Marion Erskine – Oos

Die Verre-Ooste is die verste wat jy van SA kan wegkom – dit is wat Louis van Jaarsveld ook agterkom toe hy in Taiwan begin skoolhou. Dit is die vreemdste taal en kultuur denkbaar, en daarby is daar ook nog die meisies wat op ‘n baie eienaardige manier betelneute verkoop, die stinkende tofu, hurktoilette, tifone … Met 23 miljoen mense saamgehok op ‘n eilandjie is Louis so ver moontlik van sy gemaksones, maar ook van die spoke van sy verlede. In die vreemde maak Louis besondere vriende, leer die waarde van lojaliteit ken, en vind uiteindelik die groot liefde van sy lewe. Maar hy besef ook dat van die vreemdste plekke in sy eie hart is, en dat hy nie vir ewig daarvan kan weghardloop nie. In die vreemde leer hy hoe om huis toe te kom. Marion Erskine se debuut is ‘n aangrypende uitbeelding van ‘n Suid-Afrikaner se ervaring in Taiwan. Dit is ook ‘n uitbundige viering van die lewe en sy ingewikkeldhede, die liefde en veral vriendskap.

Ek het die boek bloot toevallig raakgevat op die trollie in die biblioteek en dit tamelik langtand aangepak. Dit lees dan aanvanklik ook nie lekker nie en die Oosterse letters en die blokkies wat sy e-posse aandui, het my aan die begin gepla. Die skryfstyl is vir my ook nie gemaklik nie, maar hou tog nou verband met hoe jongmense praat en het na ‘n rukkie nie meer so gepla nie. Op die ou end kon ek die boek nie neersit nie en moes in een sessie deurdruk einde toe. Daar is baie klein dingetjies om te kritiseer, maar eintlik is dit ‘n aangrypende storie wat vir ons almal lig kan werp op die internasionele bestaan wat baie SA jongmense ook vandag voer, van die keuses, die vreugdes en die vriendskappe wat daardie lewe meebring. Die boek was dus vir my ‘n aangename verrassing en leer my weer eens om nie ‘n boek volgens sy voorblad te beoordeel nie.

Verbeelde werklikheid – Eleanor Baker

Almal wat my goed ken, weet ek is mal oor Eleanor Baker se boeke. En dat Weerkaatsings my absolute gunsteling is – een van daardie boeke wat ek elke paar jaar nog ‘n keer herlees. En dit bly steeds onverstaanbaar hoekom so ‘n talentvolle skrywer so vroeg moes sterf. Verbeelde werklikheid is een van haar latere boeke en ‘n boeiende ineenstrengeling van die hoofkarakter (‘n skrywer van liefdesverhale) se eie storie en dié van die hoofkarakters in haar boek. Baker se gewone sober skryfstyl en subtiele humor is daar; haar gewone realisme gemeng met die broodnodige romantiek wat die lewe leefbaar maak. Die liefdesverhaal is roerend mooi, en die sloer van ‘n lankgetroude lewe word met pynlike realisme daarteenoor geteken. En albei vroue kom sterker anderkant uit. Na al die jare bly die voorblad egter vir my verskriklik lelik en ek kry nie die dieper betekenis daarvan raakgesien nie. Ek is seker daar is ‘n storie agter die storie, want die skilder het dieselfde van as die hoofkarakter (en dus haar oorlede man, wat nie ‘n mooi karakter is nie …)
As jy een van die mense is wat graag weer wil Afrikaans lees, maar nie so lekker weet waar om te begin nie – beproef gerus hierdie boek.