig en pragtig om na te kyk, maar Lika Berning se toneelspel het my nie oortuig nie. Die feeks se sangstem het verras. Tannie Carike het my laat skater met ‘n flitstoneeltjie of twee, maar hulle kon gerus vir ou Skoert Darren uitgelos het.

Die agtergrond: Die Hartbeespoort omgewing waar die verfilming gedoen is is beeldskoon, maar dit was bietjie irriterend dat die regisseur ‘n beeld van Toskaanse straatjies probeer skep het in ‘n Suid-Afrikaanse omgewing met sommige van die liedjies.

Die musiek en choreografie: Daar is ‘n paar liedjies wat werklik mooi is, soos bv. Jakkie Louw en Kevin Leo se weergawe van Voshaarnooi, maar die choreografie is oordrewe en daar was ‘n paar tonele waar ek gedink het: NEE! Jy’s nie ernstig nie!

Sal ek die fliek aanbeveel? Nah…

Verder met Vrede – Barrie Burger

‘Verder met Vrede’ is ‘n boek, ‘n perde storie, ‘n ware verhaal.
Ek was anderdag nie oppad boekwinkel toe nie, toe ek sommer vanself daar inloop, ingetrek deur ‘n onsigbare magneet. Dit is nie vir my iets nuuts nie. Boeke het nog altyd so met my gemaak. Trek my nader, sluk my in. Ek moes al gaan steak koop, dan gaan ek eerder huis toe met maalvleis en ‘n boek.

Dié dag het ek egter in die boekwinkel gestaan met geen idee van hoekom nie en ook geen lus vir boek koop nie. Ja, dit gebeur wel soms. En skielik staan ek met hierdie boek in my hand. ‘Verder met Vrede’. ‘n Boek waarvan ek nog nooit gehoor het nie. ‘n Boek oor die perdeman van die fliek Tornado. Oor sy rit van 40 dae te perd, van die Kalahari na die Kaap.

“Boring”, dink ek, en sit die boek terug op die rak. Maar die boek laat hom nie vertel nie. Toe ek weer sien, is hy terug in my hand en ek oppad na die betaalpunt toe. Ek WEET ek wil nie die boek hê nie, ek WEET ek het nie regtig nou die geld vir die boek nie, ek WEET ek gaan heel waarskynlik doodverveeld wees met die storie en NOOIT die boek klaar lees nie. Maar die boek wil nie hoor nie en maak my betaal en hom huis toe vat.

Die dae het verbygegaan. Op ‘n dag soek ek iets om te lees. Daar is maklik 50 boeke in my rak wat nog wag om gelees te word. Lekker boeke waarna ek al lank uitsien, maar my hand trek vir ‘Vrede’ uit. Ek kyk die boek so en dink, maar bliksem, ek WIL jou NIE lees nie, maar ek maak die boek oop en ek begin lees. En ek kan nie weer ophou nie. 338 bladsye lank sit ek vasgenael. Vir die eerste keer in maande lees ek ‘n boek in een sessie deur. Ek kon nie die boek neersit tot ek die laaste tree saam met Barrie en sy perd gestap het nie.

Dis so ‘n eerlike storie, ‘n sonder tierlantyntjies storie, wat mens diep binnekant kom raak. Dit is Barrie Burger se hartsverhaal, in sy eie manier van praat, oor sy 40-dae lange rit saam met sy geliefde perd, Vrede, van die Kalahari tot in die Kaap. Dis egter nie net ‘n reis te perd nie, maar ook ‘n geestesreis.

Barrie Burger doen al 24 jaar lank sendingwerk in die Kalahari. Hy sal  eenvoudig op ‘n perd klim, ‘n koers inslaan, slaap in die veld waar hy kom en so op sy pad mense vertel van die Woord. Barrie is getroud met Annette en hulle woon op Noenieput in die Kalahari.

Met die bekendmaak van sy plan om Kaap toe te ry per perd, het baie mense vir Barrie ongelowig gevra waar hy dan elke dag kos en slaapplek vir sy perd en homself gaan kry. Soos wat daar elke dag ‘n uitweg kom vir hierdie vraag, dink Barrie

Maar so gaan dit mos. ‘n Ander se spook kom klop aan jou voordeur en as geloof dit oopmaak is daar skielik net niks. Geen spook nie en ook nêrens eens ‘n spoor van dié wat so gretig en bang help klop het nie.

So tipies van dié wat nie ervaar hoe God se hand voorsien waar sy vinger ook al wys nie. Baie presies oor hul bekommerde beplanning vir ‘n ander se môre maar totaal afwesig as die wonder gebeur.

Ek haal ‘n paar stukkies uit die boek aan – stukkies wat my hart geraak het, oor mense se innerlike seer, wat hul soms so alleen moet dra, omdat mense nie meer mekaar se binneste raak sien nie:

Moegword moet ‘n soort gawe wees wat betyds kom sê as genoeg genoeg is. En is die moegheid fisies word dit gou gou opgemerk. Die simptome daarvan spreek immers vir hulself. Want sweet en ‘n gejaagde asem of vinnige hartklop met ‘n liggaamshouding wat van uitputting dalk al lê kan moeilik weggesteek word.

Maar kom lê die moeg in die skadu’s van die mens se binnekant, stap die wêreld ewe maklik en onwetend verby. Selfs sonder om een maal om te kyk. En vind jy nie sommer ‘n skouer vir die swaar van die kakebeen nie. Asof die wêreld om jou net nie ‘n oog vir die binnegoed van die lewe het nie. Waar bloedige oorloë diep spore van ongevraagde pyn op die onsigbare slagveld van die gemoed getrap het. En ‘n stuk Getsémané gelos het waar sweetdruppels van weer probeer soos bloed geword het. In ‘n alleenheid wat net jy ken.

Net jy.

EN

Soos mense ook maar maak. Dra die gistergoed soms vir jare saam terwyl niemand iets daarvan weet nie.

Moet ‘n mens dan op ‘n sekere manier aanmekaargesit wees voordat jou gisters vir jou nog regtig saak maak. Is vandag se besig wees met net môre se hoop dan al wat sin maak in die oneindige gejaag na iets wat op sy beste dalk nie eens beter sal wees nie. Sterf die gistergoed dan as niemand anders daarvan weet of nie meer daaroor praat nie. So asof vandag se toesluit en daarvan vergeet, môre se vrede verseker.

Of dalk is die ver pyn van lank gelede genoeg rede waarom die lewe vir vele maar net om vandag en môre draai. So soek hulle maar liewer iets beter in die toekoms want hul gisters is dan ‘n pyngemors.

EN

Dinge van die hart het mos nie vensters nie. En as daar ‘n deur is, bly die grendels toegesluit. Soms jare lank.

EN LAASTENS

Dis nie ‘n sonde om stukkend te wees nie. Dit het immers ‘n stukkende Verlosser gekos om ‘n stukkende wêreld te genees.

Saam met Barrie word jy een met Vrede en vind jy vrede in jou gemoed en ervaar jy jou Skepper nuut. En leer jy dat om iets van God af te bid, geen waarborg is dat jy dit gaan kry nie, maak nie saak hoe edel jou gebed se bedoeling is nie. En leer jy saam met Barrie om ook daarmee vrede te maak.

Isak Burger, ‘n jare lange vriend van Barrie, sê oor die verhaal: ‘Dit gaan jou hart roer. Soos dit met my gemaak het.’

En ja, inderdaad. Geen mens kan onaangeraak anderkant hierdie storie uitstap nie.

Vrede vir 2011.

Donker Liefde – Anoux Venter

Ek het hierdie boek in ‘n vriendin se huis gesien: Donker Liefde, my verhouding met heroïen – Anoux Venter.

Dit was duidelik dat die boek al deur en deur gelees is.

Ek tel dit op en blaai daardeur en my kop loop ver draaie. Sy kom die vertrek binne en sê: “Jy kan dit kry, vat dit saam en lees dit. Gee dit daarna vir wie jy ookal dink nodig het om dit te moet lees. Ek het dit by L gekry.”

Ek weet L se dogter is dood van ‘n oordosis. Ek wonder wat die boek vir haar vertel het.

Daardie volgende Sondagoggend trek ek die boek nader en begin langtand lees. Ek sit die boek nie weer neer nie, behalwe net om aan te trek. Ek lees selfs terwyl ek eet. Ek lees aaneen, ek lees tot die boek klaar is, al 200 bladsye. Ek dink aan soveel mense vir wie ek graag die boek sou wou gee om te lees. En ek huil omdat ek weet dit kan met enige een van ons se kind gebeur – niemand is te goed opgevoed, te slim, te mooi, te ryk of te wat ook al nie. Dwelms is nie gepla met klas of ras nie.

Anoux Venter skryf oor haar jarelange verslawing aan dwelms en uiteindelik aan heroïen, dodelikste dwelm van almal.

Sy skryf:

“Ek kan aangaan en aangaan oor daardie eerste keer, die emosies en gevoelens was enorm groot. Maar ek moes dit net nooit gedoen het nie, dis die punt. Sommige mense, soos ek, is gemaak om daarvan te hou. Ons persoonlikhede, swakhede, vrese en liggaamselle is eenvoudig gemaak om heroïen te aanbid. En jy sal nooit weet watter mens jy is totdat jy dit probeer het nie, en dan is dit reeds te laat.”

“Waar heroïen die vorige dag nog vir my ‘n aaklige, vieslike ding was, het dit skielik my persoonlikheid versterk, my goed laat voel oor myself. Ek het myself vinnig oortuig dis glad nie so erg as wat die TV en grootmense dit laat klink het nie.

Daardie aand het ek die trickster ontmoet – dis daardie stemmetjie wat jou altyd vertel dat jy okay is, nie verslaaf is nie, dat jy nie werklik steel of lieg of die waarheid vermy nie. Dit laat jou altyd beter voel.”

“Die ontrekkingsimptome het gereelder geword omdat ons geld begin opraak het. Die demoon wat op my siel geteer het, was heeltyd honger, heeltyd op soek.

Ons het Raine se ouers leeggetap. Mooi gevra vir geld, gesmeek, gesteel. Alles gevat wat hulle gehad het. Ek kon soms nie glo wat ek alles gedoen het nie, maar ek het probeer om so min as moontlik daaraan te dink, anders sou ek mal word. Ek het eenvoudig gedoen wat ek moes terwyl ek gesukkel het om dit vir almal weg te steek. As jy siek en seer is en jy het nie ‘n sent op jou naam nie, gee jy nie ‘n hel om van wie jy steel of hoe jy dit doen nie.”

Wanneer Anoux uiteindelik besluit om haar verslawing te verbreek, draai sy naby die dood om voor sy haar lewe weer kan begin opbou.

Elke mens met kinders behoort hierdie boek te lees, en ook dié sonder kinders. Vir die van ons wat al die paadjie gestap het met ‘n kind en dwelms, sny hierdie boek skoon… tot op die been.

Vir die wat nog nie het nie, gaan op jou knieë en sê dankie – elke aand.

‘n Blywende Vreugde – Audrey Blignault

Hierdie boek is al elders ook bespreek, maar ek sal voel asof ek iets onvoltooids laat as ek nie my eie opinie van die boek neerpen nie. Alhoewel ek jare terug heelwat van Audrey se vroeëre bundels gelees het, sal ek moet jok as ek sê ek onthou wanneer laas ek iets van haar gelees het. Ek onthou wel dat ek haar skrywes altyd heluit geniet het, maar dié onthou het eers weer teruggekom toe ek nou hierdie briewebundel van haar begin lees.

Ek het al op ver en vreemde paaie gedwaal met my lesery. Daar is al van my gesê dat ek alles lees waarop ek my hande lê, tot die etikette om blikkieskos! Dis nie te ver van die waarheid nie en omdat ek so alles lees, lees ek soms ook swakker boeke, maar ek het hierdie leesdrif in my wat sal maak dat ek selfs ‘n swak boek probeer klaar lees, eerder as om nie te weet hoe eindig die storie nie.

Toe ek met Audrey se boek in my hand staan in die biblioteek, het ek gewonder of ek regtig lus het om iemand se briewe te lees, maar onverklaarbaar kon ek dit ook nie terugsit op die rak nie. En van die eerste woord af was ek vasgevang en kon ek nie ophou lees nie. Dis vir my eintlik jammer dat die briewe nie kon aanhou tot 2008 nie.

Ek kon nie wag om te lees hoe Audrey die nuwe Suid-Afrika en sy skrywers ervaar het nie en ek is eintlik half teleurgesteld dat daar nie meer van haar briewe is waar sy daaroor skryf nie. Ek het ook lekker gelag toe sy vertel dat sy nie van plan is om ooit ‘n hygroman te lees nie. Dis nogal jammer, ek sou graag haar kommentaar daaroor wou hoor. Toemaar Audrey, ek moet ook nog ‘n hygroman lees!

Haar briewe is vir my ‘n rykdom van aanhalings wat ek neergepen het en altyd wil onthou en van boeke wat sy aanbeveel het, wat ek nou wil gaan soek en lees. Sommiges sal seker al uit druk wees, maar ek is seker dat ek deur haar ‘n hele paar gaan ontdek wat ek ook gaan gate uit geniet om te lees.

Ek wil graag een van haar aanhalings van Rilke hier neerpen. Dis vir my so pragtig verwoord:

“Gedigte is nie, soos mense dink, eenvoudig emosies nie (‘n mens het vroeg genoeg emosies) – gedigte is ervaringe. Ter wille van ‘n enkele gedig moet ‘n mens baie stede, baie mense en baie dinge sien. Jy moet diere begryp, jy moet voel hoe voëls vlieg, en jy moet die gebaar ken waarmee klein blommetjies in die oggend oopgaan. ‘n Mens moet kan terugdink aan paaie in onbekende streke, aan onverwagte ontmoetings en aan ‘n afskeid wat jy lank tevore sien aankom het. Jy moet dae uit jou kindertyd kan herroep, daar waaroor jy nog nie helderheid het nie, aan jou ouers wat jy moes krenk toe hulle jou tog ‘n plesier wou besorg en jy dit nie begryp het nie. Jy moet kan dink aan dae in stil gedempte vertrekke en aan oggende by die see, aan die see veral, aan oseane, aan nagte op reis wat hoog om jou verrys en saam met die sterre verdwyn, en dit is nog nie genoeg wanneer ‘n mens aan al hierdie dinge dink nie.

‘n Mens moet die herinnering hê aan baie liefdesnagte, waarvan nie één soos die ander was nie, aan kermende vroue in barensnood. Maar ook by sterwendes moet ‘n mens gewees het, ‘n mens moet by ‘n dode in ‘n kamer gesit het, in ‘n kamer met ‘n oop raam en die geluide wat in rukkende vlae binnekom.

Dit is ook nie genoeg dat ‘n mens die herinneringe het nie. Eers wanneer die herinneringe bloed word in ons, in die uitdrukking van ons oë, nameloos en nie meer te onderskei van onsself nie – eers dán kan dit gebeur dat in ‘n seer seldsame uur die eerste woord van ‘n vers in ons opstaan en van ons uitgaan.”

Audrey was ‘n mens met ‘n fyn siel, vir my ‘n regte ouwêreldse dame, met ‘n fyn humorsin en ‘n heerlike onnutsigheid aan haar. Die wat haar geken het, is voorwaar bevoorreg.

Vir enigiemand wat die Afrikaanse taal koester en versot is op lees, is Audrey se boeke, en ‘n Blywende Vreugde spesifiek, ‘n absolute noodsaaklikheid om te lees. Ek wil nou weer al haar bundels lees.

Vier briewe vir Jan Ellis – Steve Hofmeyr

Ek het met groot afwagting en verwagting na hierdie boek uitgesien. Ek het nog altyd van Steve se musiek gehou en sy poësie is van die beste. Ek respekteer sy talent as kunstenaar, maar hierdie verskoning van ’n boek was vir my ’n groot teleurstelling.

Ek weet daar is baie wat van my gaan verskil, ek weet daar is selfs diegene wat my sal wil stenig oor my opinie. Hierdie boekie se storie maak weliswaar ‘n impak, maar of dit ‘n boek werd was? Ek glo te min. Dalk ‘n novelle iewers in ‘n literêre tydskrif. Niks meer as dit nie.

Vier briewe vir Jan Ellis is Steve Hofmeyr se prosa debuut. Dis ‘n storietjie oor hoe een gebeurtenis iemand se hele lewensloop drasties kan verander. Ek wil my verstout en waag om te sê dat die storie nooit ’n boekvorm sou gesien het as die skrywer enigiemand anders as Steve Hofmeyr was nie.

Nee wat Steve, ek glo jy kan beter as dit doen. Net soos wat ek nie op die veroordeel-wa geklim het toe jou kaskenades op die lappe gekom het nie, gaan ek beslis nou ook nie op die verheerliking-wa van hierdie askies-tog boekie van jou klim nie.

Skryf vir ons ‘n ordentlike storie, Steve – ek glo jy kan. Of moet ek nie my asem ophou nie?

Chanette Paul – Meetsnoer

Hieronder is ‘n bespreking deur Arien Lubbe. Ek het haar toestemming om dit hier te plaas en hopelik word sy volgende jaar ook ‘n lid van die blog. MC

Net soos die ander Gys-boeke, het Meetsnoer ‘n boeiende begin gehad. Jy wou verder lees. My eerste dagte toe ek wel agterkom waaroor die boek gaan, was dat Chanette baie guts het om so ‘n onderwerp te kies. Ons leef in ‘n wereld waar alles polities korrek moet wees en almal is oorsensitief oor sekere dinge, waarvan geloof een is.

Chanette het dit reggekry om kerk van kult te onderskei. Ek is self ‘n ernstige kerkmens en nooit het ek gevoel Chanette trap op tone nie. Geen geloof is afgekraak nie en daar was niks lasterliks in die boek nie. Inteendeel, dit het juis uitgelig dat God goed is en dat ‘n jy nie jou menslikheid en waardigheid moet prysgee vir geloof nie.

Wat my die meeste getref het van Meetsnoer, is die onmiddellike aantrekkingskrag tussen Raine en Flint. In die vorige boeke was die aantrekkingskrag tussen held en heldin nie so duidelik daar nie. As leser kon jy nie heeltyd vir Flint en sy motiewe vertrou nie, maar jy wou graag. Jy wou he dat Flint en Raine mekaar moet vind en die liefdestoneel tussen hulle het my asem weggeslaan en my tone laat krul.

Die spanwerk tussen Raine en Flint was uitstekend. Flint was heeltyd beskermend teenoor haar, sonder om haar sterk wil in te perk. Mens kan nie help om te dink dat indien die twee sou trou, hulle huwelik ‘n sukses sal wees nie. Wanneer twee mense so saamwerk, het ‘n huwelik nie ‘n keuse as om te werk nie.

Die spanning tussen die helde en die Meetsnoer gemeente was die hele tyd daar. Ek kon nie wag om te sien wat gaan gebeur nie. Met die gevolg dat ek ‘n hele dag by die werk gelees het om net die boek klaar te kry. Ek kon dit nie meer hou nie.

Ek weet nie wat Chanette anders gedoen het in hierdie boek nie, maar dit is haar beste werk sover. (My opinie) Die storielyn is definitief van toepassing op vandag se tye. Kerk, godsdiens en kultus is hier. Die mens was nog van altyd af behep met godsdiens. Meetsnoer bring die skokkende werklikheid dat daar wel mense is wat ander so manipuleer vir eie gewin, baie duidelik tuis.

Die einde van die boek het heelwat verrassings wat jy definitief nie verwag het in die eerste hoofstuk nie. Ek het Meetsnoer geniet en beveel dit ten sterkste aan vir enige een wat lus is vir ‘n spanningsverhaal. Waarskuwing: Nie aan te beveel vir jou manikuur nie. :)