Sanctuary – Nora Roberts

Sanctuary is ‘n heelwat ouer boek wat besonder baie herinner aan haar nuutste, The search. Die storie speel ook af op ‘n idilliese eiland daar iewers naby Florida en ‘n baie creepy stalker is ook daar bedrywig. Dis baie interessant om te sien hoeveel sy die tema in die nuutste boek uitgebrei het. Maar ek hou meer van die ouer boek – waarskynlik omdat die karakters nog ‘n ietsie meer romanties voorgestel word, hoewel hul geensins volmaak is nie. In haar nuutste boeke wil-wil die helde soms aan abusive begin grens, die heldinne is regtig soms so hardekwas dat ‘n mens moeilik kan glo hulle kan so vroulik en sexy tussen die lakens wees!
Die skrywer doen groot moeite om in die obsessiewe moordenaar se kop te klim en sy optrede te motiveer. Hier word dit veral gedoen met fotografie as die tema van sy vaardigheid, sy liefde en sy obsessie daarmee om die volmaakte oomblik op film vas te lê.
Die hoofkarakters word so duidelik geteken dat ‘n mens werklik met hulle kan identifiseer. Sy is ‘n sterk vrou wat haarself te ver gedryf het en gedwing word om skuiling te gaan soek by die enigste veilige hawe wat vir haar oor is – haar disfunksionele familie. Ongelukkig is die sanctuary toe nie so veilig nie … Hy kom terug na die eiland om te probeer verstaan – en te besluit of hy sy verskriklike geheim moet uitlaat. En natuurlik ontmoet hulle twee daar, soos toe hulle kinders was. En stry steeds oor wie nou eintlik destyds vir wie in die rivier gestamp het …
Daar is eintlik drie liefdesverhale inmekaar gestrengel. Aldrie is baie geloofwaardig en al die karakters word pragtig en oortuigend geteken. Maar ai, die seks raak nogal oorweldigend as die leser by drie paartjies se kaperjolle moet probeer byhou!
Die fotografie tema word deurgaans uitstekend gebruik en die besonderhede het nie vir my te veel geword, soos soms in haar boeke gebeur nie.
Die roerendste van die storie was egter vir my die pad van die gesin na herstel. Die rusies, die stadige bewus word van die band wat hulle in werklikheid bind, die sukkelende kommunikasie, die humor, die gedeelde herinneringe, en eindelik die punt waar broer en suster, pa en kind, vir mekaar kan sê: Ek is lief vir jou.
As jy van Roberts se boeke hou – laat waai! Jy sal nie teleurgesteld wees nie.

Padmaker – Christine Barkhuizen le Roux

Op die buiteblad word dit genoem: ‘n Deurleefde, sensitiewe roman oor die komplekse verhouding tussen ouer en kind en die afdruk wat een geslag op ‘n volgende laat.

As sy reg onthou, was dit dieselfde aand dat haar pa vertel het van die ingenieur wat ook ‘n dominee en sosiale werker was, dat hy dié ding gesê het wat sy nou eers verstaan: ‘Liefde is soos ‘n aflosstokkie, my kind. ‘n Mens kan dit nie vorentoe aangee as jy dit nie gekry het nie.”

Twee maande na die verdwyning van haar bejaarde ma besluit Katrien om die paaie van haar kinderjare na te ry. Haar reis neem haar terug na die padkampe waar haar saggeaarde pa, ‘n padskraperoperateur, met sy stories oor die padwerke die lewe vir haar uitgelê het. Daar het haar ma, met haar verbete stryd teen die armoede van die kampe, se probleme begin. Katrien se opsoek van die mense en die plekke wat haar gevorm het, is meer as net ‘n herinneringstog. Dit is ‘n poging om haar ma te verstaan en om haar eie weg vorentoe te vind. Op die oop pad onthou sy weer haar pa se woorde: “Om te weet waarheen jy op pad is, moet ‘n mens onthou waar jy vandaan kom.”

Christine Barkhuizen le Roux is op Vryburg gebore en woon deesdae op ‘n plaas naby Barrydale. Haar debuutdigbundel, dimensie, het in 2000 verskyn. In 2006 het ‘n kortverhaalbundel, Waar koek en wyn ontbreek, en ‘n tweede digbundel, roset, gevolg. Verskeie van haar gedigte is in Nederlandse publikasies en Afrikaanse bloemlesings, onder andere Groot Verseboek, opgeneem. PADMAKER is haar eerste roman.

Die boek was een van dié op my lysie vir 2010 waarby ek nie uitgekom het nie, en gelukkig kon ek dit toe vir Kersfees bestel. Ek het haar kortverhaalbundel ‘n jaar of twee gelede onder oë gehad en hoewel ek nie veel kan onthou nie, onthou ek dat my indruk gunstig was. Vir iemand wat in soveel genres kan skryf, het ek in elk geval groot bewondering. Dat sy talentvol is, is nie te betwyfel nie.

Ek dink Padmaker sal enigiemand aangryp wat belangstel in die verwikkeldheid van menslike verhoudings en sommer van die mens as sulks. Dis nie ‘n prettige storie nie, maar die hartseer en onbegrip tussen mense word gebalanseer deur die krag van die liefde tussen mense wat met bande van bloed gebind word. Ook tussen die dogtertjie en haar moeilike ma (wie se moeilikgeit sy nou ‘n naam kan gee en kan begin verstaan) bly die liefde altyd ten spyte van die onbegrip en wrywing.
Die beskrywing van die SA landskap waardeur sy ry, met die klem op die wonderlike plekname, word aangrypend gedoen. Enigiemand wat die land liefhet, sal aangeraak word daardeur. Ook die mense wat sy op haar reis ontmoet, word in fyn detail beskryf.
‘n Mens kan nie anders as om te wonder tot hoe ‘n mate dit ‘n outobiografiese werk is nie. Die taal is deurgaans pragtig en die hoofkarakters word gebalanseerd beskryf – niemand is net goed of net sleg nie.
Ek beveel die boek beslis aan en ek hoop daar kom nog prosa uit haar pen.

Santa Gamka – Eben Venter

Ek het hierdie boek bloot uitgeneem omdat hy toevallig oop en bloot op die biblioteektrollie gelê het toe ek daar verbykom. Toevallig? Eerder beskikking!
Ek kon nog nooit vat kry aan Eben se werk nie. LW. Ek sê nie sy boeke is swak nie – ek sê ek kon hul nog nie baasraak nie. Ek het nog altyd gedink hy is ‘n ongelooflike skrywer. En nou wéét ek dit.
Lucky Marais is losweg die mees unieke karakter wie se storie ek vanjaar gelees het. En ook dié een wat die diepste in my hart gekruip het. Nee, hy is nie soos enigiemand wat ek al ontmoet het nie. Ja, hy staan baie ver van my beskermde wit middelklaslewetjie af. Maar Eben Venter maak hom absoluut lewend deur sy taal en deur wat hy doen én nie doen nie. ‘n Mens leer vir Lucky verstaan, jy ontwikkel empatie met hom, jy voel vir hom.
Ek dink dis een van ‘n skrywer se heel grootste uitdagings: Om binne-in ‘n karakter wat ligjare van jouself verwyder is, te klim en hom ‘n eie stem te gee. En dis wat Venter hier reggekry het.
Ek gaan hiermee volstaan. (Vir ‘n indringende resensie, kyk gerus by die skakel hieronder. Vir ‘n lekker onderhoud waarin Venter heelwat verklaar oor die boek, kyk by die ander skakel.) As jy kru taal (absoluut funksioneel in die boek volgens my mening)  kan hanteer en jou nie doodskrik vir enigiets seksueel (altyd in baie goeie smaak aangebied in die  boek volgens my mening) nie, sal jy Lucky se storie geniet. En o ja, dit gaan ook effens sukkel as die leser ‘n geswore rassis is …

Lees gerus hierdie resensie op Litnet ook – kennelik deur ‘n kenner geskryf: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=78372&cat_id=558

En hierdie onderhoud: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=85113&cat_id=178

Chanette Paul – Meetsnoer

Hieronder is ‘n bespreking deur Arien Lubbe. Ek het haar toestemming om dit hier te plaas en hopelik word sy volgende jaar ook ‘n lid van die blog. MC

Net soos die ander Gys-boeke, het Meetsnoer ‘n boeiende begin gehad. Jy wou verder lees. My eerste dagte toe ek wel agterkom waaroor die boek gaan, was dat Chanette baie guts het om so ‘n onderwerp te kies. Ons leef in ‘n wereld waar alles polities korrek moet wees en almal is oorsensitief oor sekere dinge, waarvan geloof een is.

Chanette het dit reggekry om kerk van kult te onderskei. Ek is self ‘n ernstige kerkmens en nooit het ek gevoel Chanette trap op tone nie. Geen geloof is afgekraak nie en daar was niks lasterliks in die boek nie. Inteendeel, dit het juis uitgelig dat God goed is en dat ‘n jy nie jou menslikheid en waardigheid moet prysgee vir geloof nie.

Wat my die meeste getref het van Meetsnoer, is die onmiddellike aantrekkingskrag tussen Raine en Flint. In die vorige boeke was die aantrekkingskrag tussen held en heldin nie so duidelik daar nie. As leser kon jy nie heeltyd vir Flint en sy motiewe vertrou nie, maar jy wou graag. Jy wou he dat Flint en Raine mekaar moet vind en die liefdestoneel tussen hulle het my asem weggeslaan en my tone laat krul.

Die spanwerk tussen Raine en Flint was uitstekend. Flint was heeltyd beskermend teenoor haar, sonder om haar sterk wil in te perk. Mens kan nie help om te dink dat indien die twee sou trou, hulle huwelik ‘n sukses sal wees nie. Wanneer twee mense so saamwerk, het ‘n huwelik nie ‘n keuse as om te werk nie.

Die spanning tussen die helde en die Meetsnoer gemeente was die hele tyd daar. Ek kon nie wag om te sien wat gaan gebeur nie. Met die gevolg dat ek ‘n hele dag by die werk gelees het om net die boek klaar te kry. Ek kon dit nie meer hou nie.

Ek weet nie wat Chanette anders gedoen het in hierdie boek nie, maar dit is haar beste werk sover. (My opinie) Die storielyn is definitief van toepassing op vandag se tye. Kerk, godsdiens en kultus is hier. Die mens was nog van altyd af behep met godsdiens. Meetsnoer bring die skokkende werklikheid dat daar wel mense is wat ander so manipuleer vir eie gewin, baie duidelik tuis.

Die einde van die boek het heelwat verrassings wat jy definitief nie verwag het in die eerste hoofstuk nie. Ek het Meetsnoer geniet en beveel dit ten sterkste aan vir enige een wat lus is vir ‘n spanningsverhaal. Waarskuwing: Nie aan te beveel vir jou manikuur nie. :)

Marion Erskine – Oos

Die Verre-Ooste is die verste wat jy van SA kan wegkom – dit is wat Louis van Jaarsveld ook agterkom toe hy in Taiwan begin skoolhou. Dit is die vreemdste taal en kultuur denkbaar, en daarby is daar ook nog die meisies wat op ‘n baie eienaardige manier betelneute verkoop, die stinkende tofu, hurktoilette, tifone … Met 23 miljoen mense saamgehok op ‘n eilandjie is Louis so ver moontlik van sy gemaksones, maar ook van die spoke van sy verlede. In die vreemde maak Louis besondere vriende, leer die waarde van lojaliteit ken, en vind uiteindelik die groot liefde van sy lewe. Maar hy besef ook dat van die vreemdste plekke in sy eie hart is, en dat hy nie vir ewig daarvan kan weghardloop nie. In die vreemde leer hy hoe om huis toe te kom. Marion Erskine se debuut is ‘n aangrypende uitbeelding van ‘n Suid-Afrikaner se ervaring in Taiwan. Dit is ook ‘n uitbundige viering van die lewe en sy ingewikkeldhede, die liefde en veral vriendskap.

Ek het die boek bloot toevallig raakgevat op die trollie in die biblioteek en dit tamelik langtand aangepak. Dit lees dan aanvanklik ook nie lekker nie en die Oosterse letters en die blokkies wat sy e-posse aandui, het my aan die begin gepla. Die skryfstyl is vir my ook nie gemaklik nie, maar hou tog nou verband met hoe jongmense praat en het na ‘n rukkie nie meer so gepla nie. Op die ou end kon ek die boek nie neersit nie en moes in een sessie deurdruk einde toe. Daar is baie klein dingetjies om te kritiseer, maar eintlik is dit ‘n aangrypende storie wat vir ons almal lig kan werp op die internasionele bestaan wat baie SA jongmense ook vandag voer, van die keuses, die vreugdes en die vriendskappe wat daardie lewe meebring. Die boek was dus vir my ‘n aangename verrassing en leer my weer eens om nie ‘n boek volgens sy voorblad te beoordeel nie.

Verbeelde werklikheid – Eleanor Baker

Almal wat my goed ken, weet ek is mal oor Eleanor Baker se boeke. En dat Weerkaatsings my absolute gunsteling is – een van daardie boeke wat ek elke paar jaar nog ‘n keer herlees. En dit bly steeds onverstaanbaar hoekom so ‘n talentvolle skrywer so vroeg moes sterf. Verbeelde werklikheid is een van haar latere boeke en ‘n boeiende ineenstrengeling van die hoofkarakter (‘n skrywer van liefdesverhale) se eie storie en dié van die hoofkarakters in haar boek. Baker se gewone sober skryfstyl en subtiele humor is daar; haar gewone realisme gemeng met die broodnodige romantiek wat die lewe leefbaar maak. Die liefdesverhaal is roerend mooi, en die sloer van ‘n lankgetroude lewe word met pynlike realisme daarteenoor geteken. En albei vroue kom sterker anderkant uit. Na al die jare bly die voorblad egter vir my verskriklik lelik en ek kry nie die dieper betekenis daarvan raakgesien nie. Ek is seker daar is ‘n storie agter die storie, want die skilder het dieselfde van as die hoofkarakter (en dus haar oorlede man, wat nie ‘n mooi karakter is nie …)
As jy een van die mense is wat graag weer wil Afrikaans lees, maar nie so lekker weet waar om te begin nie – beproef gerus hierdie boek.